Behuisingskostes styg in Stellenbosch-gemeenskap

Inwoners van Idasvallei staar beduidende behuisingsuitdagings in die gesig, met bekommernisse wat strek van bekostigbaarheid tot belastingverhogings. Dit is volgens Roy van Rooyen, ’n raadslid van wyk vyf in Idasvallei.

Bekostigbare behuising is volgens Van Rooyen ’n deurlopende probleem in die gemeenskap. Hy het by Stellenbosch Munisipaliteit se onlangse openbare deelname-vergadering in Idasvallei gesê dat daar baie middelklas-inwoners in sy wyk is wat sukkel om eiendomme te finansier.

Gemeenskapslede van Idasvallei by ’n onlangse openbare deelname-vergadering van Stellenbosch Munisipaliteit, waar hulle navrae kon rig aan ampsdraers binne die munisipaliteit. FOTO: Kara le Roux

Munisipale tariewe styg

Volgens ’n verslag van Stellenbosch Munisipaliteit, wat maandelikse huishouding- en besigheidrekening-scenario’s uiteensit, is die gemiddelde maandelikse uitgawes op eiendomsbelasting van ’n medium-grootte huishouding in Stellenbosch, vir die 2023/2024 finansiële jaar, sowat R362.18. Die bedrag is volgens dié verslag sowat 7% hoër as gedurende die vorige finansiële jaar. 

Die gemiddelde uitgawes van ’n medium-grootte huishouding op munisipale dienste het volgens dié verslag met 12,17% toegeneem oor dieselfde tydperk.

Intussen het inwoners ook hul kommer uitgespreek oor die prys van eiendomme in die dorp, spesifiek in die verhuringsmark, en in ontwikkelings wat vir studentebehuisings geoormerk is. Tydens die vergadering het Nateshia Mcombring, ’n raadslid vir wyk ses in Idasvallei, beweer dat huur in hierdie ontwikkelings tot soveel as R10 000 per maand kan beloop. Volgens Mcombring dra dit by tot stygende eiendomspryse in die gemeenskap. 

 Annalene de Beer, direkteur van korporatiewe dienste by Stellenbosch Munisipaliteit, spreek gemeenskapslede toe oor die munisipaliteit se begrotingsplan tydens ’n onlangse openbare deelname-vergadering in Idasvallei. FOTO: Kara le Roux

Samewerking in die gemeenskap

“[Die munisipaliteit se] werk […] is nie behuising nie. Ons is ’n agent vir [die] provinsie, en nasionaal, om behuising te implementeer,” het Annalene de Beer, direkteur van korporatiewe dienste vir Stellenbosch Munisipaliteit, by die openbare deelname-vergadering in Idasvallei gesê. 

De Beer het by die vergadering die Idasvallei-gemeenskap toegespreek oor die jurisdiksiebeperkings wat die munisipaliteit het om behuisings-kwessies aan te spreek.

Alhoewel die Behuisingswet 107 van 1997 uiteensit dat munisipaliteite behuising in hul algehele ontwikkelingsplanne moet integreer, is hierdie planne, volgens die Behuisingswet, onderhewing aan die goedkeuring en bevondsing van die nasionale regering. 

Bekostigbare behuising is ’n deurlopende probleem in die Idasvallei-gemeenskap, volgens wyksraadslid Roy van Rooyen. Hy het sy besware geopper tydens ’n onlangse openbare deelname-vergadering in Idasvallei. FOTO: Kara le Roux

Charles Toutie, ’n inwoner van Idasvellei, meen egter dat Stellenbosch Munisipaliteit die inligting wat inwoners aan hul voorhou rondom behuisingskwessies by hierdie openbare deelname-vergaderings, ’n deurslaggewende rol behoort te speel in munisipale ontwikkeling. 

Volgens Toutie is daar ’n groot behoefte aan direkte samewerking tussen plaaslike regering en inwoners rakende vereenvoudigde verduidelikings van ingewikkelde beleide en begrotings. 

Gemeenskapsdeelname aan regeringsprosesse is volgens Eon Hendriks, ’n Idasvallei-inwoner, baie belangrik. Hy het by die vergadering gesê dat die jeug meer aktief betrokke moet raak by hierdie prosesse.

, , ,