Early B-vertoning plaas kollig op Afrikaanse rymklets

“Die feit dat ek myself kan express en die feit dat ek kan sien hoe [die gehoor] hulself geniet – daai is waar ek my satisfaction vandaan kry.” 

Só het Earl Swartz, beter bekend as die Oos-Kaapse rymkletser Early B, aan MatieMedia voor sy optrede Dinsdagaand by die Jan Marais Natuurreservaat op Stellenbosch gesê. Sy optrede was deel van vanjaar se Toyota US Woordfees.

Justin Vega, ’n musiekvervaardiger, het Early B se musiek voorsien. Early B is gedurende die optrede ook deur mede-rymkletsers Michail Prince (Miss Understood) en Riaan Scholtz (Mr. Heinz) op die verhoog vergesel.

Earl Swartz, bekend as Early B, is oorspronklik van Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Swartz het Dinsdagaand by die Toyota US Woordfees 2022 opgetree. FOTO: Joel Ontong

‘n Ander man as jou spieël

“Die feit dat Woordfees ons ’n veld gegee het om te doen wat ons doen; that is another level,” het Swartz aan MatieMedia gesê. 

Amerikaanse rymkletsers soos The Notorious B.I.G., het hom aanvanklik inspireer, omdat dit sy eerste blootstelling aan hip-hop musiek was, het Swartz verduidelik. Sy belangstelling in hip-hop het ontstaan nadat hy sy neef se kasset met hip-hop musiek op ontdek het en daarna geluister het, het hy verduidelik.

Soos hierdie rymkletsers, wou Swartz ook oor sy eie konteks skryf, het hy gesê. Alles waaroor hy skryf is óf op iemand anders se ervaringe, óf op sy eie ervaringe gebaseer, het hy vertel. 

Hy probeer altyd skryf oor iets “relatable”, het hy gesê oor sy rymklets-styl. “My pa het altyd gesê, ‘Vat ’n ander man as jou spieël’. ’n Ander persoon se ervarings kan jou iets leer. Waar hy skeef trap, trap jy reg, en waar hy reg trap, trap jy beter.”

Tesame met Early B (links), het die musikante Justin Vega, Miss Understood (middel) en Mr Heinz (regs) ook opgetree by die Jan Marais Natuurreservaat op 11 Oktober as deel van die Toyota US Woordfees 2022. Vega was Early B se platejoggie vir die aand en het ook saam met Early B gerymklets op twee liedjies. Miss Understood en Mr Heinz was Early B se spesiale gaste vir die aand. FOTO: Joel Ontong

Van verbeelding en konteks

Volgens Scholtz, skryf hy ook soos Swart vanuit sy eie konteks. Hy verduidelik dat hy graag met sy musiek ’n positiewe invloed op jongmense se keuses wil hê. “Jou storie kan ’n ander persoon se lewe verander,” het hy bygevoeg. “Jou keuses bepaal jou bestemming.”

Teenoor Swartz en Scholtz, wat skryf oor hulle eie werklikhede, verkies Prince om eerder op haar verbeelding staat te maak vir haar musiek, het sy aan MatieMedia gesê. Sy beskryf haar musiek as “verbeeldingryk”. Sy het genoem dat sy wel opgelet het dat, wanneer sy oor ware ervaringe skryf, dit meer “vatbaar” vir haar gehoor is.

Sy het vertel dat haar liefde vir lees haar aangespoor het om met woorde te speel en om self te begin skryf. “Agterna toe sien ek [dat ek] actually ’n storie kan vertel deur my woorde,” het sy bygevoeg. Sy het agterkom dat sy ook ander mense se stories kan vertel. “En nou is ek hierso saam met Earl.”

Die drie rymkletsers was almal voor die tyd opgewonde oor die optrede en was geëerd om te kan deelneem aan vanjaar se Woordfees, het hulle aan MatieMedia gesê. 

“Ek gaan [die gehoor se] biscuit skud laat die krummels spat, om dit mooi te sit, maar ook ’n mooi boodskap los,” het Swartz gesê.

Van die liedjies wat Early B tydens sy optrede op 11 Oktober gesing het, was “Ben Ten”, “Leka Djy” en “Dakskroef”. FOTO: Joel Ontong