Stellenbosch se 26-jarige wyksraadslid gesels oor leierskap en lipstiffie

’n Mens moet weet waarom jy iets doen, glo Carli van Wyk, wyksraadslid in Stellenbosch. Carli is 26, maar het al verskeie leierskapsposisies beklee en dikwels die wind van voor gekry. Sy het met Stefani Terblanche gesels oor die dinge wat haar motiveer om aan te hou om ’n verskil te maak.

Carli van Wyk is vriendelik en spontaan. Haar ma, Elbé, vertel dat sy “’n goeie hart” het en van jongs af geveg het vir geregtigheid. FOTO: Stefani Terblanche

“As ander mense sit, dan staan ons. As ander mense staan, dan staan ons uit.”

Dit is die motto wat die Stellenbosse wyksraadslid, Carli van Wyk se ma, Elbé, haar gesin van jongs af geleer het. 

Sy is bloedjonk vir ’n wyksraadslid – 26 – en doen dinge op haar manier. 

Sy dra bloedrooi lipstiffie, en is – nes haar mode-ikoon, Audrey Hepburn – lief vir die fynere dinge in die lewe. 

Elbé, ’n musiekonderwyseres, het by Carli ’n passie vir die kunste gekweek. Op skool het Carli klavier-, viool- en sanglesse gehad. Sy was mal oor drama en is steeds lief daarvoor om die teater te besoek.  

Maar die kunste is nie waar sy haarself tans bevind nie. 

Die katalisator

“Iemand het een keer vir my gevra… of die kommentaar gelewer: ‘Jy is nogals lief vir die leierskapposisies’,” vertel Carli. “Ek het nog altyd meer daarna gekyk as ‘waar is die beste platform waar ek ’n bydrae kan maak’.”

Haar belangstelling in leierskap en politiek het op hoërskool begin toe sy by debat betrokke geraak het. Sy het besluit om regte te studeer, aangesien sy geglo het dat dit haar die geleentheid sou bied om haarself te bemagtig, en om só die grootste verskil te maak. 

Carli van Wyk se gunstelingboek is The Hiding Place, wat in Afrikaans as Die Skuilplek verskyn het. Omtrent al haar skooltake was oor die skrywer, Corrie Ten Boom, en die lewenslesse rakende die krag van vergifnis was nog altyd belangrik vir haar. FOTO: Stefani Terblanche

Vir Carli was die belangrikste katalisator egter die moord en verkragting van Hannah Cornelius in 2017. Hannah en Carli het altwee in Irene, ’n Universiteit Stellenbosch (US)-koshuis, gebly.

Carli verduidelik dat die hele koshuis deur “’n baie swaar tyd gegaan” het en dat dit “’n groot impak op die leierskap gehad” het. 

Sy het besef dat sy ’n verskil wou maak, en het in haar tweede jaar aan die US vir primaria gestaan. Dié posisie was nie sonder uitdagings nie, maar tog ’n goeie leerskool. In die daaropvolgende jaar is sy verkies tot voorsitter van die studenteraad (SR). 

’n Vrou in leierskap

Carli onthou dat sy as voorsitter altyd broeke gedra het om ’n professionele beeld uit te straal. 

“As vroue probeer ons baie keer in leierskapposisies inpas soos wat dit vir jare lank gedefinieer is […] ons sterkpunte is juis dat ons vroue is.”

Politiek en leierskap is soms steeds ’n mans-wêreld, sê Carli. Maar tog kan ’n mens steeds op ’n outentieke manier ’n leierskapsrol betree. 

Jy hoef nie in ’n spesifieke boksie te pas nie – selfs al plaas die wêreld jou altyd in ’n boksie

“Die grootste verskil wat ek al gemaak het is om vir ander te wys jy kan in leierskap intree, jy hoef nie jouself te verloor nie, en jy kan wees wie jy is,” sê sy.

“Kom met jou quirks, kom met jou eie persoonlikheid. Jy hoef nie in ’n spesifieke boksie te pas nie – selfs al plaas die wêreld jou altyd in ’n boksie.”

Why die rooi?

Carli ervaar ook soms laagtepunte as leier. Dan is dit belangrik om te weet waarom jy doen wat jy doen, sê sy. “Mense hoef jou nie te waardeer nie.” 

Carli het op ’n keer iets konkreets nodig gehad om haar aan hierdie beginsel te herinner – en die eerste ding wat sy gesien het, was die lipstiffie op haar tafel. 

“Jy moet weet wat jou why is [in die lewe], anders gaan jy nie kan staan wanneer dit moeilik raak nie,” vertel Carli. “En toe vat ek my rooi lipstiffie en ek skryf ‘why’ op my spieël.”

Carli van Wyk is tans wyksraadslid op Stellenbosch. Sy dra graag rooi lipstiffie om haarself te herinner aan die dinge wat haar gemotiveer het om leierskapsrolle op te neem. FOTO’s: Stefani Terblanche

Citizen Carli

Carli wil bydra tot ’n beter gemeenskap, omgewing, Stellenbosch en Suid-Afrika. Dit is ook een van die redes waarom sy die sosiale media-profiel “Citizen Carli” geskep het. Sy wil deur dié profiel mense aanmoedig om aktiewe burgers te wees en om politiek meer “fun en relatable” maak. Verder gee dit haar die geleentheid om mense in te lig oor die politieke nuus en om hul vrae te beantwoord.

“Ek dink ’n mens kla baie keer, en dan besef jy… ‘Weet jy wat? As jy wil kla, moet jy die eerste een wees wat jou hand opsteek en ’n bydra maak’.”

Hardwerkende raadslid

Eleen Burger, Carli se vriendin sedert graad 2, verduidelik dat Carli waarlik hardwerkend, uniek, onbaatsugtig, liefdevol en ’n “go-getter” is. 

“[Carli leer mens] om alles wat jy aanpak voluit te doen en nie bang te wees vir ’n uitdaging nie,” sê Eleen. 

Carli het in 2020 die DA Young Leaders Programme gedoen waar sy besef het dat ’n mens bereid moet wees om beleide te verander indien jy werklik wetgewing wil beїnvloed.  

Sy het wel nie gedink dat sy direk na universiteit ’n geleentheid sou kry om beleid direk te beïnvloed nie. Tog het sy haar hand opgesteek om te staan as wyksraadslid in die verkiesing in 2021. Sy is aangestel as die burgemeester se komitee-lid van beplanning, vertel Carli. 

Carli van Wyk het voorgraads BA(Regte) studeer en nagraads LLB. Haar agtergrond in regte help haar daagliks as wyksraadslid en sy glo dat dit een van die redes is waarom sy dié posisie gekry het. FOTO: Stefani Terblanche

Haar portefeuljes sluit nou ook toerisme en volhoubare ekonomiese ontwikkeling in.

“Dit is iets waaroor ek baie opgewonde is om deel van te kan wees. En, ja, ek het besef om in hierdie posisie te wees – of in hierdie veld – jy kan ’n groot bydrae maak,” vertel sy. “Jy kan die visie hê om aan die toekoms te skets wat jy dink nodig is.”

Carli is entoesiasties wanneer sy oor haar werk praat. Sy meen dat sy ook soms te spontaan is en dus moes leer “wanneer om ja te sê en wanneer om nee te sê en wanneer om daardie grense daar te stel”. 

Planne vir die toekoms

Carli geniet dit om te reis en het hierdie maand Nepal en Indië toe gereis om onder meer by Salvation Army uitreikwerk te doen.

Sy glo dat sy nog vir ’n ruk by die munisipaliteit sal werk.  Dit is vir haar ’n groot voorreg om die geleentheid te hê om die mense van Stellenbosch te dien.

“Ek is baie gemaklik waar ek is op die oomblik. Ek is nog nie eens twee jaar in hierdie posisie nie en ek het al baie geleer,” sê sy. “En dan besef mens ook hoe baie daar is om nog te leer.”

, ,