Stellenbosch-natuurbewaringsgroepe veg vir inheemse fynbos

Ten spyte van rowwe terreine en ’n tekort aan gewillige hande, veg twee plaaslike natuurbewaringsgroepe, Friends of Stellenbosch Mountain (FSM) en EcoMaties, vir die voortlewing van inheemse plantegroei en die vernietiging van die omgewing se tientalle indringerspesies.

EcoMaties, ’n studente organisasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), word deur studentevrywilligers bestuur en loods gereeld projekte op en rondom die kampus ten bate van die omgewing.

 

Foto 1

Catherine Meyer, voorsitter van EcoMaties, is gereed vir aksie. FOTO: Arleen Stone

Hulle het jare gelede met FSM saamgespan om dié niestaatsorganisasie se ‘Alien Hack’-projek te bevorder, wat poog om die Stellenboschberg en die Paradyskloof-natuurgebied van indringerspesies soos die swartwattel-, portjackson- en dennebome, asook groot bitterappels (of te wel ‘bugweed’) te red.

Professor Hans Eggers (59), stigter van FSM en ’n dosent in fisika aan die US, het byna twee dekades gelede besluit om sy kennis van en liefde vir die Kaap se inheemse plantegroei na daad oor te skakel.

Hy het verduidelik hoe hy verskeie van die plantspesies in die natuurgebied nie kon identifiseer nie en het ná navrae besef dat dié omgewing grotendeels deur uitheemse plante oorgeneem is.

Foto 2

Hans Eggers, stigter van Friends of Stellenbosch Mountain, bly sedert 1996 in Paradyskloof, net buite Stellenbosch. FOTO: Arleen Stone

“Toe begin dink ek, ek gaan manalleen iets hieraan doen, maar toe besef ek binne ’n paar maande dat daar geen manier is hoe ek kan wen nie,” het Eggers laggend vertel.

Daarna het hy en ’n paar vrywilligers begin om hulle maandelikse ‘Alien Hack’ te hou waartydens hulle indringerspesies in die Paradyskloof-natuurgebied uitkap en bespuit.

Foto 3

Een van die getroue FSM-lede, Chris Torrance (75), bespuit afgeknipte indringerplante se wortels sodat dit nie teruggroei nie. FOTO: Arleen Stone

“Mense besef nie noodwendig altyd hoe belangrik dit is wat ons daar [Paradyskloof-natuurgebied] doen nie,” het Eggers vertel.

Volgens hom is dit wel belangrik dat inwoners en studente fokus op natuurbewaring en om ’n groen leefstyl te handhaaf op en om die kampus, maar dat hulle nie die groter prentjie miskyk nie.

Hy verduidelik dat indringer plante vir groter omgewingsprobleme soos waterskaarste, brande en die uitsterwing van inheemse plantegroei verantwoordelik is.

Catherine Meyer, voorsitter van EcoMaties, het genoem dit neem “20 jaar om alle spore van denne in die omgewing te verwyder en byna 30 jaar vir swartwattel.”

Volgens die webtuiste van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake brand indringerbome tot 10 keer warmer as fynbos en is aansienlik moeiliker om onder beheer te bring.

Die departement se ‘Working on Water’-taakspan beskryf verder hoe hierdie uitheemse spesies biljoene rand se skade elke jaar veroorsaak en boonop die land se biologiese diversiteit bedreig. Hierdie indringers vererger ook die gevolge van oorstroomings en gronderosie en beset na beraming 10% van die land se oppervlakte.

Foto 4

Torrance (63), verwyder byna elke naweek saam met haar man indringerplante in die Paradyskloof-natuurgebied. FOTO: Arleen Stone

“Hoekom is die fynbos daar? Omdat dit die optimale reaksie is op die omgewing se klimaat en omstandighede. Die fynbos is dit wat oorbly as alles anders verkeerd gaan,” het Eggers gesê.

Die groep doen soms ook spesiale projekte waar indringerplante teen gevaarlike hange van die berg verwyder moet word en hulle benodig dan jonger of meer kundige persone om te help.

Foto 5

Studentevrywilliger Josh Suchet (21), meet kragte met ’n jong denneboom. FOTO: Arleen Stone

“Om betrokke te word is so maklik en kan werklik ’n verskil maak,” het Meyer beaam.

FSM, wat ná aan die Stellenbosch Munisipaliteit werk, staar tans egter ’n tekort aan hande in die gesig. Meeste van hul lede is senior-inwoners of pensioentrekkers wat dikwels wegtrek ná hul aftrede of fisies nie meer kans sien vir die taak nie.

“Studente is ook altyd onder druk. Die feit dat ek dit doen is ook ’n uitsondering. Daar is min dosente wat dit kan doen of die tyd maak om dit te doen. Mense wat kinders het kom ook gewoonlik net af en toe, want die kinders het elke Saterdag iets aan,” het Eggers verduidelik.

“Dis ’n klein groep wat ’n baie groot taak doen om hierdie probleem onder beheer te kry. Ons gaan dit nooit wen nie, maar net om dié ding op ’n vlak te hou waar die indringerplante nie kan oorneem nie is ’n baie belangrike taak en jy besef dit eers as jy buite is.”

Foto 6

Lede van Friends of Stellenbosch Mountain en EcoMaties vier ’n dag se harde werk. FOTO: Hans Eggers

FSM en EcoMaties is deurgaans op soek na skenkings en vrywilligers. Besoek hulle webtuistes vir meer inligting.

,