Bouwer Bosch & die Welgemoed-broers: ’n Balans tussen film en musiek

In afwagting van die nuwe Afrikaanse aksie-komedie Thys & Trix, het Bouwer Bosch, tesame met die sanger, Almero, en sy videograaf-broer, Nico Welgemoed, ’n toer in die Wes-Kaap afgelê om nie net die film te bemark nie, maar om ook sy nuwe musiek vir aanhangers in Wellington, die Paarl en Stellenbosch te speel.

Tydens ’n ontmoeting by Company Social Brasserie, onder Drostdy Teater waar die Stellenbosch-vertonings tydens dié toer plaasgevind het, vertel Bouwer en die Welgemoed-broers meer oor die film, musiek, en waar hulle balans vind.

1 (1)

Bouwer Bosch tree saam met Almero Welgemoed, liedjieskrywer en sanger, op. Bouwer het Almero in 2016 op YouTube ontdek. FOTO: Nico Welgemoed  

Oor musiek:

Bouwer het in 2006 reeds op die musiektoneel verskyn toe hy en drie vriende (Bennie de Jager, en Hein en Ruan Kruger) die Afrikaanse rockgroep Straatligkinders bekendgestel het. Ná jare se sukses op die Afrikaanse musiekkanaal, MK89, vertonings by feeste soos Oppikoppi, en die vorming van nóg ’n musiekgroep, genaamd Dans Dans Lisa, het Bouwer as solo-kunstenaar begin optree en ook sy voete in die filmbedryf gevind.

In 2016 het hy die Welgemoed-broers, wat daardie tyd nog op ’n gap-jaar in Mosselbaai was, genooi om by hom in Johannesburg vir ’n week te kom kuier nadat hy een van Almero se video’s op YouTube gesien het. Almero en Nico Welgemoed is in Bloemfontein gebore en het daar groot geword, maar vandag is hulle permanente inwoners van Johannesburg en beskryf Almero homself as ’n liedjieskrywer en sanger, en Nico homself as ’n foto- en videograaf. Bouwer het vir beide broers ’n mentor geword in die musiek- en tegniese bedryf.

Bouwer vertel dat sy nuutste enkelsnit, “Skatkis”, wat op 30 April vrygestel is, oor “die besef dat almal verlore wrakke is wat sink met ’n skatkis” gaan. “Soms probeer jy die lewe beheer en soms laat jy mense toe om jou te beheer,” sê hy. “Dit is juis dan wanneer jy moet laat gaan en besef dit is okay om nie altyd in beheer te wees nie en om ook soms weerloos te wees.”

Hy vertel dat dié liedjie ’n ander soort klank het as sy vorige werk, maar moedig aan dat dit presies is wat hy wou bereik. “Ek het nog altyd vir myself gesê ek wil ’n musikant wees, nie ’n ‘genre-kant’ nie,” vertel Bouwer. “Ek wil musiek maak, maar nie net in ’n sekere genre nie.”

Bouwer Bosch se nuwe enkelsnit, “Skatkis”, gaan oor “die besef dat elke persoon ’n wrak is met ’n skatkis binne hulle”. Volgens Bouwer behoort die amptelike musiekvideo vir ‘Skatkis’ binne die volgende drie weke bekendgestel te word.

Almero vertel ook oor sy debuut solo-album wat binnekort vrygestel sal word en sy enkelsnit, “Monochromie”, wat op 23 Mei beskikbaar sal wees. “Die album is eintlik glad nie solo nie, dit is collaboration van voor tot agter,” sê hy. Volgens Almero sal hy en Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, volgende week koppe bymekaarsit om aan die res van die album te skryf.

Almero verduidelik dat “Monochromie” oor die “konstante soektog na iemand of iets wat jou meer kan laat voel” gaan. Volgens hom sien mense net in een kleur en is hulle opsoek na iemand om vir hulle die hele spektrum te wys.

Feature Image 2

Bouwer Bosch is nie ’n onbekende gesig in die Afrikaanse musiek- of filmbedryf nie. Hy is vanaf 22 Junie te sien in die nuwe aksie-komedie Thys & Trix. FOTO: Verskaf.

Oor die film:

Alhoewel Bouwer met ’n Ghoema-toekenning in 2012 vereer is vir sy eerste album, Almal maak foute, beperk hy homself nie net tot musiek nie. In 2013 het hy sy debuut as akteur in die film Klein Karoo gemaak en binnekort is hy ook te sien in Thys & Trix, waar hy teenoor sy vrou, die bekende aktrise Leandie du Randt-Bosch, speel. Dié aksie-komedie sal op 22 Junie landswyd in teaters draai.

“Die fliek gaan oor ’n broer en suster wat in die polisiemag is en mekaar nie kan verdra nie,” vertel Bouwer. “Hulle moet undercover gaan as ’n getroude paartjie om ’n dwelmsindikaat te gaan bust.”

Om die rol van die broer teenoor sy vrou in werklikheid aan te neem, vertel Bouwer was nie vir hom moeilik nie. “Dit was awesome om teenoor haar te speel,” vertel hy. “Leandie is actually die akteur in ons familile, musiek is my background. Dit was awesome om te sien hoe sy werk.”

Die rede waarom dié paartjie besluit het om nie ’n romantiese film te doen nie, is volgens Bouwer eenvoudig: “Ons wou nie ’n romantic comedy doen waarin ons twee [op mekaar] verlief raak nie, want dit is so predictable.” Hy verseker dat daar wel romanse in die film is en verklap dat sy karakter verlief raak op iemand anders.  

Bouwer en Leandie verkies om hul huwelik uit die publieke oog te hou. Daarom het hulle grense opgestel om dít wat hulle vir mekaar voel, met mekaar – en nie die wêreld – te deel. “Daar is baie couples wat elke tweede week op die voorblad van koerante en Huisgenoot is en daar is niks verkeerd daarmee nie, ek dink maar net omdat ek en Leandie baie van sosiale media hou, moes ons grense stel om een deel vir onsself te hou,” sê Bouwer. “Hoe ons oor mekaar voel moet ons vir mekaar kan sê, nie vir ons followers nie.”

3

Die aksie-komedie Thys & Trix sluit bekende akteurs soos Ivan Zimmerman, Dorette Potgieter, Carine Rous, Bouwer Bosch en Leandie du Randt-Bosch in. Die film sal op 22 Junie landswyd in teaters draai. FOTO: The Film Factory

Oor balans:

Vir die Welgemoed-broers is musiekmaak, foto- en videografie ’n absolute passie. “Ek het vir twee maande by CTU, in Bloemfontein, IT geswot, maar dit het nie uitgewerk nie,” vertel Nico. “Ek wou medies gaan swot,” sê Almero. “Maar toe besef ek ek is nie heeltemal uitgeknip daarvoor nie. Ek het vir ’n tydjie lank gaan shadow tydens chirurgie, maar dit was nie die beste oomblikke van my lewe nie. Mense word soos stukke vleis behandel en ek is maar ’n emosionele mens.”

Almero verkies om sy emosies in gedigte uit te druk en kyk veral op na die werk van Ingrid Jonker. “Ek hou van melodramatiese mense,” vertel hy. “Haar lewe was nie so shit nie, sy moes nie in die see ingeloop het nie. Maar ek dink dis cool, want dis cinematic. Ek beveel dit nie aan nie, maar sy het ’n impak gemaak.”

Hy beskryf homself nie graag as “diep” nie, en sê dat alle mense diep denke het. “Ons is in ’n samelewing waar almal diepte beskou as magical, maar almal dink diep. Hulle sê dit net nie en skryf nie liedjies daaroor nie, so niemand weet dit nie,” vertel Almero. “Ek maak ’n punt daarvan om dit uit te braak en in mense se gesigte te druk en te sê: Kyk na al hierdie shit wat in my aangaan.”

4

Die Welgemoed-broers, Nico (regs) en Almero (links), het na Johannesburg verhuis om hul kreatiewe drome na te streef. Nico is tans ’n foto- en videograaf en Almero is ’n liedjieskrywer en sanger wat dikwels saam Bouwer Bosch optree.

Vir Bouwer lê balans in musiek. Hy het besluit om vanjaar strenger “nee” te sê vir TV- en filmproduksies omdat hy voel hy is ’n beter skrywer en musikant as akteur en filmmaker. “Jy moet maar sny – jy kan nie alles in jou lewe doen nie. Jy moet ’n balans vind, anders gaan jy iewers iets afskeep,” vertel hy. “Partykeer bottelnek alles. Ek wil nie meer so baie TV- en movie stuff doen nie, musiek is waar dit alles vir my begin het en musiek voel steeds vir my soos die powerful medium tussen die twee mediums om boodskappe oor te kry en idees oor te dra.”

Bouwer verkies om die glas altyd halfvol te sien en glo dat mense floreer op negatiwiteit. “Ek dink dis ’n cop-out om negatief te wees,” sê hy. “Ons default setting is maar om te bitch en moan oor alles. Daar is meer goed as sleg in die wêreld en dié wat die hardste geraas maak, is die mense wat nie so dink nie.”

Vyf vinnige feite:

Bouwer Almero Nico
Wat maak jou die gelukkigste in die wêreld? Netflix binging – Ek het my Honneurs in Netflix kyk. Vleuelklavier Tyd
Wat maak jou die hartseerste? Die tekort aan empatie in Suid-Afrika Vernedering Selfsugtigheid
Gunsteling film? Get Out Short Term 12 The Perks of Being a Wallflower
As jy een superpower kon hê, wat sou dit wees? Om te vlieg Dat ek mense se probleme myne kon maak as hulle aan my raak Om te kan vlieg
Wat sou ’n goeie theme song vir jou lewe wees? Lauv – “Better with You” Robbie Wessels – “Halley se Komeet” Spoegwolf – “Bittermaan”

– Jana Wentzel 

,