Marshall September is ’n entrepreneur en potsending-aanbieder van Cloetesville, Stellenbosch. Hy het met Krotoa Felix van SMF News gesels oor hoe hy sy liefde vir koffie en gesels kombineer met sy entrepreneuriese vaardighede.

Marshall September, die eienaar van Predestined en die stem agter “Wisdom of Solomon”-potsending, woon in Cloetesville. Hy het die meeste van sy grootwordjare hier deurgebring, en ook sy besighede hier gevestig. FOTO: Krotoa Felix
“Sit gerus,” sê Marshall September.
Dié entrepreneur van Cloetesville in Stellenbosch se huis is donker en koel. Die atmosfeer in sy huis eggo die kalmte waarmee hy sy lewensverhaal deel.
Met een koppie koffie en een gesprek op ’n slag, probeer Marshall om verandering te bring in Cloetesville, ’n buurt wat hy – ondanks negatiewe dekking – as huis beskou.
Binne die red zone
Marshall het sy skoolloopbaan by Laerskool Cloetesville begin en aan Hoërskool Cloetesville voltooi. Hy was 19 toe hy by sy destydse meisie, nóú vrou, en haar familie gaan woon het – ook in Cloetesville.
Cloetesville word deur baie as ’n red zone area gesien as gevolg van bendegeweld in die gemeenskap, sê Marshall. Hy wou hierdie narratief verander. Marshall het grootgeword met mense wie se name om die verkeerde redes bekend was.
“Dit is van die grootste gangsters in Cloetesville. Mense raak nou nog bang as daar gepraat word oor hulle. Dis my twee cousins en my uncle.”
Marshall het egter “die ander kant” gekies. Hy wou nie die bende-roete volg nie.
Van kindsbeen af entrepreneur
Marshall het sy entrepreneuriese vaardighede by sy ouma aangeleer. Hulle was die eienaars van ’n sjebeen, ook in Cloetesville waar hy die nodige vaardigehede aangeleer het om produkte te verkoop en ’n wins te maak. Die blootstelling aan dié besigheid was vir hom ’n kans om self te eksperimenteer deur lekkergoed by sy skool te verkoop.
Hy was ook ’n kranige krieketspeler en dit het aanleiding gegee tot ’n ander belangrike ervaring in sy vormingsjare. ’n Onderwyser het hom genader om deel te neem aan ’n krieket-skeidsregterskursus. Dit het daarnatoe gelei dat hy die meeste naweke op die krieketveld deurgebring het waar hy vir verskeie skole-krieketwedstryde ’n skeidsregter was.
Hy het dit egter nie ernstig opgeneem nie. “Ek was betaal hiervoor. Hy [die onderwyser] het vir my gesê ek kan ’n bestaan hiervaan maak. Ek het dit nie so ernstig op geneem soos wat ek moes nie.” Vandag sien hy dat al glo net een mens in jou, is dit genoeg om jou drome na te jaag.

Marshall September, die eienaar van “Predestined”, ’n koffie-besigheid wat weekliks by die Idasvallei-mark is, verduidelik waar die naam van sy besigheid vandaan kom. FOTO: Krotoa Felix
Musiek het ook ’n belangrike rol in sy lewe gespeel. In graad 11 het hy ’n nuwe passie ontdek toe hy by ’n musiekgroep aangesluit het, waar hy die dromme en die marimba gespeel het. In 2002 toe hy in matriek was, het Marshall instrumente gespeel, én ander leerders as musiek-tutor begelei.
Ná skool het hy dié rol verder uitgebrei en vir twee jaar lank musieklesse aangebied. “Ná skool was ek direk in die band betrokke. En in daardie tyd het ek ook by ’n video-winkel gaan werk.”
’n Eerbare bestaan
Marshall het van jongs af hard gewerk om ’n goeie lewe vir hom en sy gesin te bewerkstellig.
Die geld wat hy in ’n maand verdien het, is die soort geld wat sy neefs en oom in een aand sou kon maak.
“Ek wou ook [eers] deel wees van dit,” erken hy. Hulle het hom egter gemotiveer om weg te bly van dwelms, want dit sou een van twee realiteite vir hom tot gevolg hê: “Jy gaan óf tronk toe óf jy gaan dood,” het hulle hom gewaarsku.
“Hulle al drie is doodgeskiet – al drie,” sê Marshall. “Ek [is] nog lewendig en dit het my gedryf om te fokus en ’n honest living te maak.”
Wisdom of Solomon en Predestined
Marshall glo dat daar hoop is vir die mense van Cloetesville.
Peace for Cloetesville, ’n optog wat in 2024 deur Marshall begin is, het ’n doel gehad om bewusmaking te skep oor geweld wat die gemeenskap geteister het. “In daai vergadering was daar baie dinge gesê waarvan ek nie geweet het nie,” sê hy.
Vir hom was dit ’n geleentheid om die Wisdom of Solomon-potsending te begin. Hierdie potsending het nie net ’n platform geskep waar ander hul stories kon deel nie, maar dit was ’n kans om hoop en wysheid na Cloetesville te bring.
Nóú is daar weeklikse potsendings, van ouer-wees tot opkomende kunstenaars. “MacG het my geïnspireer om beide my brand [koffie] en podcasting te doen.”
Alhoewel Marshall nie veel geweet het van koffie nie, was koffie altyd oral waar hy was. “Mense het my altyd gevra hoe sekere koffie proe. Dis waar die idee van my eie koffiebesigheid ontstaan het.”
Soos meeste suksesverhale, het Marshall se besigheid nie dadelik floreer nie. Hy moes eers die lesse leer van wat dit vat om ’n besigheid te bestuur en met deursettingsvermoë kon hy dit regkry.

Marshall Spetember het grootgeword in Cloetesville en besit sy eie koeffiebesigheid, “Predestined”. Hy het ook ’n potsending, “Wisdom of Solomon”, waar hy weekliks mense uitnooi om hul stories te deel. FOTO: Krotoa Felix
Marshall vertel oor hoe hy en sy vrou ’n gazebo moes leen om net iewers te begin met die koffiebesigheid. Nadat die Kaapse wind die tent omgewaai het wou hy opgee, maar sy dryfkrag het hom laat aanhou. “Ek het die hele week terug gegaan [na die taxi rank] en ek moes net weer probeer.”
Toe Blikkies, die koffiemasjien wat Marshall op Marketplace gekoop het, uiteindelik die kans kry om hard te werk, het hy vir omtrent 150 mense by ’n rugby-byeenkoms in Idasvallei koffie gemaak. “Min het ons geweet, dit was net die begin,” sê Marshall.
Sy dogter, Kihara September, help soms uit as sy nie besig is met haar studies nie, en sê dat haar pa een van haar grootste inspirasies is. “Die [koffie] besigheid het positiewe verandering gebring. Dit is vir my cool dat my pa so baie binne twee jaar bereik het.”
Die koffiestalletjie wat weekliks oorkant die Idasvallei-biblioteek is, is vir baie mense ’n plek waar hulle hul eerste koppie koffie vir die dag kry. “Dit is bekostigbaar en jy kry jou energy vir die dag,” sê Elton Daniels, ’n inwoner van Cloetesville. Hy koop gereeld koffie by Marshall en vertel hoe belangrik dit is om kleinbesighede te ondersteun.
