Orrelis? Pianis? Beslis!

Zorada Temmingh is vanjaar reeds 40 jaar orrelis van die NG Moederkerk op Stellenbosch. Sy is bekend vir haar improvisasiewerk op die orrel, maar die klavier is haar groot liefde. Sy het met SMF News se Lené Vorster gesels oor musiek: van vleuelklaviere tot filmbegeleiding.

Temmingh by haar orrel.
Gesnaar Vir die orrelis Zorada Temmingh kom die musiek van binne. “Dit is vir my baie persoonlik,” sê sy. FOTO: Lené Vorster

In haar leefkamer staan die swart vleuelklavier. Die vertrek is donker, en tussen die boeke en bladmusiek staan die instrument blink in die dowwe lig. Teen die muur hang drie groot portrette van die meesterkomponiste, waaronder Bach en Beethoven. Zorada Temmingh streel oor die klavier en loop dan in die gang af om die ketel aan te sit vir tee.

Zorada se ouma, Edna Labuschangne, was vir 40 jaar die orrelis in die Groot Kerk op Graaff-Reinet. Skoolvakansies is saam met die familie op dié dorp spandeer en Sondagoggende moes hulle ’n halfuur voor die diens al in die kerk wees sodat haar ouma kon oefen. 

“Sy het standaard-orrelwerke gespeel, so ek het die orrelrepertorium eintlik as kind reeds geken,” sê Zorada. Sy lag en vertel dat sy meer in kerk gekom het as die dominee, omdat sy Sondae twee keer langs haar ouma se orrel moes sit. 

“Vir my was dit soos asemhaal; dit was nie ’n buite of eksterne ding nie.” 

Zorada het op vier begin klavier speel. Op hoërskool het sy begin met viool as tweede instrument, maar het in haar standard 8 jaar na die orrel toe oorgeskuif. 

Terwyl sy gesels, verwys sy gereeld terug na haar universiteitsjare aan die Universiteit Stellenbosch (US). 

“Dis nie asof dit die enigste tyd is wat daar iets gebeur het nie,” sê sy. “Maar liewer omdat dit die begin was van my ernstige musiekloopbaan.” 

Sy het aanvanklik oor haar studierigting getwyfel en wou nie noodwendig musiek gaan studeer nie, maar haar pa het haar oortuig om dit vir ’n jaar te probeer. Sy verduidelik dat musikante se tegniek gevestig moet word op daardie ouderdom en dat dit moeilik is om later terug te gaan musiek toe. 

Sy skink tee in rooi-en-wit teekoppies, en bied beskuit aan. 

Na haar studies wou sy ’n vleuelklavier koop. 

Zorada Temmingh by haar klavier.
Speels Die klavier is orrelis Zorada Temmingh se groot liefde. FOTO: Lené Vorster

“Toe gaan die orrel-pos oop by die Moederkerk, en toe dog ek dis ’n teken. Daardie salaris is toe presies dieselfde bedrag as die klavierpaaiement, en toe koop ek die vleuelklavier wat daar staan.” 

Sy beduie in die gang af na die enorme instrument in die leefkamer.

Sy het die klavier met haar maandelikse orrelis-salaris afbetaal. 

“Klavier is nog altyd my groot liefde,” sê sy. 

Meer as net tjorrel op die orrel 

As jong orrelis het sy nie baie musiekstukke vlot geken nie, en sy wou haar oefentyd liewer voor haar klavier spandeer. Dit is hier waar haar improvisasiewerk, en gevolglik haar passie vir die orrel, regtig begin het. 

“Ek sou ’n melodie vat en ’n nuwe stuk maak, en tóé hou ek van orrel,” sê sy. Dit is vir haar fassinerend en uitdagend. Elke week en melodie is anders. Inspirasie kom uit die erediens en liturgie, soms die preek, en sy moet dus aktief betrokke wees daarby.

“Haar orrelspeel is ’n teologie, ’n getuienis deur die musiek,” meen Reinette Terblanche, ’n vriendin van 27 jaar, oor Zorada se werk as orrelis in die kerk. “Mense vra wie orrel speel voor hulle vra wie preek.”

Zorada is baie visueel ingestel. 

“Dit begin alles by teks. […] [Die teks] maak prentjies in my kop, dan begelei ek die prentjies. Dis amper soos wanneer ek die films begelei.” 

Anders as baie ander improvisators, werk sy nie binne musikale strukture, soos sonates, balades of walse, nie, maar liewer met die teks wat met die musiek saamgaan. Sy meen sy werk meer soos Bach, waar die teks bepaal wat die musiek doen. 

Haar werk as filmbegeleier het eintlik heeltemal per ongeluk begin. Sy het vroeër as musiekhoof by Hoër Meisieskool Bloemhof gewerk, en in daardie tyd het ’n kollega vir haar die geleentheid gereël om ’n stilfilm te begelei. Sy verduidelik dat sy bestaande stilfilms, soos die 1923 Hunchback of Notre Dame neem en dan musiekbegeleiding daarvoor skep.

“Ek het nie baie tyd gehad nie, en op die ou end is [die musiek vir Hunchback of Notre Dame] uit nood gebore net voor Aardklop, waar dit bekendgestel is,” sê sy. Zorada vertel dat dit vir haar ’n fassinerende proses was en dat sy besef het dat sy ’n werklike talent daarin het. 

Terblanche stem saam dat Zorada se talente op interessante en unieke manier te voorskyn kom. “Sy het baie gawes gekry, maar sy woeker met elke stukkie daarvan.” 

Van Zorada se ander begeleiding van stilfilms sluit in The Four Horsemen of the Apocalypse en The Phantom of the Opera. Sy is tans opsoek na ’n nuwe film, maar meen dat niks tot dusver tot haar spreek nie.

Zorada Temmingh by haar vleuelklavier
40 Jaar Zorada Temmingh by die klavier wat sy in 1986 met haar eerste salaris gekoop het. FOTO: Lené Vorster

’n Meester onder meesters

Oor die invloede in haar werk is haar antwoord: “Bach, Bach en Bach.”

Sy het ’n diep respek vir die groot meesters, en stel belang in hoe die komponiste se gedagtes moes geloop het vir hulle om daardie stukke te skep. Ook in haar werk met film kom komponiste soos Wagner se invloed deur. 

“Die fassinerende ding is, toe ek nou moes begin [films begelei], het ek nie gedink aan ander filmmusiek nie, maar aan opera,” vertel sy. Wagner se gebruik van leimotiewe per karakter dien as inspirasie vir haar werk met films. 

“As die karakter ontwikkel moet die tema ontwikkel of begelei word: majeur na mineur of lang note na kort note. […] As die karakter ontwikkel, ’n beter mens of ’n slegter mens word, moet die musiek dit uitbeeld.”

Hartsnare

Sy glo daar is ’n soeke onder die jonger generasie aan iets wat groter as die self is, en volgens haar kan klassieke musiek daardie leemte vul. “Daar is ’n behoefte aan iets dieper; iets wat anders is as die normaal,” meen sy.

“Ek kan die gevoel van daai eerste performance in die Endler-saal onthou, en die ontdekking dat jy besig is met iets wat groter is as jy self. Dit was Debussy se Jardin sur la pluie,” sê sy met verwysing na die eerste stuk wat sy voor ’n gehoor in die US Konservatorium gespeel het. 

Zorada is ook ’n musiekonderwyseres. Sy was tot en met 2007 die departementshoof vir musiek aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch, en bied vandag privaatlesse uit haar huis. 

“Sy het die lewens van soveel studente geraak,” sê Freddie Greeff, ’n goeie vriend en mede-musiekliefhebber wat Zorada in haar tyd as student by die US ontmoet het. “[Musiek] is haar lewe. As musiek in jou bloed – in jou are is – dan kan jy nie daarsonder leef nie.”

Sy sit die leë teekoppies in die wasbak. Zorada loop in die gang af en gaan sit by die swart vleuelklavier vir ’n foto. Dit is vanjaar 40 jaar sedert sy as orrelis by die NG Moederkerk in Stellenbosch begin werk het. Haar hande rus op die swart-en-wit klawers, en dit is duidelik dat dit hiér is waar sy tuis voel.

, , , , ,