Oor deel en digkuns: VER[r]AS se jong skrywers-reeks skop af met Pieter Krog

Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) het hulle nuwe jong skrywers-reeks afgeskop met hul eerste middaguurgesprek op 5 Maart. VER[r]AS, die studentevereniging van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans Nederlands, wil jong digters en skrywers die kans gee om ook hul stemme te laat hoor.

Pieter Krog was die eerste jong skrywer in VER[r]AS se middaguurgesprek-reeks. Krog se  debuutbundel, Sonneblom na Blou, wat vroeër vanjaar op stromingplatforms soos Spotify verskyn het, was die afspringpunt vir die gesprek. Die bundel is ’n ouditiewe versameling albums wat oor Krog se grootwordjare handel, en die naïviteit van kindwees vasvang. “Dis iets wat die bundel doen; dis ’n coming-of-age storie,” sê hy. 

Pieter Krog, die eerste spreker in VER[r]AS se jong skrywers middaguurgesprek-reeks. “Jy is so naak, dat jy die naaktheid aanvaar, en jy’s reg om dit met die wêreld te deel,” sê hy oor skryf.  Foto: verskaf/ Mikael von Eschwege.

Krog het die bundel onder die mentorskap van digter Bibi Slippers aan die been gebring, en meen hy het die objektiewe perspektief en kritiek nodig gehad. “Sodra jy besluit om kaal te staan in jou digkuns moet jy verantwoordelikheid aanvaar. Bly stil, en luister soveel as wat jy kan,” sê hy oor jong digter wees. Alhoewel Krog uit ’n familie skrywers en digters kom, het hy daarteen besluit om pa Willem Krog of tannie Antjie Krog direk by die skryfproses te betrek, juis om hierdie objektiwiteit te behou.

Volgens VER[r]AS voorsitter Zandri van Greunen, het die jong skrywers-reeks begin met die behoefte om met jong digters te werk. “[Ons het gedink] kom ons nooi jonger skrywers; kom ons maak ’n gesprek oop en ’n ruimte vir skrywers waar hulle kan kom en praat, en nie net op ’n akademiese manier nie.” Sy sê die span is opgewonde om nog jong digters en skrywers by die middaguurgesprek-reeks betrokke te kry.

Pieter Krog in gesprek met Zandri van Greunen, die voorsitter van VER[r]AS by die middaguurgesprek in die Kunste en Lettere gebou by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Lené Vorster.

Nes VER[r]AS, glo Krog ook daar is waarde in gemeenskap onder digters en skrywers. “Dis nie net nodig vir vriendskap en passie deel nie, maar ook praktiese advies. Jy het mense wat jou stryd as digter deel,” sê hy. Krog het in sy skryf- en produksieproses sterk gesteun op sy eie skrywersgemeenskap en vriende, en baie maak ook hulle verskyning op die albums as musikante of stemkunstenaars. 

“Ek dink veral in die konteks van Pieter se bundel […] was een van die grootste elemente soeke na identiteit, en om dit deur die kuns te ontdek, en jouself te skryf,” sê Isabella Burgers, ’n vriendin van Krog wat hom in die skryfproses ondersteun het.

Pieter Krog se eerste bundel Sonneblom na Blou  is einde Februarie bekendgestel, en bestaan uit 5 albums van digkuns en musiek. Foto: verskaf/ Spotify. 

Krog se advies aan jong digters is iets waaroor hy sterk voel: “Deel. Deel net soveel as wat jy kan. Aanvaar kritiek.”

, , ,