’n Plaaslike netbalklub in Cloetesville neem vanjaar vir die eerste keer aan die Kleinmond-sporttoernooi deel.

Die Black Pumas-netbalkub berei voor vir hul eerste toernooi buite Stellenbosch. Hulle neem vir die eerste keer deel aan ’n sporttoernooi in Kleinmond. FOTO: Krotoa Felix
Die Black Pumas-netbalklub is uitgenooi om vanaf 25 tot 27 September aan die sporttoernooi, wat jaarliks ter viering van Erfenisdag gehou word, deel te neem. Die toernooi bestaan uit verskeie sportsoorte wat onder andere sokker, rugby en netbal insluit.
Die klub is in 2023 deur Carlene Petersen, hoofafrigter van die klub, begin toe haar dogter, Marnay Petersen, en van haar vriende vir haar gevra het om hulle af te rig.
Alhoewel die netbalklub al aan toernooie in die Stellenbosch-omgewing deelgeneem het, is hierdie die eerste toernooi wat buite die Boland-area is waaraan hulle deelneem, het Carlene gesê.
Die klub het tans vier spanne, bestaande uit mans en vroue: o/11, o/14 en o/17, asook ’n eerstespan vir spelers ouer as 17. Die o/17-span en eerstespanne is genooi om aan die toernooi vanjaar deel te neem.
Hierdie toernooi is ook ’n geleentheid vir jong talent om blootstelling te kry, het Carlene gesê.
“Dis ’n baie groot voorreg vir my om deel te wees van die span, want nie almal het die opportunity om [buite Stellenbosch] te gaan speel nie,” het Leche Amos, wat deel is van die o/17-span is wat Kleinmond toe gaan toer, gesê.

Die Black Pumas se o/17-en gaan vanaf 25 tot 27 September aan ’n sporttoernooi in Kleinmond deelneem. FOTO: Krotoa Felix
Volgens Vernon Petersen, voorsitter van die Black Pumas, is meeste van die klub se wedstryde in Stellenbosch en hy hoop dat hulle binne die volgende jaar aan groter ligas kan deelneem.
“Ons wil volgende jaar by die Wynland-unie aansluit. So outomaties gaan ons kinders raakgesien word,” het hy gesê.

Vanjaar neem die Black Pumas-netbalklub van Cloetesville deel aan ’n sporttoernooi in Kleinmond. Die span bestaan uit mans-en vrouespelers en word deur Carlene Petersen afgerig. FOTO: Krotoa Felix
Alhoewel die toernooi vir die klub ’n waardevolle geleentheid bied om buite Stellenbosch te toer, bly fondse ’n uitdaging. Die klub het vanjaar reeds twee fondinsamelings gehou om verblyf en vervoerkoste vir die toernooi te dek. Enige bykomende ondersteuning in die vorm van donasies en netbalballe is welkom, het Vernon gesê.
