Vier Matie-moorde wat die dorp geruk het: Hannah Cornelius

In die vroeë oggendure van 27 Mei 2017, is Hannah Cornelius (21) en haar vriend Cheslin Marsh (22) voor ’n woonstelblok in Birdstraat, Stellenbosch gekaap.

Hannah se lyk is om 08:30 op Groenhofplaas naby die Knorhoekpad, net buite Stellenbosch, gevind.

Vernon Witbooi (32), Geraldo Parsons (26), Nashwill Julies (28) en Eben van Niekerk (27) is in hegtenis geneem ná dit aan die lig gekom het dat hulle beide Marsh en Cornelius ontvoer het.

Die verdagtes het met die studente in Cornelius se blou Volkswagen Citi Golf na Kraaifontein gery waar hulle Marsh aangerand en vir die dood gelaat het.

Volgens ’n berig op News24 op 31 Mei 2017, het ’n kaalvoet en bebloede Cheslin dit om 07:30 reggekry om oor ’n 2m hoë muur van ’n nabye huis te klim en hulp te ontbied. Margaret en Avril Fortuin vertel dat ’n polisiekar kort daarna by hul huis verby-gery het.

“My man [Avril] het die polisie se aandag gekry en Marsh is saam met hulle daar weg,” het sy gesê.

Die verdagtes het met haar na ’n oop stuk veld naby Groenhof op die Knorhoekpad gery waar hulle haar glo herhaaldelik verkrag en vier keer met ’n skerp voorwerp gesteek het.

Drie van Hannah se wonde was aan haar nek en daar word geglo dat sy gelaat is om dood te bloei.

Hannah Cornelius FOTO Facebook

Volgens Riana Engelbrecht, koshuismoeder van Irene, waar Hannah ’n inwoner was,  was Hannah ’n “regte blommekind”. FOTO: Facebook

Volgens Gizellede Götz (22), ’n BA Taal en Kultuur-student aan die US, is sy ná Hannah se dood meer versigtig.

“Ek het dadelik na haar moord vir my gaan pepper spray koop,” het sy gesê. “Jy sal my glad nie meer tweeuur in die oggend êrens in Stellenbosch vind nie.”

Volgens Götz het Cornelius se dood verseker dat vroue op kampus meer bewus van die belangrikheid van veiligheidsmaatreëls.

Hannah Cornelius se ma, Anna Cornelius (56), se lyk is op 25 Maart 2018, minder as ’n jaar na Hannah se moord, op ’n strand in Scarborough naby Kaapstad gevind.

Byna ’n jaar ná Hannah se dood het ’n besoek aan die misdaadtoneel getoon dat swart vlinders gewapper het oor die dooie stuk gras waar sy beswyk het.  

Hannah-Cornelius-FINAL (2) (1)

Die dooie stuk gras waar Cornelius se lyk op 27 Mei 2017 gevind is. FOTO: Jana Wentzel

,