OPINIE: Rassie moet kennis neem – swart uitnemendheid seëvier in Super Rugby

Ná vyf weke van opwindende Super Rugby-aksie is dit duidelik dat swart* spelers tans besig is om transformasiemites te vernietig. Dit behoort ’n groot aanwins te wees vir die nuwe Springbok-breier Rassie Erasmus, wie Allister Coetzee opvolg in wat waarskynlik die donkerste tyd is in Springbok-geskiedenis ná isolasie.

Swart spelers maak hul teenwoordigheid bekend in hul onderskeie spanne. Damian Willemse, Siya Kolisi, Aphiwe Dyanti, Terra Mthembu en Embrose Papier is slegs ’n paar van die name wat na vore kom wanneer daar verwys word na spelers van kleur wat uitblink in vanjaar se Super Rugby-reeks.

Dit is belangrik dat swart spelers opgeroep word na die Springbok-span en nie net om tackle-sakke op toer rond te dra nie. Warrick Gelant, Lukhanyo Am, Curwin Bosch en Bongi Mbonami was onderbenut as reserwes op die Europese toer aan die einde van 2017.

Een van Coetzee se mislukkings was sy onvermoë om swart spelers behoorlik in die beginspan te integreer, ten spyte van sy suksesvolle transformasie-rekord as die Stormers-hoofafriger, wat uiteindelik aan hom rugby se mees gesogte pos verleën het.

verteenwoordiging

Jong swart spelers verdien om meer verteenwoordiging in Springbokke te sien. FOTO: Ross Michaels

Coetzee het ook nie veel gedoen om die persepsie van swart spelers in tradisionele “kwota”-posisies soos haker, flank en vleuel te verander nie. Ja, Elton Jantjies het wel die losskakel-posisie sy eie gemaak, maar dit is moeilik om die toppunte-behaler in die Super Rugby-reeks van 2017 te ignoreer.

Voormalige Springbok-breier Jake White, wie die Bokke in 2007 na Wêreldbeker-sukses afgerig het, is van mening dat die Stormers se losskakel, Damian Willemse, die man is wat die Springbokke se agterlyn kan laat vlam vat. Hy is braaf op die verdediging en is ’n goeie skopper, maar dit is veral sy spoed wat vir White beïndruk het. White het selfs Erasmus aangemoedig om die 19-jarige te kies vir die nasionale span in sy rubriek vir die All Out Rugby-webtuiste.

Teen volgende jaar behoort die Springbok-span uit 50% spelers van kleur te bestaan, volgens SARU se strategiese transformasie plan. Hoewel transformasie in rugby dikwels as ’n hindernis gesien word, kan dit heel moontlik die oplossing wees vir een van die Springbokke se mees teleurstellende eras. Indien rugby-base die eksklusiewe benadering van spanseleksie afskud, sal die sport toegang verleën aan die meerderheid van Suid-Afrikaners en sodoende die poel van talent vergroot.

In 2016 en 2017 het die Springbokke 25 wedstryde gespeel, slegs 11 gewen, 12 verloor en twee gelykop gespeel in ’n 44% sukses-rekord vir Coetzee, volgens News24.

Erasmus sal as direkteur van SARU dien tot en met 2023, maar as hoofafrigter slegs tot 2019 wanneer hy die Bokke na die Rugbywêreldbeker in Japan sal lei. Dit is die ideale geleentheid om talentvolle jong swart* spelers te ontwikkel in die Groen-en-Goud-trui.

Die Springbokke se eerste wedstryd vanjaar sal op 2 Junie 2018 teen Wallis in Washington, VSA, wees. Dit is slegs ’n week voordat die Bokke die Engelse aanpak in ’n driewedstryd-toetsreeks in Suid-Afrika.

*In hierdie artikel verwys die woord ‘swart’ na enige persoon van kleur wat nie as wit in Suid-Afrika geklassifiseer word nie.