Stellenbosse hoërskool behaal finaal by vanjaar se ATKV-Tienertoneel

Hoërskool Stellenbosch se politieke satire produksie het ‘n plek in die nasionale top-10 van die 2026 ATKV-Tienertoneel kompetisie behaal.

Die Kandidaat, van Hoërskool Stellenbosch (HSS) sal vanjaar in die landsfinaal van die kompetisie meeding.

Dié jaarlikse Tienertoneel-kompetisie is een van die Afrikaanse Taal-en Kultuurvereniging (ATKV) se oudste projekte, sê JJ van Niekerk, projekorganiseerder van dié kompetisie. Die Tienertoneel vier vanjaar sy 62ste bestaansjaar. 

Van regoor Suid-Afrika het 190 hoërskool-produksies vir die kompetisie ingeskryf, waarvan daar uiteindelik net 10 finaliste oorbly, sê Van Niekerk. Net-net meer as 5% van produksies maak dit tot die landsfinaal, beweer hy.

“Om as een van die top 10 [te] lê is nie ’n geleentheid wat op enigiemand, van enige skool se beurt val nie – dis ’n groot prestasie en geleentheid vir daardie skool en daardie leerders,” het Van Niekerk bygevoeg.

’n Optrede van Die Kandidaat deur die dramaleerders van Hoërskool Stellenbosch.

Die Kandidaat, tienertoneel-produksie van Hoërskool Stellenbosch, is vanjaar aangewys as een van die nasionale top 10 in die ATKV-Tienertoneel kompetisie. In die toneel, van links: Anina Reyneke, Viné Mars, Maleine Bonthuys, Caleb Buirski. FOTO: Nardus Engelbrecht Verskaf/Hoërskool Stellenbosch

Sewentien leerders, van graad 8 tot graad 12, tree in die produksie op.  Volgens Dr Andrea Staude, hoof van Dramatiese Kunste by HSS bied dié kompetisie baie goeie blootstelling vir die leerders wat daarin deelneem. 

“Die grootste platform wat Afrikaanse skole het vir die bevordering van toneel en teater is ATKV,” het Staude gesê.

Dr Andrea Staude, buite die skool se dramalokaal.

Die Kandidaat hou daagliks repitisies in Hoërskool Stellenbosch se dramalokaal onder leiding van Dr Andrea Staude, hoof van dramatiese kunste by die skool en mede-regisseur van die produksie. FOTO: Dylan Lackay

Staude dien ook as mede-regisseur van die produksie saam met Dr André Gerber, wat die toneel geksryf het en tans as ’n dosent in Stellenbosch Universiteit (SU) se dramadepartement werk.

Gerber het gesê dat dit vir hom ’n plesier was om met die leerders te werk, en dat hy baie beïndruk was met hulle.

“Ek is verbysterd deur die talent en diversiteit van talent onder die leerders van die skool. Ek is ook stomgeslaan deur die vreeslike volwasse manier waarmee hulle omgaan met die materiaal, onafhanklik van hoe uitdagend dit is,” het hy gesê.

Buiten die prestasie, beweer Staude, dat die werk wat haar departement doen oor meer gaan as net die opvoering op die verhoog.

“Ek sê altyd vir die kinders en vir die ouers: Ons probeer nie noodwendig fokus om akteurs op te lei nie, ons wil ’n gemeenskap bou wat teater verstaan en wat teater waardeer,” het sy gesê.

“Ek dink dat die vaardighede wat jy kry van toepassing is in enige loopbaan, enige veld waarin jy beweeg. Dis goed soos kommunikasie, kritiese denke, kreatiwiteit en samewerking.”

Die dramaleerders besig met repetisie in die skool se dramalokaal.

Ses van die 17 dramaleerders wat in Die Kandidaat gesien kan word, gedurende repetisie in die dramalokaal by Hoërskool Stellenbosch. Die produksie bestaan uit dramaleerders vanuit verskeie ouderdomsgroepe, van graad 8 tot graad 12. FOTO: Dylan Lackay

Die ATKV-Tienertoneel finaal, waar Die Kandidaat te siene sal wees, vind plaas vanaf 28 September tot 3 Oktober by die Kuntekaapteater in Kaapstad. Die wenner van die finaal sal ook die geleentheid kry om by die Toyota Stellenbosch Woordfees op te tree.

, , ,