Woordfees: Luister, nie kyk, na dié dokumentêr

Die dokumentêr, Call of the Wild, daag die kyker uit om dinge uit ’n ander perspektief te sien. Of in die geval, vanuit ’n ander perspektief te hoor. 

Die dokumentêr was as deel van die 2023 Toyota US Woordfees se Filmfees gewys. 

Die dokumentêr handel oor Anika, ’n kind wat sedert geboorte aan ’n toestand ly wat haar sig negatief beïnvloed. Maar ten spyte van haar toestand, het sy ’n merkwaardige talent om talle verskillende voëlspesies te herken deur net na hul geluide te luister. 

Hoor in kleur 

Die regte ervaring begin wanneer sy op ’n klank-safari gaan by die Siyafunda-natuurreservaat.

In die 29 minute wat die dokumentêr duur, volg die kyker Anika se proses om die klanke in die reservaat te ervaar. ’n Besoek aan die Ditsong-museum dien ook as ’n manier om Anika se konneksie met die natuur te beklemtoon, veral met die doel om te wys hoe mense wat gesiggestremd is steeds die natuur kan ervaar.

Van die begin af word daar klem gelê op Anika wat op ander sintuie staat maak, veral om te luister. Trouens, aan die begin word aangedui dat die dokumentêr selfs ervaar kan word deur eenvoudig daarna te luister. Sekere subtitels word ook in braille gegee op die skerm, om by die tema in te pas om die perspektief te verander.

Die dokumentêr Call of the Wild gaan oor Anika wat swak sig het, en hoe sy haar ander sintuie gebruik om die natuur te ervaar. FOTO: Verskaf/Woordfees

Uitstekende regie 

Die kamerawerk, klank-redigering en kleurskema dra die tema van die dokumentêr vorentoe. As Anika haar spreekbeurt kry, word die swart-en-wit kleurskema duideliker om aan te dui dat dit letterlik en figuurlik vanuit haar perspektief vertel word. As sy van haar ander sintuie gebruik moet maak, soos om te voel, sal die kamera ’n nabyskoot neem, wat ’n merkwaardige bate is vir die dokumentêr se manier om haar storie akkuraat te vertel.

Dit is dus vanselfsprekend dat die regisseur en skrywer, Brett de Groot, die projek benader het met baie respek om nie net Anika se storie te vertel nie, maar om dit ook in ’n formaat te vertel wat haar sintuie stimuleer.

Call of the Wild is te sien by die Neelsie Cinema met gratis toegang, en het ‘n ouderdomsbeperking van OB (Ouerbegeleiding).

In die dokumentêr Call of the Wild, ervaar Anika die verskillende klanke in die Siyafunda natuurreservaat, deur op ’n klank-safari te gaan. FOTO: Verskaf/Woordfees

, , ,