Jong akteurs meen kunstefeeste is steeds ’n kookpot vir geleenthede en inspirasie, en bied vir studente betrokke by die Universiteit Stellenbosch (US) se Dramadepartement die kollig om hulle produksies op die planke te bring.
Die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het begin vandeesmaand op Oudtshoorn plaasgevind, en het ’n week van drama- , musiek- en kunsproduksies gebied. Dit is vanjaar die 30ste bestaansjaar van dié fees, en feesgangers en teatermakers is aangemoedig om die feestema “Fees Voluit” aan te gryp.
Vir Jeanne-Mari Koekemoer, ’n BA Hons Drama gegradueerde aan die US, is die diverse kuns- en kultuurervaringe wat die KKNK regtig lekker maak. “Dit voel baie plaaslik, en jy voel weer gewortel in jou land se stories. Dis ’n baie belangrike hoeksteen in die kuns wat ek maak,” sê Koekemoer. Sy is onder andere die regisseur van die 2025 Première Teaterfees wenner, Keenan ennie Klopse, en skrywer en regisseur van die kinderproduksie Kaskenades!

Vir Heinrich Wentzel, akteur in onder andere kykNET se splinternuwe Die Oord-reeks en US-produksie Akrasia, bied KKNK vir jong akteurs die platform om stukke waaraan hulle maande lank gewerk het op die planke te bring. “Die feit dat die KKNK opkomende kunstenaars en jong stemme ondersteun, is eerbaar,” sê Wentzel. “Ek glo dit hou kuns vars en bied verandering vir gehore, wat uiters belangrik is in ons bedryf.”
Koekemoer stem saam dat KKNK ’n platform bied waar kunstenaars hul voete kan vind sonder dat daar te veel op die spel is. “Soos met enige fees, op ons ouderdom nou, is dit rêrig ’n groot leerkurwe. Ons moet uitfigure hoe om dit te befonds, hoe om ons stel daar te kry, hoe om ons stel geverf te kry en alles betyds gedoen te kry,” sê sy. Koekemoer het ook hierdie jaar die produksiebestuur vir Saartjie Botha se feesdebuut, Ge-gebergtes, gedoen. “Ek is baie jaloers op feesgangers, want dis maar harde werk as ’n teatermaker. Ek het rondgehol, en roosterkoek geëet tussenin.”

Daar was ’n verskeidenheid produksies by die KKNK wat oorspronklik by die US vir geleenthede soos die US Première Teaterfees geskep is, waaronder Granaatsap, Destiny Twice Over. And the Fate of a Half-eaten Sandwich en Akrasia. Frances van Rooyen, wat ook in die US-ondersteunde kinderproduksie Kaskenades! te siene was, meen kunstefeeste hou teater wakker en gesond. “As mens behoorlik gefees het, loop jy gewoonlik redelik moeg weg, maar tog geïnspireerd en opgewonde.”
Koekemoer glo dat feeste soos KKNK ook uiteindelik vir jonger akteurs in die industrie die geleentheid gee om ouer, meer gevestigde teatermakers te ontmoet. “Dis maar waar jy meeste van jou netwerk bou, dis net regtig cool ook. Jy sien mense wat jy al na opkyk jou hele lewe,” sê sy.

