Pretorianer kraai koning by Stellenbosse klavierkompetisie

Tien pianiste van reg oor die land het onlangs meegeding in ’n plaaslike klavierkompetisie wat gedurende die eerste week van April in Stellenbosch plaasgevind het. Vyf van die pianiste studeer of gaan skool in die Wes-Kaap, volgens plasings op die Hennie Joubert-klavierkompetisie se Facebook-blad. 

Die Hennie Joubert-klavierkompetisie is deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se internasionale klaviersimposium, wat tweejaarliks plaasvind. Volgens kompetisiereëls mag slegs pianiste jonger as 19 jaar aan die kompetisie deelneem. 

Die vyf finaliste van die Hennie Joubert-klavierkompetisie. Van links tot regs, Tanya Zhu van Sandton in Gauteng, Hermanus Schmidt, ’n skolier aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, Chanda Lupambo, ’n BMus-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), Heinrich Sutton, ’n skolier aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria en Vivianna Pearson, ’n BMus-student aan die Universiteit van Kaapstad (UK). FOTO: Maliza Adendorff

Vyf finaliste het in die finale rondte saam met die Kaapstad Filharmoniese orkes, onder begeleiding van Bernhard Gueller, die verhoog gedeel. 

Vivianna Pearson, ’n BMus-student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), Chanda Lupambo, ’n BMus-student aan die US, en Hermanus Schmidt, ’n skolier aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, het onderskeidelik tweede, derde en vierde gekom. Heinrich Sutton, van Pretoria en Tanya Zhu van Sandton, het onderskeidelik eerste en vyfde gekom. 

Sutton maak skoonskip

Sutton, ’n 17-jarige skolier van Hoërskool Waterkloof in Pretoria, het met die louere weggestap. Die prysgeld vir die eerste plek van die kompetisie was R22 000 en die totale prysgeld was altesaam R57 000. 

Heinrich Sutton (17) het vanjaar die eerste plek in die Hennie Joubert-klavierkompetisie verwerf. Die kompetisie word saam met die Universiteit Stellenbosch (US) se internasionale klaviersimposium aangebied. FOTO: Maliza Adendorff

Sutton het ook spesiale pryse verower. Hierdie addisionele pryse sluit in ’n prys vir die beste optredes van ’n Bach Prelude en Fuga, ’n prys vir ’n klassieke sonata, ’n prys vir ’n “Virtuose etude” sowel as ’n prys vir die beste optrede van ’n werk deur ’n Suid-Afrikaanse komponis. Hy het ook die prys vir die beste prestasie in die derde rondte van die kompetisie gekry.

‘Harde werk werp later vrugte af’

Sutton het sy sukses aan sy musiekafrigters, Claudine van Breda en Megan-Geoffrey Prins, toegeskryf. “[Prins] het my verlede jaar gehelp om die Atterbury Nasionale-klavierkompetisie te wen,” het Sutton gesê. 

Heinrich Sutton, die wenner van die onlangse Hennie Joubert-klavierkompetisie in Stellenbosch, in aksie saam met die Kaapstad Filharmoniese orkes onder begeleiding van Bernhard Gueller. FOTO: Maliza Adendorff

Sutton het gesê dat musiek baie tyd en toewyding verg. “Die moeilikste ding is om elke dag gemotiveerd te bly,” het Sutton gesê. “Mens wil nie elke dag [klavier] oefen nie. Op hoërskool is akademie ’n faktor en sport is ook ’n faktor.” 

Tog glo Sutton dat harde werk en ure se toewyding later vrugte sal afwerp. “Ek moet elke dag vir myself sê dat my toekomstige self dankbaar sal wees as ek vandag hierdie passasie kan uitsorteer, as ek vandag [klavier] oefen.” 

Vanuit die gehoor

Die Endler-konsertsaal ter voorbereiding van die finale rondte van die Hennie Joubert-klavierkompetisie wat in die eerste week van April plaasgevind het. FOTO: Maliza Adendorff

Christoff Joubert, ’n BMus-honneursstudent aan die US, wat ook die simposium bygewoon het, beweer dat die beste musikante hulself nie bo musiek plaas nie. “Jy moet ’n dienaar van die musiek bly,” het Joubert gesê. 

Dané van Graan, ’n musiekstudent aan die UK en ’n deelnemer aan die kompetisie, het gesê dat haar ervaring baie anders was as ander in die gehoor s’n. 

“As ’n deelnemer aan die kompetisie, ervaar ek hulle angs en spanning op die verhoog,” het Van Graan gesê. “Ek weet presies waardeur hulle gaan.” 

Van Graan het die André Serfontein-prys vir die deelnemer met die meeste potensiaal, wat nie na die finale rondte deurgedring het nie, ontvang.

, ,