Die legendariese rugbyspeler, John Noble, is ’n Stellenbosser in murg en been. Noble, wat tussen 1972 en 1980 vir die Suid-Afrikaanse Proteas en die Uitnodigings XV-spanne gespeel het, het met SMF News se Gio Anthony gesels oor sy loopbaan.
John Noble sit in die wagsaal van die taxi-staanplek in Stellenbosch. Buite hoor ’n mens die gejaag en getoeter van voertuie en taxi-guardjies wat skree. Die reuk van brandstof hang in die lug. John, eens ’n Suid-Afrikaanse Protea-rugbyspeler, werk nou in die taxibedryf, onder meer as taxibestuurder. Hy is tussen skofte.
By Noble is twee van sy vriende, Abraham Brooks en Daan Williams. Williams en Noble het saam grootgeword. Tussen die drie is ’n leeftyd se herinneringe en geskiedenis.
Noble het tussen 1972 en 1980 vir die Suid-Afrikaanse Proteas en Uitnodigings XV-spanne gespeel.

Die Suid-Afrikaanse rugbylegende, John Noble, met sy Protea-baadjie wat aan hom toegeken is toe hy vir die eerste keer vir dié span gekies was in 1972. Hy het rugby gespeel gedurende apartheid, en is dus nooit die geleentheid gegun om vir die Springbokke gekies te word nie. PHOTO: Gio Anthony
Sy lewensverhaal is verweef met die stories van ’n gemeenskap, vriende, familie en bure. Hy is gebore in die destydse “Du Toit-stasie” in Stellenbosch, wat nou ’n nywerheidsgebied in Tennantville, Cloetesville, is . Volgens oorlewering het die gemeenskap mekaar soos familie behandel.
Sy ouers, Katie en George Noble, het tien kinders gehad, waarvan John, die oudste seun is. Hy is gebore in 1953. George is vermoor toe John nog, by die destydse Rynse Sendingskool op skool was.
Die huis het die leemte van die broodwinner gevoel, het Noble gesê. So, as oudste van die kinders, het hy besluit om skool te verlaat en werk te gaan soek. Hy het op ’n jong ouderdom baie verskillende werke gehad om sy familie te help ondersteun.
“Ek het nooit ’n sent van my geld gesien nie. Ek het dit [alles] vir my ma gegee,” het hy gesê.
Die begin van die nalatenskap
Rugby was Noble se lewe. Sy pa was ook ’n kranige rugbyspeler, en was Noble se held. “Die rugbytalent kom van my pa af. Hy sou die eerste Springbok [van kleur] gewees het,” het Noble gesê.

John Noble in sy Blakes rugbyklub-baadjie. Hy het op 16-jarige ouderdom vir die klub begin rugby speel. Hy het vroeg vir hom ’n naam gemaak en is onder andere gekies vir die streekspan, Stellenbosch Coronations-rugbyklub. FOTO: Gio Anthony
Dit was apartheid in die tyd toe Noble rugby speel het. Daardie tyd was daar drie oorhoofse rugbyliggame, het Brooks verduidelik. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) was ’n nie-rasgebaseerde federasie waar spelers van alle rasse kon deelneem.
Daar was ook die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie (SARFF), wat bestaan het uit bruin spelers, maar wat besluit het om geaffilieer te wees met die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARB). Die Springbokke en die Uitnodingsspan-XV het in daardie stadium onder die SARB gespeel, en hierdie liggaam was onder wit bestuur.
Die Suid-Afrikaanse Proteas is destyds deur die SARFF beheer.
Klubrugby is in sy bloed
George Noble se rugbyklub, Blakes-rugbyklub (BRFC) het toe later ook John Noble se klub geword. Kenneth Wagner, die voormalige voorsitter van BRFC en spanmaat van Noble, het gesê dat die klub in 1951 deur Robbie Blake begin is as ’n manier om done manne wat by Blakes Bricks and Tiles gewerk het, ’n positiewe ontspanningsgeleentheid oor naweke te bied.
Die klub het in daardie stadium in die Stellenbosch-liga gespeel en spelers wat goed presteer het, is gekies vir die streekspan, Stellenbosch Coronations-rugbyklub (CRFC). Beide die spanne het onder SARFF gespeel.
Noble begin praat oor sy vroeë dae by Blakes. Hy het in 1970, op die ouderdom van 16, saam met die klub se eerstespan begin oefen, en sy eerste wedstyd vir Blakes se tweedespan gespeel. Hy het so goed gevaar in oefensessies en in die wedstryd, dat hy in sy tweede wedstryd saam met die eerstespan opgedraf het. Dis toe dat hy agtergekom het dat sy maats na hom begin opkyk.
In dieselfde jaar het die BRFC ’n wedstryd teen Tygerberg-rugbyklub, wat volgens Noble in daardie jare ’n baie goeie span was, gespeel. Nietemin het die BRFC gewen.
“Ons het hulle stukkend […] gehardloop. […] Hulle kon dit nie glo nie,” het Noble gesê.
Keurders vir CRFC het hom raakgesien en hy is gekies om vir die streekspan te speel.
Die SARFF-spanne was egter omstrede as gevolg van die politieke verskille met Saru en affiliasie met die SARB. Mense van kleur het die organisasie dus dikwels geboikot en gekies om in Saru-spanne deel te neem, het Brooks gesê.
Die volgende jaar, in 1971, het CRFC na Graaff-Reinet gereis vir ’n rugbytoer. Wat Noble nie geweet het nie was dat die wedstryd ook as proewe gedien het. Hy was egter op daardie stadium te jonk om vir die Suid-Afrikaanse Proteaspan in aanmerking te kom. Hy is ná afloop van die proewe daarvan verwittig.
Ondanks die terugslag, het hy moed gehou, en het uiteindelik sy kans gekry om vir die Suid-Afrikaanse Proteas te speel: “Die volgende jaar [1972], toe speel ek teen die Engelse op Athlone-stadion,” het Noble gesê. Die Proteas het 11-6 verloor; maar nie so ver soos wat die Springbokke tydens daardie toer teen Engeland verloor het nie. “[Engeland] het die Bokke stukkend gehardloop” met ’n historiese eerste wen op Ellispark in Johannesburg, onthou Noble.

John Noble het in 1972 vir die eerste keer vir die Suid-Afrikaanse Rugby Proteas uitgedraf toe hulle teen Engeland gespeel het. FOTO: Gio Anthony
In 1974, het ’n toer teen die Britse en Ierse Leeus gevolg. Die volgende jaar is Noble gekies om in Brisbane, Australië rugby vir liefdadigheid te speel vir die West-rugby Club. Die klub was so beïndruk met sy spel, dat hulle vir hom ’n professionele rugbykontrak aangebied het. Die kontrak het verblyf en ’n salaris ingesluit.

John Noble het in 1975 per uitnodiging rugby in Brisbane, Australië gespeel. FOTO: Gio Anthony
Hy het egter besluit om die aanbod van die hand te wys, nadat Dr Danie Craven,wat tussen 1956 en 1993 die president van die SARB was, vir hom gevra het om na Suid-Afrika terug te keer om moontlik vir die Springbokke te speel.
Dit was ’n groot oomblik vir Noble. Hy het gedink dat hy uiteindelik die hoogste vlak van rugby in Suid-Afrika sou bereik het deur vir die Springbokke te speel in wat die eerste veelrassige span sou wees.
Maar net voordat hulle moes uitdraf, is hulle in kennis gestel dat die destydse minister van sport, Piet Koornhof, geweier het om hulle toe te laat om die wedstryd te speel onder die amptelike Springbok-vaandel. Die span het teen Nieu-Seeland uitgedraf as die Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan.
Die politiek van rugby
“Ek het nie geweet daar was ’n SARFF- en ’n Saru-span nie. Ek wou net rugby speel,” het Noble gesê.
Noble verduidelik dat hy ’n goeie verhouding met Craven gehad het. Hy onthou dat Craven baie vir BRFC gedoen het, en hom selfs na dokters verwys het wat hom kon behandel nadat hy rugbybeserings opgedoen het.
Maar Brooks sê sy ervaring was anders. Hy verduidelik dat daar groot verdeeldheid was as gevolg van rugby, omdat die sport destyds as ’n politieke wapen gebruik is om mense te verdeel. Saru was die liggaam waaronder mense van kleur gespeel het. Baie mense wou nie deel van die SARFF wees nie, aangesien dit onderhewig was aan die wit-beheerde SARB.

Abraham Brooks (links) en John Noble (regs). Hulle ken mekaar al sedert die dae van Du Toit-stasie. Hulle is vriende en kollegas wat tans saam in die plaaslike taxibedryf werk. FOTO: Gio Anthony
Brooks was ’n voorstander van Saru-rugby en het geprotesteer teen dit waarvoor SARFF gestaan het. “Op daardie stadium het ons niks van die Proteas gehou nie. […]. Die sport was verdeeld,” het Brooks gesê.
Volgens Brooks was die Proteas ’n beter span as die Springbokke.
“As ons [rugbyspelers van kleur] die geleentheid gekry het, het ons in daardie span [Springbokke] ingestap,” het Noble gesê. Hy het dit soms moeilik gevind dat sy eie gemeenskap, weens die politieke verdeeldheid, nie die spanne ondersteun het vir wie hy gespeel het nie.
’n Nalatenskap
“[Noble] het eintlik Blakes-rugby op die map gesit, en bruin rugby [ook],” het Wagner in ’n onderhoud met SMF News gesê.
Al het Noble se rugbyloopbaan tot ’n einde gekom, het hy nooit regtig van die spel weggestap nie. Hy het jare spandeer om terug te gee aan die gemeenskap.
“As hulle my gevra het, het ek gegaan [om te help],” het Noble gesê. “Ek het nooit vir geld gevra nie.”
Noble was later die voorsitter van BRFC, en was aftrigter van CRFC. Hy het ook in verskeie hoedanighede by Excelsiors-rugbyklub uitgehelp. Hy wou die volgende generasie bruin rugbyspelers – spelers soos Chester Williams en Breyton Paulse – inspireer, en vir hulle die weg baan.
Benewens Noble, het sy familie oor die jare heen ook baie ander rugbyspelers opgelewer. Twee van sy broers het ook rugby gespeel: Christie Noble het vir die Westelike Provinsie (WP)-unie en Natal gespeel, terwyl Aubrey Noble vir die WP-liga gespeel het.
Aubrey se seuns het ook professioneel rugby gespeel: Dusty Noble het vir die Cheetahs in die Super Rugby-reeks gespeel, en Howard Noble is ’n voormalige Blitzbok.
Sy suster, Rynett Pietersen, se kind JP Pietersen het bekendheid verwerf as Springbokvleuel en is tans die afrigter van die Sharks.
John Noble se twee kleinkinders vaar ook tans goed in die rugbywêreld. Reuben Noble was in 2022 losskakel vir Paul Roos se eerstespan. Die volgende jaar was hy deel van die Noordwes-Universiteit se Varsity Cup Young Guns wat daardie jaar die bepaalde afdeling gewen het. Hy speel vanjaar in die Varsity Shield vir die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT).
Sy jonger broer, Morné Noble, het verlede jaar vir die WP-rugby tydens Craven Week gespeel, en is ook vir die Suid-Afrikaanse skolespan gekies. Hy is tans by die die Goue Leeus Rugby-unie.

Die rugbylegende John Noble speel al jare nie meer rugby nie. Deesdae werk hy voltyds in die taxibedryf.
*Ons het op 15 April om 20:15 veranderinge aan die artikel aangebring. Ons het gesê dat destydse Du Toit Stasie in Die Vlakte was.
