Woordfees kry die horries

“Elke drinker het ’n horrie, ’n geheime agent wat die oggend na ’n groot aand verskyn om vir jou die horries te gee, sodat jy kan ophou drink.”

Só beskryf vervaardiger Corné Koegelenberg die kortfilm, Die Horries, wat tydens vanjaar se Toyota Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees in die Neelsie-teater vertoon is. 

Augusta Zietsman en Schalk Bezuidenhout is die twee hoofkarakters in die kortfilm, Die Horries, wat tydens vanjaar se Toyota Universiteit Stellenbosch Woordfees by die Neelsie-teater vertoon is. FOTO: Verskaf/Woordfees

In dié kortfilm word daar aan elke mens ’n “horrie” aangewys wat ’n gegewe persoon moet oppas. Wanneer ’n horrie se mens te diep in die bottel gekyk het, kom gee hulle horrie die volgende oggend vir hulle ’n ernstige lesing. Eers wanneer hulle mense ophou alkohol drink, kan die horries rus.

“Dié storie gaan oor een so ’n werkverslaafde horrie wat haar werk verloor, omdat haar drinker op 26 ophou drink het. Nou sal sy enige iets probeer om haar werk terug te kry,” het Koegelenberg vertel. As ’n horrie se mens ophou alkohol drink, kan die horrie aftree. 

Bibi Slippers, regisseur van die kortfilm Die Horries, beskryf die proses om die kortfilm te vervaardig as ’n uitgerekte proses as gevolg van Covid-19. Sy en Corné Koegelenberg, die kortfilm se vervaardiger, het die konsep in 2020 vir die Silwerskermfees ingeskryf. “Daardie jaar is die fees en die verfilming van die kortfilms deur Covid-19 gekortwiek,” het sy gesê. “Ons het dus baie tyd gehad om weer en weer en weer aan die teks te herskryf en te verfyn, wat wonderlik was.” FOTO: Dominique Fuchs

Agter die silwer skerm

Die kortfilm is tydens vanjaar se Silwerskermfees in Kampsbaai vrygestel, amper ’n jaar nadat dit geskiet is, volgens Regardt Visser, redigeerder van Die Horries.

“Ons het dit in April 2021 geskiet oor ’n baie tight drie en ’n half dae,” het Visser gesê. Hy het die Silwerskermtoekenning vir die beste kortfilmredigering van Die Horries gewen. 

“Hoe meer ek daaraan dink, voel ek hierdie is ’n relevante film vir alle Stellenbosch-studente,” het Visser gesê. “Dis soos die Matrix headquarters waar jou horrie jou teister sodat jy ophou drink, maar as jou horrie so baie van hulle werk hou, gaan hul jou dalk weer wil laat drink.”

In hierdie foto wag die gehoor by die Neelsie-teater om Die Horries te kyk. “Die kortfilm is vroeër vanjaar by die Silwerskermfees vrygestel, en die ontvangs was baie warm,” het Bibi Slippers, regisseur van die kortfilm Die Horries, vertel. “Dit was heerlik om die fliek op so ’n reuse skerm te sien. Ons is vir drie Silwerskerm-toekennings benoem.” FOTO: Dominique Fuchs

Vele hande

Die proses om Die Horries die lig te laat sien, was “wild”, het Visser gesê. “Begrotings is knap en die tyd is min, maar dis die kompetisie-ervaring wat dit so spesiaal maak,” het hy gesê. 

Volgens Visser is dit “absurd” om te dink dat ’n groep vreemdelinge wat mekaar skaars ken, die oggend sesuur op stel ontmoet en binne ’n uur moet almal soos ’n geoliede masjien saamwerk. “Na ’n paar dae is julle ’n familie en almal moet aanbeweeg na die volgende projek,” het hy vertel. Net die film bly dan oor as bewys, het hy bygevoeg.

Bibi Slippers, regisseur van Die Horries, het vertel dat die verfilming vir haar ’n leerskool was. “Ek het nog nie voorheen ’n film se regie gedoen nie, so dit het baie spanwerk gekos om die wa deur die drif te trek. Maar dit was ook vreeslik baie pret,” het sy gesê. 


Volgens Koegelenberg is dit lekker dat Die Horries op verskeie plekke vertoon word. “Daar is definitief nie genoeg platforms daarbuite wat plaaslike flieks wys nie. Ek hoop maar net dit word goed bemark, sodat genoeg mense daarvan bewus is, en uiteindelik gaan kyk,” het hy gesê.

Die Horries is aan die begin van hierdie jaar by die Silwerskermfees vrygestel. “Mense het gelag, dis altyd goed (as dit ’n komedie is), maar hoe kan jy anders met Augusta Zietsman en Schalk Bezuidenhout? By die fees self het ’n paar mense gesê daar is ’n charm aan die film en ek dink persoonlik die fun wat ons op stel gehad het, het on screen [oorgedra],” het Regardt Visser, redigeerder van Die Horries, gesê. FOTO: Dominique Fuchs

, , , , , ,