’n Kollig op Almero Welgemoed

Na bykans sewe jaar in die musiekbedryf, en twee albums later, bly Monochromie-sanger Almero Welgemoed steeds die teruggetrokke hoërskoolseun wat in die geheim gesing het. Hy het met MatieMedia se Bianke Neethling gesels oor die trajek van sy loopbaan, sy verhoudings met sy familie en vriende, en oor sy toekomsplanne.

“My naam is Almero, maar sommige mense noem my Almero. Jy kan kies. Op ’n Sondag soos vandag verkies ek soms ook Frans.” Dis Almero Welgemoed wat dié kwinkslae oor die mikrofoon uiter. Hy is besig met ’n optrede saam met mede-sangers Jako Meyer en Deon Meiring.

Sy verhoogpersoonlikheid is wêrelde verwyder van die skaam man wat slegs ’n paar ure vantevore met MatieMedia gesels het.

Tóé het Welgemoed vertel dat hy as hoërskoolseun glad nie voor ’n gehoor kon sing nie en beslis nie sy toekoms as musikant kon voorspel nie.

Almero Welgemoed is 24 jaar oud en is al vir bykans sewe jaar deel van die musiekbedryf. FOTO: Bianke Neethling

’n Nederige begin

In Welgemoed se oë het hy dit nog nie in die musiekbedryf “gemaak” nie. Dit is ten spyte van wat hy en sy broer Nico Welgemoed gedink het nadat hulle hul eerste musiekvideo in 2016 op YouTube gelaai het. 

“Ons het gedink die volgende oggend gaan Huisgenoot ons bel,” lag hy. “Ek, definitief, is nie goed genoeg om ’n oornag-sensasie te wees nie. So, dis goed ek was nie een nie.”

Welgemoed sê sy loopbaan het eers begin “sneeubal” toe die musikant Bouwer Bosch op dié musiekvideo afgekom het. Bosch het die twee broers, wat in daardie tyd nog op ’n “gap jaar” in Mosselbaai gebly het, na Johannesburg genooi. Daar het hulle saam musiek gemaak en uiteindelik die besluit geneem om na Johannesburg te trek. 

“Ons sou definitief nie doen wat ons vandag doen as dit nie vir daardie tydperk en vir Bouwer was nie,” verduidelik Welgemoed. 

Bosch het uit sy pad gegaan om die broers te help, sê Welgemoed. Hy beklemtoon sy dankbaarheid vir Bosch se impak op die trajek van sy loopbaan.

“Hy het ons regtig gehelp om ’n loopbaan te vorm eerder as net een treffer wat baie goed doen,” sê Welgemoed. Hy erken ook laggend dat sy wi-fi nog tot onlangs op Bosch se naam was.

“Ek sal nie sommer my diepste stories vir mense vertel nie. Ek sal eerder leidrade daar in die musiek sit.”

’n Beskrywingskwessie 

Welgemoed beskou homself nie as talentvol nie, maar eerder as “geoefen”: Hy moet hard werk om dit te “fake”. As bewys hiervan vertel hy van sy “love-hate relationship” met die tjello. Dit is ’n instrument wat te moeilik was om te geniet, maar mooi genoeg dat hy wou aanhou probeer, sê hy.

Hy teken ook beswaar aan teen die beskrywing “diep”, wat dikwels in die media met sy naam geassosieer word. Volgens Welgemoed dink ander mense ook maar dieselfde dinge as wat hy dink – hy word net as “diep” beskryf omdat hy daaroor praat. “In daardie opsig, klink ek net diep.” 

’n Byvoeglike naamwoord waarmee hy wel sonder twyfel identifiseer is “emosioneel”. Hy erken dat hierdie eienskap nie altyd goed is nie, maar dat dit tog soms ’n bron van inspirasie is. 

Albei sy albums gaan oor verhoudings. Hy erken egter dat sy tweede album, Junie;, hartseerder is as die eerste (en, in retrospek, ’n bietjie “soetsappig”). Hy reken dit is omdat sy eerste album, Maandag, in samewerking met baie ander mense was. Dit het dus “gemengde gedagtes” bevat. 

Junie; is egter tydens die Kovid-19-inperking in sy ouers se motorhuis (wat hy en sy broer in ’n studio omskep het) net deur dié twee gemaak. Junie; “leef so amper in ’n bubble”, verduidelik hy. Verhoudings is deur die inperking beïnvloed, meen hy, en die album weerspieël die “hunkering en verlange” uit daardie tydperk. 

Op die musiekstromingsplatform Spotify, is Vuurvas Almero Welgemoed se gewildste liedjie. FOTO: Bianke Neethling

Verhoudings 

Verhoudings is nie net ’n belangrike tema in Welgemoed se musiek nie, maar ook in sy lewe. Hy sien die mense om hom as sy “huis”. Toere kan dus moeilike ervarings wees vir hom.

Sy oplossing hiervoor is egter eenvoudig: Hy bring sy huis saam. “Daar is vyf mense wat absoluut niks te doen het met vandag se show nie, maar wat ek net gesê het moet saamkom.” Hierdie groep sluit sy broer en sy vrou, Miné (met wie hy stilletjies in Desember 2020 getrou het), in. 

Hy verduidelik dat hy onlangs die waarde van ’n groot ondersteuningsnetwerk ontdek het.

Vir jare was hierdie netwerk net sy broer, Nico. Nico is sy foto-en videograaf, en ook sy vervaardiger. Maar Welgemoed sê vir hom is sy broer amper soos Superman

“En wie gaan nie beter voel as Superman naby is nie?”

Almero Welgemoed, Deon Meiring en Jako Meyer se vierde optrede van hulle 2022-teatertoer het by Marianne Wine Estate in Stellenbosch plaasgevind. FOTO: Bianke Neethling

Daar is ’n ooglopende gemak in Welgemoed terwyl hy oor sy werk praat. Hy is bewus dat daar meer bekend is oor sy kuns as oor sy persoonlike lewe – en dit is ook hoe hy dit verkies. 

“As jy na ’n argitek toe gaan, gaan hy nie oor homself praat nie — hy gaan oor sy bouplanne praat,” sê Welgemoed. Dieselfde geld vir hom wat sy musiekloopbaan betref. 

Hy is ’n baie private mens. “Ek sal nie sommer my diepste stories vir mense vertel nie. Ek sal eerder leidrade daar in die musiek sit.”

Waar die verlede en die toekoms ontmoet

In ’n Rooi Rose onderhoud in 2017, noem Welgemoed sy vier toekomsplanne: Hy wil ’n boek publiseer, ’n vollengte album vrystel, musiek saam met Spoegwolf skryf en ’n liedjie vir Riaan Cruywagen sing. In 2022 het hy al drie van daardie drome bereik. (Hy het steeds nie vir Cruywagen ’n liedjie gesing nie en dink ook nie hy sal ooit die moed bymekaar kan skraap nie.) 

Hy het boonop onlangs ook die wêreld van skilderkuns betree. Hierdie manier om homself uit te druk, vind hy meer gemaklik as musiek.

“Ek dink minder daaroor, wat lekker is. As mense dit koop, en dit beteken iets vir hulle, is dit net ’n added bonus. Maar dit is nie my eerste doel daarmee nie. My eerste doel daarmee is eintlik net om te verf en fun te hê.” 

Almero Welgemoed beskryf homself as “glad nie fancy nie” en as iemand wat nie op sy plek voel in ’n plek soos Stellenbosch nie. FOTO: Bianke Neethling

Welgemoed werk ook tans aan ’n derde album en het moontlik ’n kykNET-reeks op die horison. 

Ten spyte hiervan, lag Welgemoed wanneer hy gevra word oor die oomblik wat hy dit “gemaak” het. “Ek wag nog vir daardie oomblik […] Dalk eendag voel ek definitief so,” sê hy. Tans moet hy homself nog oortuig dat dinge besig is om te werk. Hy stel dit anders: “Ek is besig om dit te maak.” 

Vir Welgemoed is daar nog ’n “gap tussen wie hy is, en wie hy wil wees, maar hy erken dat die twee nader aan mekaar is as wat hy soms dink. 

Hy vertel van ’n gesprek met ’n vriend waar hy gevra is of mens ooit “daardie diepste vlammetjie wat binne jou is – die essensie van wie jy is – kan verander”. 

“Ek hoop so,” sê hy op daardie vraag tussen hom en sy vriend. “Want daardie diepste ‘ek’ is eintlik maar net ’n baie bang kind [en] wie ek wil wees is… nie dit nie. Ek sal graag […] wil hê my vlammetjie moet nie so wapper nie.” 

Hy het onlangs tot die insig gekom dat “wie jy is”, nie altyd mooi is nie, maar dat baie van die dinge wat ’n mens doen, daaruit spruit. “Ek dink nie noodwendig dat ek sal sê wat ek sê, of skryf wat ek skryf, of maak wat ek maak, as dit nie vir daardie senuweeagtige kindjie diep binne was nie.” 

“Mens moet ook leer lief wees vir daardie deel waarvan jy nie altyd hou nie,” sê hy. “En wie ek wil wees is… beter as vandag? Hopelik, ja.”

In 2018 het MatieMedia in ’n onderhoud met Bouwer Bosch, en Nico en Almero Welgemoed vir vyf vinnige feite van die musikante gevra. In ’n 2022-onderhoud met Almero, het MatieMedia vir hom dieselfde vrae gevra om te sien hoe sy antwoorde verskil. GRAFIEK: Bianke Neethling

, ,