Marguerite van Eeden: ’n ‘Onvoorwaardelike fantastiese vry fokken vrou’

Marguerite van Eeden is ’n aktrise bekend vir haar rolle in onder meer Vaselinetjie, Vergeet my nie en Fynskryf. Alhoewel sy dol besig is, ruim sy steeds tyd in vir haar passies en haar mense. Stefani Terblanche van SMF News gesels met Marguerite oor haar avonture.

Marguerite van Eeden is ’n Suid-Afrikaanse aktrise bekend vir haar rolle in onder meer Vaselinetjie, Afgrond en Fynskrif. Sy hoop om eendag met haar droom aktrise, Martelize Kolver, te werk. FOTO’S: Stefani Terblanche

“Ek het in Botswana 7de Laan gekyk om te leer hoe om Afrikaans te praat. Ek was in ’n Engelse skool daar en my ma-hulle het gesien ek verstaan dit nie lekker nie. Toe kyk ek maar 7de Laan waaroor ek mal is.”

Dít is waar Marguerite van Eeden se passie vir drama begin het. 

Marguerite bestel ’n Americano by die Fifty Five Croissant-kafee in Wellington. Sy het ’n paar dol weke agter die rug: laat aande en vroeë oggende as gevolg van die verfilming van ’n nuwe Showmax-reeks én ’n verlowing. Boonop sy het ’n paar dae na dié onderhoud na Amerika toe gevlieg. 

Sy hou haar pa, Deon van Eeden, se mantra na aan haar hart: “Wees voorbereid, want geleenthede gaan kom en dan moet jy reg wees.”

Haar passie vir drama het al verskeie deure vir haar geopen. Sy het drama as vak op hoërskool geneem en op 16 aan haar ma, Anina van Eeden, gesê dat sy ’n agent wil kry en dalk ’n aktrise wil word, verduidelik Anina.

“Sy was lief vir ‘act’, maar dit was altyd deel van haar persoonlikheid.”

Roy Harris het verlede jaar op Paternoster se strand vir Marguerite van Eeden se hand gevra. Hulle beplan om in 2024 te trou. FOTO: Stefani Terblanche

’n Groei in loopbaan en karakters

“My gunsteling rol wat ek al vertolk het, was definitief my eerste een, Vaselinetjie. Dit was so spesiaal om met Corné van Rooyen te werk en om deel te wees van Anoeschka von Meck se boek en die storie,” sê Marguerite.

“Dit was vir my ’n ongelooflike ervaring, want dit was my eerste fliek en my eerste groot rol. Sy was ook vir my ’n lekker karakter om te speel.”

Marguerite leer iets by elke produksie waarby sy betrokke is. Haar karakters se rolle kom nie sonder uitdagings nie. 

“In Afgrond word my karakter seksueel aangerand deur haar baas en daar was ’n paar moeilike tonele. Maar Stian Bam, die regisseur en die hele span was so ongelooflik,” verduidelik Marguerite. 

“So dit was dalk moeilik in die oomblik, maar ons het dit tot die beste van ons vermoë lig gehou.”

Marguerite is eintlik baie lief vir komedie en indien sy ooit ’n teks sal skryf, sal dit heel moontlik iets komies wees met iets wat kommentaar lewer oor die sosiale kwessies in Suid-Afrika. 

“Iets eg tot ons land toe.”

Die liefde loop hoog

Marguerite het ook onlangs saam met haar verloofde, Roy Harris, die regie-skoene aangetrek om ’n musiekvideo te vervaardig. Die spanpoging was vir haar baie lekker en sy is opgewonde oor die toekomstige videos wat hulle nog gaan maak. 

Nee, jissou. Wat gaan ek nou doen met iemand wat in Amerika bly?

Marguerite en Roy is deur hul gemeenskaplike vriende Edwin en Izel van der Walt aan mekaar voorgestel. Hulle het vir Marguerite gesê dat hy van Amerika af gaan kom kuier. 

“Toe sê ek: ‘Nee, jissou. Wat gaan ek nou doen met iemand wat in Amerika bly?’,” vertel sy laggend. 

Tog, toe hulle met mekaar oor die foon begin gesels het, was die afstand toe nou nie veel van ’n probleem nie. Soos sy sê “the rest is history”.

Roy, wat al vir tien jaar in Amerika bly en ’n operasionele bestuurder by USA4RSA is, het geweet dat sy “die een” is toe hy haar die eerste keer omhels het nadat hulle vir drie maande mekaar oor die foon leer ken het. Hulle bly nou saam in ’n woonstel in Kaapstad. 

“Hy laat my toe om te wees wie ek is: hy laat my lag, hy is ’n goeie mens, hy is my beste pel. Dit is maar ’n gevoel, iets wat ek nie kan verduidelik nie,” sê Marguerite.

“Kommunikasie is vir ons baie belangrik en omdat ons nogals besige lewensstyle het. Dit is ‘crucial’ om mekaar te ondersteun en toe te laat om ons passies uit te leef, al beteken dit ons moet bietjie harder beplan om kwaliteit tyd vir mekaar te maak,” sê Roy Harris, Marguerite van Eeden se verloofde. “Dis gelukkig maklik omdat ons werklik belangstel in mekaar se werk.” FOTO’S: Stefani Terblanche

Onbeplande avontuurlustigheid

“’n Onvoorwaardelike fantastiese vry fokken vrou.”

Dis hoe Emma Wiehman haar vriendin sal beskryf. 

Emma is ’n onderwyseres en het Marguerite deur ’n gemeenskaplike vriendin, Carli van Wyk, ontmoet. Hulle is albei lief vir fotografie en teater. Hulle sal ook “enige geleentheid om in die see te gaan swem aangryp”. 

“Ons is altwee gewoonlik ‘game’ om enigiets aan te vang,” sê Emma laggend. “Ons het al aan belaglike goeters deelgeneem. Enige avontuur of enige iets waaruit mens genot kan put – ons sal daarvoor ja sê.”

Sy verduidelik dat Marguerite mal daaroor is om te lees, en dat haar avontuurlustige natuur beteken dat mens altyd iets lekkers kan doen. Dit beteken ook dat hulle net “op die bank kan muf en Catan speel”.

“Marguerite is een van die beste mense wat ek al in my lewe in ’n 30 Seconds-span gehad het… my pa gaan kwaad wees as hy dít hoor,” sê Emma. “Haar algemene kennis is iets ongeloofliks.”

Marguerite geniet dit vreeslik om te leer. Sy is tans besig met haar doktorsgraad in BA Drama en Teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch wat sy “love”. 

Sy geniet dit ook om oor ander kulture en kookkunste deur haar reise te leer. Sy was al in Engeland, Indië en was onlangs in Amerika. Sy wil ook graag Malawi en Mexiko gaan verken.

’n Kokkedoor?

Roy sê dat Marguerite eintlik ’n goeie kok is – iets wat sy onlangs eers ontdek het – en dat hulle dit geniet om saam te kook. 

“Marguerite is ’n ongelooflike talentvolle mens, maar partykeer vertrou sy nie haarself genoeg in die kombuis om die eindproduk 100% te laat uitvoer nie,” vertel Emma laggend. 

Sy verduidelik hoe hulle al koek gesny het in kos-kompetisies en hoe dit altyd verskriklik baie vreugde verskaf. 

Emma Wiehman, Marguerite van Eeden se vriendin, verduidelik hoe sy en Marguerite ’n bietjie tert gesny het by ’n kos-kompetisie genaamd Kom laat ons braai. KLANKGREEP: Stefani Terblanche

Verder geniet sy ook ’n lekker glasie wyn.

“En as dit witwyn is, is dit eintlik meer ys as wyn,” se Roy laggend. 

‘Vier met ’n glasie vonkelwyn’

Marguerite prioritiseer altyd haar vriende en familie, iets wat Roy van Marguerite bewonder. Hy het ook by haar geleer dat niks te “klein is om te vier met ’n glasie vonkelwyn nie”.

Marguerite word deur haar ma as dierbaar, vol deernis en ’n vredemaker beskryf. “Sy het ’n borrelende persoonlikheid en vat haarself nie te ernstig op nie.” 

’n Mens voel ligter as mens tyd met Marguerite spandeer, asof jou batterye herlaai word, sê Emma. 

Emma vertel ook dat Marguerite in die afgelope jaar baie gegroei het.

“Ten spyte van al die klippe wat al oor haar pad gerol is, hou sy aan om bo haar omstandighede uit te styg. 

“Sy is werklik ’n herinnering vir mense om elke dag die son te kies en te kies om die mooi ook na buite uit te straal.”

, ,