RESENSIE: Alles wat rooi is in Net Ons

Die eerste oomblikke van die kortfilm Net Ons is in rooi getooi. Hoofkarakters Angel en Lorenzo ontmoet om elkeen se besittings vir mekaar terug te gee nadat hulle uitgemaak het. In Angel se hand is ’n rooi roomys wat sy oplig na haar helderrooi lippe. Op die promenade lê ’n man dood. Sy nek is vol bloed. Hiérdie is meer as net ’n liefdesverhaal. 

Dié 26-minuut kortfilm is op 13 Oktober in die Neelsie-teater vertoon as deel van die Toyota US Woordfees se Neelsie Cinema Filmfees. Die film se temas wissel tussen verlore liefde, terugeiening en selfs die bonatuurlike. Angel en Lorenzo is nie net gewese minnaars nie, maar ook skadu-kruipende vampiere in dié komplekse film wat nie die gehoor met ’n lepel voer nie.

Die kortfilm Net Ons is onlangs in die Neelsie Cinema vertoon as deel van Toyota US Woordfees se Neelsie Cinema Filmfees. Die film is deur Dominique Jossie vervaardig en deur Nadine Angel Cloete geskryf. Cloete was ook die regisseur. FOTO: Connor Cogill

Tussen skaduwees

Die storie word deur die lens van vampirisme vertel om, onder meer, ’n liefde voor te stel wat vir ewig kan hou, het Nadine Angel Cloete, regisseur en draaiboekskrywer van die film, aan MatieMedia vertel.

Cloete het verduidelik dat sy verder juis vampiere gekies het weens die verskeidenheid konnotasies wat aan hulle verbind word. “Een ding van vampiere is dat hulle in die skaduwees moet leef,” het Cloete gesê. “As mense van kleur in die stad moet ons [ook] steeds binne die skaduwees bestaan.”

Die tema van geskiedenis word gedurende die halfuur tussen beide Lorenzo en Angel, en tussen Kaapstad en mense van kleur, baie prominent uitgebeeld. Die film speel byvoorbeeld hoofsaaklik op ’n strand af; ’n plek ryk aan geskiedenis vir mense van kleur in Suid-Afrika.

“Om saam met hulle te werk, dit het gevoel asof ons energie [en] idees uitruil, en ek het so ’n fantastiese ervaring met hulle gehad,” het Nadine Angel Cloete, die draaiboekskrywer en regisseur van Net Ons, gesê oor haar ervaring met die kortfilm se hoofakteurs, Cantona James en Crystal-Donna Roberts. FOTO: Verskaf/Lindsay Appolis

Poësie in die sand

Die film se dialoog bestaan uit aangepaste poësie van bekende Suid-Afrikaanse digters Ronelda Kamfer en Diana Ferrus en word oortuigend deur die hoofakteurs Crystal-Donna Roberts en Cantona James gelewer.

“In Suid-Afrika het ons soveel wonderlike poësie en ons kan regtig baie meer daarmee rondspeel,” het Cloete gesê.

Die gebruik van poësie in die dialoog bied voor- en nadele. Soms maak dit die film moeiliker om te volg en ander kere illustreer dit Cloete as skrywer se vermoë om die gewone te ondermyn. Ferrus se gedig oor Sarah Baartman, I’ve come to take you home, word byvoorbeeld romanties voorgedra deur die hoofkarakters.

Net Ons is onlangs vir ’n toekenning in die kategorie vir beste kortfilm by die Sotambe-rolprentfees in Zambië genomineer. “Ek dink om in ’n ander Afrika-land genomineer te word… Dit is net so opwindend,” het Nadine Angel Cloete, Net Ons se draaiboekskrywer en regisseur, gesê. FOTO: Verskaf/Lindsay Appolis

Byt vas

Wanneer die ambisie waarmee die kortfilm sy onderwerpe aanpak teen die beperkende looptyd gemeet word, trap dit effens skeef. Terwyl Lorenzo en Angel in duisternis op die afgeslote strand bymekaarkom, is die veronderstelde boodskap dat hulle, as wesens wat gewoonlik in die skaduwees kruip, die ruimte terugeien. Dié boodskap raak egter maklik verlore in die heen-en-weer-romanse tussen die karakters.

Oor die algemeen is die film die kyk werd en moet dit nie weens sy lengte onderskat word nie. Die film laat baie ruimte vir interpretasie en persoonlike voor- of afkeur.

, , , , , ,