Woordfees: ‘Hoerkind’ is wenresep vir goeie teater

Van ‘hoerkind’ tot weeskind, tot stiefkind, tot weggooi-kind. Dít is die hartverskeurende fases van bekende skrywer en joernalis, Herman Lategan, se lewe wat op die planke te sien is by die 2023 Toyota US Woordfees. 

Hoerkind, wat nog tot 13 Oktober opgevoer word, is ’n besonderse tuimeltrein van emosies. Hierdie eenmanstuk verbreek die vier mure van konvensionele teater en kruip in die siel van kykers. 

Geon Nel, wat die rol van Herman Lategan vertolk in Hoerkind, is ’n besonderse akteur en vertolk die karakter op so’n manier dat die gehoor voel asof hulle self met Lategan praat. FOTO: Verskaf/Woordfees

Suksesvolle produksie

Lategan se boek, Hoerkind: Die Memoires van ’n Randeier, wat in Julie 2022 gepubliseer is, was die eerste bestanddeel in die resep vir ’n suksesvolle produksie.

Voeg daarby ’n span bekroonde teatermakers soos Geon Nel, wat die rol van Lategan vertolk, regisseurs Margit Meyer-Rödenbeck en Francois Toerien, wat die teks verwerk het, en die eindproduk sal teater-liefhebbers se hartsnare tokkel.

Maak reg vir lag, huil en alles tussen in. Nel is ’n besonderse realistiese akteur en vertolk die karakter op so ’n manier dat die gehoor voel asof hulle self met Lategan praat. Nel het die gehoor begelei – en soms bygestaan – deur die wipplank van emosies.

Teater op sy beste

’n Tafel, tas, mikrofoon en rooi linte wat uit die dak hang soos akrobaatringe, is al wat hierdie produksie van gebruik maak én al wat die produksie benodig het om die moeilike temas van verlies, geestesgesondheid, geweld en oorwinning uit te beeld.

Die simplistiese stelontwerp deur Gerrit Snyman komplementeer Latgegan se ingewikkelde lewensverhaal. 

Die beligtingsontwerp, deur John Swart, en die musiek, deur Coenraad Rall, het ’n unieke en opwindende element aan die storie gegee.

Die gehoor was vasgegordel vir hierdie 80-minuut tuimeltrein van ’n produksie, maar het glad nie gehuiwer om die gordels los te ruk vir ’n staande applous ná die vertoning nie.

’n Boekgesprek oor Hoerkind vind Vrydag (13 Oktober) om 09:30 by die EazyEquities-boektent plaas.

, ,