Neelsie Spar maak reg vir opwindende veranderinge onder bestuur van jong besigheidsman

Die Neelsie Kwikspar sal binnekort veel meer as net ’n klein kruidenierswinkel wees onder bestuur van die 23-jarige Maarten Venter.

Hierdie jong bloed het groot planne vir die winkel, wat ’n vegetariese- en vegan-afdeling, ’n roerbraaistasie, ’n permanente sushi-sjef en moontlik ’n Tops-winkel insluit.

Ná vier jaar se werk op die ryk-en-beroemdes se seiljagte, en ontmoetings met bekendes soos Leonardo Di Caprio, Paris Hilton en Martin Garrix, het Venter besluit dat dit tyd is om sy entrepreneursdrome na te streef.

Photo-1.png

Venter (regs) en lede van die seiljag bemanning in 2016 in Monaco. FOTO: Instagram

Só het hy self sy deel van die Neelsie Kwikspar uitgekoop met geld wat hy verdien het op die seiljagte, en is hy sedert die begin van 2017 mede-eienaar, saam met sy pa en oupa, en besturende direkteur van die winkel.

“Ek het deurgedruk, kapitaal gebou, dit weggesit en geweet al is dit ’n groter risiko, gaan ek vir myself werk en van daar af foute maak en bou,” sê Venter.

Photo 2 (1)

Die drie generasies van Venters, al drie mede-eienaars van die Neelsie Kwikspar. Maarten Venter (links), Jasper Venter (middel) en Maarten Venter (regs). FOTO: Verskaf

“Dit was ’n geleentheid wat vir my gebied was … en ek het nie eens twee keer daaroor gedink nie. Ek het al my geld daarop gesit en daar begin.”

In sy tyd as bestuurder het hy al baie veranderinge aangebring. Daar is nou vyf ekstra tille, amper 50 werknemers en talle ander verbeteringe insluitend gesonder kos, bou-jou-slaai geriewe en hul gewilde R9 springmielies.

Hy het die vloerplan van die besigheid herontwerp en die hele vloei van die winkel verander. Ná hy voorheen gesien het hoe studente die ry in die winkel sien en dan eerder wegloop, het hy verseker dat die kopers nou binne 3 minute gehelp word waar dit voorheen omtrent 10 minute geneem het.

“Tyd is die kosbaarste ding. Ek wou dit net vir almal gerieflik maak.”

Die planne stop egter nie hier nie. Die ambisieuse Venter gaan binne die volgende twee maande ’n roerbraai stasie bekendstel en voor die einde van die semester ’n sjef aanstel wat permanent vars sushi voorberei.

Hy gaan ook ’n groter fokus op gesondheid plaas, met ’n afdeling wat slegs vegan en vegetariese kos verkoop wat in die volgende twee maande sal opduik.

Photo 3.jpg

Maarten Venter as klein seuntjie in ’n winkeltrollie. Saam met hom is sy oom, Don Fourie. FOTO: Verskaf

Venter wil ook die winkel meer omgewingsvriendelik maak.

Alhoewel die Kwikspar reeds herwinningswater gebruik, gaan Venter in die toekoms vir kopers die opsie gee om eko-vriendelike verpakking te kies.

Verder het hy groot planne om moontlik die spasie langs die Kwikspar, wat voorheen die Neelsie se kopieërwinkel was, oor te neem en die Kwikspar verder uit te brei.

Daarby beplan hy ook om, indien al die prosesse glad verloop, ’n Tops-winkel oop te maak in of naby die Neelsie.

“Nie oornag nie, maar dit gaan gebeur,” sê Venter oor die beoogde ontwikkeling.

Photo 4 and Feature.jpg

Maarten Venter, jong mede-eienaar van die Neelsie Kwikspar. FOTO: Verskaf

Oor sy passie vir besigheid sê Venter dat hy nog altyd homself as ’n entrepreneur gesien het. Volgens hom het hy al van 16-jarige ouderdom af geweet die besigheidswêreld is vir hom.

“Ek stel belang om vir die beste pryse en beste gehalte iets vir mense te bied wat hulle oor opgewonde kan raak.”

 

,