RESENSIE: Schalk sing toe nié so sleg nie

Schalk Bezuidenhout het sy vreeslose en vlymskerp sin vir humor na die Daisy Jones Bar in Stellenbosch gebring tydens sy komedie by vanjaar se Toyota Universiteit Stellenbosch Woordfees

Die inhoud van Schalk sing sleg! weerspieël presies wat Afrikaanse komedie kan wees — lig en laf.

Kom vir die komedie

“Die show het ons só geskryf dat dit glad nie polities is of gemik om mense se opinies te verander nie,” het Bezuidenhout aan MatieMedia gesê. “Ons show is regtig net ’n goed-voel show.”

Volgens Schalk Bezuidenhout het hy die idee vir sy komedie Schalk sing sleg! by komediant en akteur Adam Sandler se komedie op Netflix, 100% Fresh, gekry. “Dit was net so lig en laf en ek was mal daaroor,” het Bezuidenhout gesê. FOTO: Karla de Bod

Wesley van der Westhuizen, musikant en musiek vervaardiger, het Bezuidenhout op sleutelbord en kitaar begelei, terwyl die komediant oorspronklike liedjies oor die Suid-Afrikaanse kultuur en samelewing gesing het. Nietemin: Van der Westhuizen was die meer musikaal aangelegde lid in dié tweeman-span. 

“Die punt van die show is nie mooi musiek nie — jy kom nie vir mooi musiek nie, jy kom vir die komedie,” het Bezuidenhout gesê.

En dít is presies wat gaste gekry het: skreeusnaakse, Afrikaanse komedie.

Skaterlag in Afrikaans

Volgens Bezuidenhout is daar iets spesifiek wat hy van Afrikaanse mense waardeer: Hulle kan vir hulself lag. 

“[Afrikaanse mense] is nie liggeraak nie. Ons kan ’n grap vat en het net só ’n lekker sin vir humor; dit maak nie saak hoe sleg dit gaan nie,” het hy gesê.

Snorre, eerste liefde, diversiteit, seks, veganisme, studentesake en “KykNet-tannies” was net ’n paar van die onderwerpe waaroor Schalk Bezuidenhout tydens sy komedie, Schalk sing sleg!, gesing het. FOTO: Karla de Bod

Bezuidenhout het in sy liedjies onder meer geskerts oor historiese Afrikaanse tendense, geloof, seks, studentesake en “KykNet-tannies”.

Bezuidenhout se ietwat vuil van aard liedjies oor dié onderwerpe mag dalk die konserwatiewe Afrikaans-persoon in hulle stoel laat wegsink.

Stand-up hou ’n spieël op tot die samelewing wat ’n toneel of TV-reeks nie noodwendig altyd doen nie,” het Bezuidenhout gesê. 

Lewe ná die lag

Bezuidenhout het aan MatieMedia gesê hy hoop dat sy grappe ná die vertoning steeds sal voortleef. “Dit wys die show hou aan lewe. Dit is nie net mense klap hande en daar sterf die show nie; [die grappe] het half ’n lewe na die live optrede,” het hy gesê.

“Ek is baie trots op die show en ek sal vir enige iemand met totale selfvertroue sê dat as hulle dit nie geniet nie, sal ek vir hulle hulle geld terug gee, want dit is hoe baie ek glo in die show,” het Schalk Bezuidenhout oor sy komedie, Schalk sing sleg!, gesê. FOTO: Karla de Bod

Bezuidenhout, wat die vertoning kaalbolyf met ’n mondfluitjie en sy eie weergawe van ’n Spoegwolf-liedjie geëindig het, kan van een ding seker wees: Hy mag dalk sleg sing, maar hy kan ’n goeie grap of twee vertel.

, , , , ,