Wat gaan word van dáárdie aarbei? 

Na afloop van stormsterk weer die naweek van 7 April, het dit op sosiale media gegons toe dieikoniese standbeeld van ’n aarbei op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes beland het. 

’n “Traffic jam” is verhoed toe Dennis Zetler, direkteur van Mooiberge-padstal, die reuse-aarbei van die pad af sloot toe verskuif het met sy trekker. FOTO: Duné van Jaarsveld

Byna ’n “traffic-jam”

Die reuse-aarbei was vir 35 jaar reeds een van vele standbeelde by die Mooiberge-padstal langs die R44. Die aarbei het tydens die stormsterk winde omgewaai en in die pad geval naby die Broadway Boulevard en Annandaleweg-interseksie op die R44, waar dit die pad versper het.

Dit was egter nie die enigste skade wat hierdie padstal tydens die weer gehad het nie.

“Ons het baie skade gehad hier,” het Dennis Zetler, direkteur van Mooiberge-padstal, in die week na die insident gesê. “’n Hele paar miljoen [rand se skade]. Al die aarbeivelde is amper tot niet.” 

Volgens Dennis is party ander standbeelde ook gedurende die sterk winde beskadig, en is baie standbeelde verloor.

Die aarbei moes geskuif word, aangesien dit die pad vir verkeer versper het, het Dennis gesê. Hy het dieselfde dag nog die reuse-aarbei self met ’n trekker van die pad af na ’n sloot langsaan die pad geskuif.

Die ikoniese reuse-aarbei langs die R44 is een van vele standbeelde by die Mooiberge-padstal. FOTO: Duné van Jaarsveld

Toekoms van die reuse-aarbei

“Met betrekking tot die toekoms van die ikoniese Mooiberge aarbei, kan ons tans geen opdaterings verskaf nie,” het Kelly Zetler, eienaar van Thirsty Scarecrow, een van die restaurante op Mooiberge, gesê. “Ons beoordeel tans die situasie en neem die nodige maatreëls om die skade aan te spreek.” 

“Ons wil graag ons hoop uitspreek om die vervanging van die reuse-aarbei te sien, aangesien dit werklik ’n ikoniese landmerk vir ons geliefde dorp geword het,” het sy gesê. 

“Dit is vir ons hartseer om te bevestig dat ons gebou groot skade opgedoen het weens die onlangse stormsterk winde,” het Kelly Zetler, eienaar van Thirsty Scarecrow, een van die restaurante op Mooiberge-plaas, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld

Gekneusde aarbei

“Die aarbei moet oorgebou word. Hy het seer gekry,” het Dennis gesê. 

“Ek moet [die massiewe aarbei] optel en ordentlik regmaak onder, en dan moet ek dit met ’n kruin [ophys…] Dit is ’n swaar ding daai,” het hy gesê.

Die ikoniese aarbei, sowel as al die ander kleurvolle standbeelde op die R44, is deur Dennis gemaak. Die kleurvolle standbeeld-inisiatief het begin toe hy die idee gekry het om voëlverskrikkers vir die aarbeivelde te bou. Hy het self al die standbeelde aanmekaar gesweis en geverf. 

Mooiberge-plaas het derduisende rande se skade opgedoen gedurende die stormsterk winde van 7 April. Die plaas se aarbeivelde het ook deurgeloop en die meeste sal vervang moet word, het Dennis Zetler, direkteur van Mooiberge, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld