HearUs vier mylpaal met fondsinsamelingskonsert

Die nie-winsgewende organisasie, HearUs, hou ter viering van hulle 25ste bestaansjaar ’n mylpaal fondsinsameling-musiekkonsert ten bate van ontvangers van kogleêre inplantings.

Dié fondsinsameling is sedert 2023 ’n jaarlikse inisiatief. Dit vind vanjaar op 5 September in die Universiteit Stellenbosch (US) konservatorium se Endlersaal plaas. 

Die Endersaal in die Universiteit Stellenbosch (US) se konservatorium maak tans reg vir die naweek se HearUs-konsert. Die voorste rye van die saal sal uitgerig word met ’n induksielus-klankstelsel wat gehoorlede met kogleêre inplantings en gehoortoestelle sal help om ook die musiek duidelik te kan hoor. FOTO: Lené Vorster

Die konsert dien ook as ’n viering van die 40 jaar sedert die eerste kogleêre inplanting in Suid-Afrika. Dit is onder leiding van HearUs, in samewerking met Dare4Life, ’n nie-winsgewende organisasie wat families help om deur groot mediese veranderinge te werk, en die Heydeburg Simfonie-orkes. Dié historiese inplanting, wat ook die eerste een op die kontinent was, is op 4 November 1986 in die Tygerberg Akademiese Hospitaal uitgevoer.

Volgens Dr. Sucari Vlok, ’n radioloog van Morton & Partners wat nou betrokke is by HearUs in die Tygerberg Hospitaal, is die organisasie 25 jaar gelede begin deur ouers van kinders wat kogleêre inplantings moes ontvang. 

“Hulle doel daarmee was om volwassenes en kinders wat ’n erge tot gematigde gehoorverlies het finansieel te ondersteun om kogleêre inplantings te bekom en dit te kan onderhou, want ons weet dit is baie duur,” het sy gesê.

n Kogleêre inplanting is ’n elektroniese toestel wat onder die kopvel geplant word en mense met ernstige gehoorverlies help om klank te hoor. Die toestel stuur klankseine direk na die brein toe, eerder as om deur die beskadigde deel van die oor te gaan. Met konsultasie- en operasiekostes ingesluit, kan dié toestel tot R500 000 kos. GRAFIKA: Lené Vorster

’n Kogleêre inplanting kan tot ongeveer R500 000 beloop, het Vlok gesê. “Ons groot doel is om in ’n posisie te wees om meer mense te sou kon help,” het sy gesê met verwysing na die toekoms van die organisasie.

Dr Leonard Heydenrych, ’n oftalmoloog en hoof van die byna 70-stuk Heydeburg Simfonie-orkes, sê dat die konsert toeganklik sal wees vir diegene met gehoorverliesprobleme en kogleêre inplantings. 

Verskeie van die voorste rye in die Endler-saal sal met ’n induksielus-klankstelsel, wat deur middel van magnetiese velde klank direk na die gehoortoestel stuur, toegepas word. Volgens hom, is dié geleentheid ’n kans vir mense met gestremdhede om ook te deel in die vreugde van musiek.

“[Musiek] verhef die mens van sy huidige omstandighede,” het hy gesê.

Dr Leonard Heydenrych, ’n oftalmoloog en hoof van die Heydeburg Simfonie-orkes het gesê:  “Dit is ’n absolute mylpaal wat HearUs bereik het.” Die konsert kombineer sy liefde vir die mediese- en musiekvelde. FOTO: Lené Vorster

Voormalige Mejuffrou Suid-Afrika, Mia le Roux, wat as kind self ’n kogleêre inplanting ontvang het, sal die gasspreker vir die aand wees. “Dis vir ons verskriklik spesiaal om haar daar te hê en om saam met ons die geleentheid te vier,” het Heydenrych gesê. 

Ander kunstenaars wat op die verhoog te siene sal wees sluit die Stellenbosch Jeugorkes en pianis Kate Allwood, wat self ’n kogleêre inplanting het, asook violis Piet de Beer, tenoor Thandolwethu Longo en pianis José Dias in.

Volgens die Eenheid vir Gestremdhede aan die US, kan daar nooit genoeg gedoen word rakende bewusmaking rondom die gestremdhede in ons samelewing nie. 

“Stellenbosch vorm deel van die groter US gemeenskap, en dit is belangrik vir ons om ons rol te speel in die skep van ’n beter verstaan van mense met gehoorsgestremdhede,” het dr Marcia Lyner-Cleophas, hoof van die eenheid aan SMF News gesê. 

“Bekostigbaarheid [van inplantings] is dikwels ’n probleem in baie dowe gemeenskappe, en mense kan altyd baat by finansiële hulp in sulke gevalle.”

Die HearUs-musiekkonsert is ’n fondsinsameling vir onvangers van kogleêre inplantings. FOTO: Verskaf/ HearUs webtuiste

Die konsert begin 19:30 en kaartjies is beskikbaar deur HearUs se webtuiste of op Quicket.

,