Vier Matie-moorde wat die dorp geruk het: Erin van Rensburg

Op 3 Junie 2009 is die 20-jarige Erin van Rensburg se lyk in ’n graf van 1.8m diep op ’n sandduin naby Elandsbaai in die Weskus gevind.

Van Rensburg is op ’n wintersoggend deur ’n mede-student en vervreemde vriend van haar, Jacobus Johannes Eksteen, versmoor, verkrag, ontvoer en begrawe.

Eksteen, ’n voormalige rekenaarwetenskapstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het op 5 Maart 2012 in die Wes-Kaapse hooggeregshof erken dat hy die ontvoering, verkragting en moord op Van Rensburg vooraf beplan het.

getimage

Eksteen in ’n vangwa by die Stellenbosse Magistraatshof in Julie 2009. FOTO: Sunday Times 

Terwyl Erin se broer, Byron van Rensburg, met wie sy ’n woonstel gedeel het, op 1 Junie ’n semestertoets afgelê het, het Eksteen die Van Rensburgs se woonstel binnegedring en voorgehou dat hy Byron se skootrekenaar sou herstel.

Nadat hy dit reggekry het om Erin na haar broer se kamer te lok, het hy haar oorrompel en in die maag geslaan.

Hy het haar verwurg totdat sy haar bewussyn verloor het, ’n kous in haar mond gestop en haar liggaam in ’n tas gedruk om na sy woonstel te neem.

Dáár het hy haar herhaaldelik verkrag. Toe Eksteen besef Van Rensburg is reeds oorlede, het hy haar liggaam in sy motor gesit en meer as 200km gery om haar lyk in die sand weg te steek.

’n Nadoodse ondersoek het bewys dat Van Rensburg 33 uitwendige wonde opgedoen het aan haar lippe, rug, maag en bene.

Erin van Rensburg FOTO Verskaf

Erin van Rensburg (20) se lyk is op 3 Junie
2009 in ’n vlak graf in Elandsbaai gevind. FOTO:
Verskaf

Marinette Potgieter (28), ’n voormalige USstudent en kennis van Erin, het vertel dat sy die dag kan onthou toe haar vriendin haar gebel het om te laat weet dat Erin se lyk gevind is.

Potgieter het ook vertel dat daar ’n somber en onheilspellende gevoel op kampus was ná die moord op Erin.

“Ek onthou hoe iemand vir ’n meisie buite die BA-gebou daarvan vertel het. Sy het begin skree en inmekaar gesak. Almal het vir haar gekyk en dadelik geweet waaroor dit gaan.”

Potgieter het vertel dat sy altyd verby Erin se ou woonstel gestap het op pad kampus toe. “Daar was net so ominous gevoel – dit was so tasbaar op kampus. Jy voel so weerloos.”

Eksteen is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis en kan tot 2042 in aanhouding bly.

,