Van Coke gesels oor sterflikheid en ‘Kanniedood’

Die Bellville-rockkunstenaar Francois van Coke en sy musiekgroep, Die Gevaar, het die gewoonlik rustige Jan Marais Natuurreservaat Woensdagaand, 12 Oktober, laat bewe met ’n wilde Toyota US Woordfees-optrede. 

Die Gevaar

Die Gevaar het Woensdagaand, 12 Oktober, vir Afrikaanse rockkunstenaar Francois van Coke by die Toyota US Woordfees begelei. Hulle het, volgens Van Coke, ook bygedra tot die skryf van die liedjies van sy nuwe album, Kanniedood.

“Ek is baie opgewonde om vir die eerste keer van hierdie songs in die Wes-Kaap te speel,” het Van Coke gesê. “Gelukkig het ons dit al op ander plekke in die land gespeel. So, ons het ’n bietjie opgewarm en reggemaak vir Stellenbosch.”

Van links na regs: Jedd Kossew, Dolf Willemse, Sheldon Yoko, Francois van Coke en Richard Onraet. FOTO: Karla van der Merwe

Die optrede het gedien as ’n bekendstelling van Van Coke se vierde album, Kanniedood, wat hy in September vanjaar vrygestel het. Tesame met Die Gevaar, het Van Coke ook vir Tasché Burger en Hunter Kennedy op die verhoog gehad om ’n mengsel van ou en nuwe liedjies vir die gehoor te sing.

  • Richard
  • Jedd
  • Hunter
  • Tasché

 Die Afrikaanse rocker Francois van Coke is Woensdagaand, 12 Oktober, by die Toyota US Woordfees op die verhoog vergesel deur lede van Die Gevaar, insluitend Richard Onraet (foto 1) en Jedd Kossew (foto 2). Hy het ook vir Hunter Kennedy (foto 3) en Tasché Burger (foto 4) genooi om saam met hom op te tree.  FOTO’S: Karla van der Merwe

Nuwe snitte van Kanniedood, soos “SOS”, “Nie Alleen Nie” en “Rus in Vrede” is afgewissel met gehoorgunstelinge soos “Komma”, “Die Wêreld is Mal” en “Dagdrome in Suburbia”. 

Volgens Danie Marais, die Woordfees-mediabeampte en digitale inhoudsbestuurder, het hulle 358 kaartjies vir die optrede verkoop.

Dagdrome in die Boland

  • Van Coke
  • Van Coke

 “Ek dink die bevredigendste deel van my album maak is om hom te luister as hy klaar is,” het Francois van Coke oor die skep van sy nuwe album, Kanniedood, gesê. “Ek dink die hele proses is vir my cool, om iets te maak uit niks uit nie, maar as dit klaar is en jy kan daarna luister […] en dit beteken vir jou baie en hopelik vind ander mense ook aanklank daarby. Dit maak dit selfs beter.” FOTO’S: Karla van der Merwe

“Ek is nou al jare betrokke by Woordfees en dit is cool om ’n platform te hê waar ek my musiek kan ten toon stel. Ek is baie bly om dit weer hierdie jaar te kan doen,” het Van Coke aan MatieMedia gesê. 

Wat Woordfees-optredes betref, het Van Coke gesê dat sy optrede by dié fees in 2020 vir hom hoogtepunt is. Dié optrede, wat hulle Dagdrome in die Boland genoem het, was vir Van Coke soos ’n “klein Francois van Coke en Vriende-show”. Hy skryf hierdie gevoel toe aan optredes wat hy met verskeie ander kunstenaars gedeel het. Hoewel daar al sprake van Covid-19 was, kon hy steeds daardie laaste optrede beleef voor die grendelstaat ingeskop het, het hy vertel.

Van Coke

 Die Eikestad speel al sedert 2004 vir Afrikaanse rocker Francois van Coke verhoog. “Die gehore het al alles gesien: Van [optredes] binne die Mystic Boer en wilde sweterige shows in Aandklas, [tot] klein teater-shows [en] groter shows by Coetzenburg,” het hy aan MatieMedia gesê. “Ek het al klomp verskillende gehore gesien in Stellenbosch en ek is altyd bly om in ’n studentedorp te kan speel. Die parties is altyd groot en dis lekker om ’n bietjie daarvan deel te kan wees.” FOTO: Karla van der Merwe

“Dit was ’n fantastiese herinnering, jy weet, om in daai tyd van Covid-19 daai show te kan onthou as een van die laastes voor die pandemie ons getref het,” het hy gesê. 

Memento Mori

“’Kanniedood’ as ’n titel verwys na deursettingsvermoë en ek dink dis iets wat ons nodig gehad het om te oorleef die laaste twee jaar,” het Van Coke verduidelik. “Dit gaan ook ’n bietjie verder vir my, want in hierdie tyd, die laaste twee jaar, het [dit] gevoel [asof] sterflikheid baie meer tasbaar is.”

  • Van Coke
  • Van Coke
  • Van Coke
  • Van Coke

Wat Kanniedood anders maak as sy vorige albums, is die verskeidenheid invloede wat in die temas en lirieke ingewerk is, het Francois van Coke aan MatieMedia verduidelik. Na sy seun se geboorte in 2020 het hy baie tyd saam met hom spandeer terwyl hy na oudioboeke geluister het. Die musiekgroep Bad Religion se oudioboek het hom laat terugkeer na die ou punk-invloede wat in hulle musiek teenwoordig was.

“Daai album van Bad Religion, Stranger than Fiction, luister ek al van 1994 af tot vandag toe ten minste ’n paar keer ’n jaar. En ek dink die ou punk invloed [op die Kanniedood-album] was nogal groot, en nuwe pop stuff soos The Weeknd en Post Malone,” het Van Coke vertel. FOTO’S: Karla van der Merwe

Tydens die Covid-19-pandemie het baie mense, Van Coke inkluis, vriende en familie verloor wat hom laat voel het dat sterflikheid baie nader aan hom was as voor die pandemie. Gevolglik is sterflikheid ’n groot tema in die album, tesame met “baie filosofie oor die hiernamaals [en] aanvaarding van middeljarigheid”, volgens Van Coke.

“Die album is vir my soos my momento mori, my herinnering dat die dood onvermydelik is en dat dit nodig is om te lewe tot jou volle potensiaal vir die mense rondom jou,” het hy vertel. “Om lief te wees vir die mense so hard as wat jy kan en [om] alles in te sit terwyl jy hier is.”

, , , , , , ,