Die Switserse swemklub, SchwimmClub (SC) Uster, is vir die derde agtereenvolgende jaar op ’n oefenkamp in Stellenbosch.
Die kamp was voorheen in Tenerife, een van die Spaanse Kanariese Eilande, maar nadat die hoofafrigter van die SC Uster-span, Pablo Kutscher, foto’s van die Universiteit Stellenbosch (US) se swemgeriewe op sosiale media gesien het, wou hy graag hul oefenkamp in Stellenbosch hou. Die kamp was in 2024 na Stellenbosch geskuif en is sedertdien die plek waarna die span jaarliks terugkeer.

Antonio Djakovic, Switserse rekordhouer in die 200 m- en 400 m-vryslag ná sy oefening by die Coetzenburg-swembad. FOTO: Krotoa Felix
Volgens Kutscher is Stellenbosch die ideale plek om te oefen: “Die perfekte weer en vriendelike mense maak oefening maklik en laat ons altyd tuis voel.” Hulle berei tans voor vir die Europese kampioenskappe wat later vanjaar in Parys, Frankryk plaasvind.
Deel van die klub is Olimpiese swemmer, Antonio Djakovic, Switserse rekordhouer in die 200 m- en 400 m-vryslag. Djakovic het ’n besering opgedoen voor dié oefenkamp en moes vir drie weke rus. Nou is hy terug in die water, maar oefen minder as die res van die span.
Hy beskou ook Stellenbosch as ’n “tweede huis” omdat hy lief is vir die son en die mense. “As ek in Stellenbosch is, is ek gelukkig. En as ek gelukkig is, oefen ek op my beste,” het Djakovic verduidelik
Die Maties-swemfasiliteit beskik oor ’n 50 m-verhitte swembad – die standaardlengte van ’n Olimpiese grootte swembad. Hierdie maak dit ideaal vir internasionale én plaaslike spanne om te oefen. “Dit is ook goed vir plaaslike swemmers om te oefen waar internasionale swemmers oefen,” het Candice Williams, een van die Senior Sportbestuurders gesê.

Hoofafrigter, Pablo Kutscher, met die SC Uster-span tydens hul oefening in Stellenbosch. FOTO: Krotoa Felix
Kutscher het bygevoeg dat die span tans “die beste in Switserland” is. Hulle beoog om aan internasionale sowel as nasionale kompetisies deel te neem met die hoop om vir die Olimpiese Spele in 2028 te kwalifiseer. “Ons wil ook aan die Wêreld-kampioenskappe sowel as die Olimpiese Spele in 2028 deelneem,” het Kutscher verduidelik.

Hoofafrigter van SC Uster, Pablo Kutscher, besig om tyd te hou tydens die spanoefening by die Coetzenburg swembad. FOTO: Krotoa Felix
