Vier Matie-moorde wat die dorp geruk het: Robyn Pearce

Vyf jaar nadat Robyn Pearce se pa, die gesiene kardioloog dr. Adrian Pearce, oorlede is nadat ’n motor hom op sy fiets getref het, is Robyn Pearce, ’n gewese BA Geesteswetenskappestudent aan die US, se lyk op 2 Desember 2016 in haar ma se woonstel in Seepunt gevind.

Robyn was in die woonstel toe die tikverslaafde Wasief Buxbey (29), glo toegang tot die woonstel deur ’n badkamervenster gevind het met die doel om die huis te roof.

Robyn Pearce FOTO Facebook

Robyn Pearce (20) se lyk is op 2 Desember 2016 in haar ma se woonstel in Seepunt gevind. FOTO: Facebook

“Ek het nie geweet dat sy in die huis was nie,” het Buxbey in sy pleidooi geskryf wat op 1 Maart 2018 by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingehandig is. “Ek het ’n skootrekenaar en oorfone op die tafel sien lê en dit gevat.”

Op pad uit, het Buxbey besluit om die kamerdeur oop te maak en tot sy verbasing vir Robyn in die kamer gevind.

“Sy het begin skree,” lees die pleidooi verder. “Ek het die items neergesit en ’n mes uit die kombuis gaan haal. Ek het haar gevra om in die inloopkas te klim, maar sy het weer begin skree.”

Robyn is verskeie kere met ’n mes in die maag gesteek en vir dood gelaat.

“Ek dink dit is onaanvaarbaar dat moord so alledaags plaasvind,” het Henk Oets (24), ’n nagraadse LLB-student, gesê. “Dit maak ’n mens beide hartseer en kwaad al het jy nie eens die oorledene geken nie.”

Oets, wat in die jaar van Robyn se moord ’n voorgraadse student aan die US was, het vertel dat die moord op Hannah sowel as dié op Robyn vir hom swaar was aangesien dit “op sy voorstoep” was.

Nadat Buxbey se pleidooi op 19 Februarie 2018 geweier is, het die Pearce-familie hom die maksimum tronkstraf toegewens.

Buxbey is op 16 April 2018 tot 23 jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

,