Foutiewe meters los Cloetesville inwoners sonder krag

Inwoners van Cloetesville ervaar aanhoudende kragonderbrekings, sommige huishoudings vanaf September 2025 en ander vanaf Januarie, omdat hulle nie eenhede op hul voorafbetaalde kragmeters kan laai nie.

Hulle koop elektrisiteitstokens wat deur elektrisiëns met ’n ligte masjientoestel handmatig op die meter gelaai word.

Die laai proses verg dat die munisipale elektrisiëns met die masjientoestel tot by die huis van inwoners kom om die krageenhede optelaai. Gemeenskapslede moes al van 07:00-19:00 vir werkers wag om op te daag.

’n Beeld van die foutiewe voorafbetaalde meterboks in die huis van ’n inwoner wat kragonderbrekings in Cloetesville ervaar.
Wanneer die kragmeter afgeskakel is, word geen eenhede op die stelsel vertoon nie. Hierdie boks moet deur ’n elektrisiën nagegaan word om eenhede te laai en die krag te herstel. FOTO: Zeta Soule.

’n Inwoner van Cloetesville wat onder die voorwaarde van anonimiteit oor die situasie gepraat het sê die beskerming van hul identiteit is nodig om moontlike gevolge te voorkom. Die inwoner sê: “Ons kragmeter is foutief, dit is stukkend en ons kan dit nie gebruik nie. 

“Elke keer as ons elektrisiteit koop, moet ons die elektrisiteitsafdeling bel en dan moet ons ure wag voordat hulle kom.”

Die toestel is egter eers beskikbaar wanneer die nagskofspan aan diens is. Volgens die inwoner beteken dit dat navrae en probleme eers snags opgelos kan word.

’n foto van die Tennantville gemeenskap ingang.
Inwoners van Tennantville het dieselfde probleme ervaar, ná weke sonder ’n werkende meterboks het die Layman-familie ’n nuwe meter ontvang, terwyl ander battery-gedrewe meterbokse ontvang het. FOTO: Zeta Soule

In Tennantville het Christian en Mariana Layman dieselfde probleem ervaar waar hul voorafbetaalde-kragmeter in Januarie eers tekens van gebrekkigheid begin wys het. 

Ná weke sonder ’n funksionerende meterboks het die Layman-familie ’n nuwe meter ontvang, na herhaaldelike versoeke vir hulp by die munisipaliteit aangemeld is. “Hulle het 10 uur gister gekom en ’n nuwe boks in gesit, ons krag is nou aan,” sȇ Mariana Layman. Sy het die opmerking op 4 Maart gemaak.

’n foto van die nuwe kragmeter wat die munisipaliteit verskaf.
Die munisipaliteit verskaf die nuwe weergawe van die kragmeter wat inwoners nou self eenhede kan laai. FOTO: Verskaf/ Mariana Layman

Alhoewel die Layman-familie se kragboks nou herstel is, bly daar steeds ander inwoners in die gebied wat met dieselfde meterprobleem sukkel. 

Natasha Williams, voorsitter van die Tennantville-gemeenskapskomitee, het namens die Layman-familie vir die raadslidkomitee, Pieter Hough gekontak om met Rozette Du Toit, wykraadslid oor die probleem te kommunikeer. 

Volgens Hough is die saak tans in Du Toit se hande. “Ek het versoek dat alle voorafbetaalde meters in Tennantville nagegaan word, aangesien meer as een inwoner probleme ervaar,” sȇ Rozette Du Toit.

“Dit is frustrerend om herhaaldelik die munisipaliteit te moet bel, aangesien ons as SASSA-mense nie elke dag airtime kan koop nie,” sȇ Mariana Layman..

Jacques Johannes, ’n inwoner van Tennantville, sê hulle kragmeter werk met twee batterye:  “Toe die battery pap raak, het die meter afgeslaan en geen units het op die stelsel verskyn nie”. “Ons het dit gerapporteer, maar toe die munisipale werkers dit kom regmaak, [was daar vir ons gesê] ons is self verantwoordelik vir die vervanging van die batterye.” 

Inwoners het hulle ontevredenheid oor die situasie in ’n gemeenskapsgroep op Facebook uitgelaat omdat hulle basiese huishoudelike take nie sonder krag kan voltooi nie. “Ons sit ook met [’n] baba [en] kan nie bottel maak nie,” skryf Julia Layman.

Die munisipaliteit se hoof van kommunikasie, Stuart Grobbelaar, sê tegniese spanne ondersoek tans die aangemelde probleme met die kragmeters: “Ons tegniese spanne is besig om vas te stel of hierdie gevalle geïsoleerde hardewarefoute, normale slytasie of ’n wyer tegniese probleem aandui. Ons kan bevestig dat voldoende voorraad vir die vervanging van krageenhede en meters beskikbaar is om bevestigde foute aan te spreek.”

, ,