Teater: Atropa: Die wraak van vrede
11 Oktober 2026
Open Window

Anna-Mart van der Merwe as Klutaimnestra en Carla Smith as Ifigeneia in Tom Lanoye se Atropa: Die wraak van vrede. FOTO: Hans van der Veen
Wat is die prys van vrede? Tom Lanoye se Atropa: Die wraak van vrede vra uiteindelik die vraag wat sedert die Trojaanse oorlog die slagveld nasweef – op watter punt is genoeg, genoeg?
Onder regie van Marthinus Basson tree Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Roeline Daneel en Carla Smith binne Lanoye se verwerking van die Griekse dramaturg Euripides se teks, Die vroue van Troje uit 414 v.C. binne. Nadat Helena (Rolanda Marais) haar hart na Troje volg en haar familie in skande bring, besluit Agamemnon (Geon Nel) hy moet wraak neem in haar eer en die Griekse vloot na Troje lei.
Die wind wil egter nie waai nie, en Ifigeneia (Carla Smith), die dogter van Agamemnon en Klutaimnestra (Anna-Mart van der Merwe) moet as offerande aan die gode sterf om die seile te lig. Wat volg, is ’n dekade-lange wreedaardige oorlog wat Troje en die Trojaanse kultuur in puin en bloed laat.
Die vroue van die Trojaanse koningshuis word ook gevange geneem, verneder en verkrag. Hekuba (Antoinette Kellermann), die koningin van Troje, dra die lyding van die vroue en moeders wat onder die bloeddorstigheid van die soldate ly. Dit word ook in Kellerman se veeljassige kleed uitgebeeld word.
Die vroue van Atropa beeld nie net die seer kringloop van wraak en oorlog met ongelooflike oortuiging uit nie, maar ook van vrouwees. Hulle spel dra die pyn én vreugde van moederskap en maagdheid, en die krag wat dit neem om te volhard as die wêreld om jou vergaan. Teenoor hulle speel Nel Agamemnon met die onwrikbare selfvertroue van die held wat glo dat oorlog die enigste oplossing is.
Die paradoks van vrede is dat dit verower moet word. Atropa is ’n ou verhaal wat steeds tot die seer van die hede spreek – dat dit die moeders en vroue is wat die duur prys van oorlog betaal. Oor millennia heen maak mans en hul oorloë martelare van die onskuldigstes. Kinders sterf onder die illusie van vrede en vroue dra swaar aan die geweld wat faam aan mans met té veel mag bring.
Vroue word dikwels in die wreedheid van die geskiedenis vergeet, terwyl mans se name in die boeke neergepen word. Atropa herinner ons wat die prys van klaarblyklike vrede régtig is.
