Waar daar ’n ‘Will’ is is daar ’n weg: Weskuskind se reis tot Sterstatus

Vir die 24-jarige akteur William Adams van die Weskus, ’n bekende gesig onder Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te danke aan sy rolle in bekende Afrikaanse televisieprogramme,  was die pad na die kassie nie sonder struikelblokke nie. Hy het egter al van kleins af geweet dat hy in die toneelspel-wêreld wil tree, volgens hom.  Hy gesels met SMF News se Keziah Bailey oor sy interessante reis wat hom vandag voor verskeie deure van geleenthede gebring het.

William Adams, ’n bekende gesig vir ’n groot aantal Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, het ’n avontuurlike lewe geleef wat hom gevorm het tot die talentvolle akteur wat ons vandag ken.

William Adams het van geboorte tot tienerouderdom, nes sy reis tot die kassie, gereis van woning-tot-woning met sy ouers en vier ander broers. Hy en sy ouers het orals in Louwville, Vredenburg gebly, vertel hy. “Maksimum was soos drie jaar wat ons by [een] huis gebly het voor ons [weer] getrek het,” vertel William. 

“As jy ’n kind is voel dit soos ’n hele leeftyd.”

Hy het sy laerskoolloopbaan by Eden Primêr voltooi en dit was ook waar sy ma, tydens ’n skoolbyeenkoms, in kraam gegaan het. “My ma het letterlik by ’n skoolbyeenkoms [duiselig geword], met my in haar maag,” vertel hy. 

Toe word klein William gebore. 

Sy passie vir toneelspel het ontkiem tydens sy laerskooljare by Eden Primêr, waar hy ’n rol vertolk het in ’n skoolprojek vir Kuns en Kultuur. Hy het die rol van Wors vertolk – ’n karakter uit die bekende komedie-series genaamd Molly en Wors. 

Die Kuns en Kultuur-onderwyser was vreeslik beïndruk met sy optrede – en hy óók. 

Toe hy egter in 2012 sy hoërskoolloopbaan begin het, het hy toneelspel heeltemal agtertoe geskuif. Rede vir die tree ageruit was omdat Vredenburg Hoërskool nie juis op die kunste soos Drama gefokus het nie en hy het ook nie moeite gedoen om sy passie na te streef nie. 

William vertel dat sy hoërskooljare ’n uitdaging was aangesien hy graad agt en graad 10 gedruip het. “Dit is iets wat baie mense nie glo nie,” sê hy. 

Van ‘Will’ tot ‘William’

In 2016, toe graad 10, laat weet sy ma vir hom dat hy aanvaar is by Schoonspruit Sekondêr –  ’n skool in Malmesbury. Sy ma het hom aanvanklik na dié skool gestuur omdat die skool Ontwerp as vak aangebied het en dit ook een van William se belangstellings was. Hy het egter later uitgevind dat die skool ook Drama as vak aanbied. 

Dit is hier waar sy liefde vir drama weer aangevuur is. Hy het sy skoolloopbaan op Schoonspruit gesien as ’n nuwe hoofstuk waar hy sy foute van die verlede kon regstel.

“Toe ek daai kant toe gaan het ek [besluit] om vir almal te sê my naam is William,” sê hy. In die Weskus het almal hom geken as Will. 

Buiten toneelspeel is William Adams ook talentvol in die dansgebied en besit ook oor unieke tekenvaardighede. Hy vertel egter dat hy niks anders as ’n loopbaan in toneelspel sal wil aanpak nie. FOTO: Keziah Bailey

Queenie Louw Adams, William se ma, vertel dat William as kind in sy eie verbeeldingryke wêreld gespeel het. “Alhoewel ek [daardie tyd] egter toe nie gesien het dat hy eintlik baie dramaties was nie. Hy was die een wat altyd die stilte met ’n stukkie vermaaklikheid verbreek het,” vertel sy. 

“Begin van my skoolloopbaan [by Schoonspruit was] ’n sukses,” sê hy. Hy het gevorder in sy skoolwerk en kon ook sy liefde vir drama uitleef. 

Juffrou Robin, die drama-onderwyser by die skool, het eendag die woorde geuiter dat hy “baie goed [is]” en dit was die petrol wat sy droom net nog meer aangevuur het. 

In 2017 word hy toe verkies tot die VRL van Schoonspruit. In 2018 was hy verkies as hoofseun van Schoonspruit Sekondêr asook hoofseun van die skool se koshuis. 

Na skool was hy egter verlore, volgens hom. 

“Ek het letterlik nie geweet wat ek gaan doen met my lewe na matriek nie”, sê hy. 

“Ek het nooit myself gesien weggaan van skool af nie omdat ek so lank op skool was,” vertel hy. 

Sy ma het egter weer tot sy redding gekom toe sy hom die informasie weergee het dat Northlink Kollege aansoeke aanvaar vir ’n drama-kursus wat hulle bied. 

Volgens William Adams se ma, Queenie Louw Adams, was die kunssinnigheid van William van kleins af sigbaar. FOTO: Verskaf/William Adams

By die oudisies gekom, het die een dosent direk na hy sy oudisie afgele het, aan hom gesê: “I want you in my class.” En die res is geskiedenis. 

Alhoewel William sê dat hy nog nooit iets anders as toneelspel wou nastreef nie, noem sy jarelange vriend, Fredley Rayters, dat hy oorspronklik ’n loopbaan as rymkletser wou nastreef. “Will is ’n man van vele talente – hy kan rymklets, toneelspeel en teken,” vertel Fredley. 

“Ek het opgemerk dat [William] die tipe persoon is wat ander se suksesse vier. Dit gaan nie net oor hom nie, maar oor sy span en die mense saam met wie hy werk,” vertel Shanelle Stone, ’n aspirerende aktrise wat al voorheen met William gewerk het. FOTO: Keziah Bailey

Die jare van deurbraak 

Hy het in 2019 sy eerste Toneelstuk genaamd Kopseer vrygestel, ’n Drama wat handel oor ’n paartjie wat mekaar baie liefgehad het, waar die man egter later afsterf. Dié toneelstuk was deur homself en Chelsea Thomas geskryf en vertolk – ’n medestudent en iemand wat ook tans in die drama-industrie is.

Die produksie was genomineer vir beste draaiboek en skryfwerk by die Zabalaza-teaterfees, ’n plaaslike fees wat die Baxter-teater hou as manier om opkomende talent blootstelling te gee. Vir hierdie produksie het William ook die toekenning vir beste akteur verower. 

In 2021 dryf ’n vriend van William, Alvaune-Lee Lewis, William se loopbaan op ’n groter positiewe koers toe hy hom laat weet van ’n oudisie vir ’n rol wat hy voel William in sal uitblink. 

Ongeveer ses maande daarna, slaan William dié rol los in die fliek The Queenstown Kings wat al van 17 November op internasionale vlak op Netflix te siene is.

“Toe ek die oudisie [afgelê] het, het ek nie geweet dit is ’n Netflix-reeks nie,” sê hy. 

 “Hulle het my gevra: ‘Is jy gereed om internasionaal beroemd te wees?’” Hy het hulle egter nie geglo nie. Eers toe hy oor hulle navorsing doen, het dit ingeskop, vertel hy. 

Hy het hierdie geleenteheid as ’n “wonderwerk” beskryf. “My eerste gig wat ek kry is mense wat op só ’n vlak is, [mense wat al] SAFTA-nominasies en -toekennings [verower] het,” vertel hy. 

In 2022 het William en van sy vriende aan ’n produksie genaamd Hostel Lights gewerk, wat vyf toekennings by die Zabalaza-tetaerfees losgeslaan het. 

Ek sien William as ’n spons. Hy absorbeer die terugvoer, kennis en advies wat hy ontvang en maak daarvan gebruik. Hy is nie bang om iets nuuts te leer of risiko’s te neem nie.

Shanelle Stone, óók ’n aspirerende aktrise wat al saam met William gewerk het, beskryf hom as iemand wat nie maklik van sy werk afgelei word nie. 

“Ek sien William as ’n spons. Hy absorbeer die terugvoer, kennis en advies wat hy ontvang en maak daarvan gebruik. Hy is nie bang om iets nuuts te leer of risiko’s te neem nie,” vertel sy. 

Die prestasie waarop William Adams die trotste op is, is die toekenning as beste akteur wat hy in 2020 by die Zabalaza-teaterfees verwef het, volgens hom. FOTO: Keziah Bailey

’n Kameleon op die skerm

In 2022 het William ook die rol van Rikus in Arendsvlei losgeslaan en later in 2023 waai die Suidoosterwind vir William, oftewel Cheslyn in Suidooster, tot in Ruiterbosch as die broer van Brendan. Vir beide sepies het hy die rol van ’n skurk vertolk – karakters wat glad nie soortgelyk aan sy werklike menswees is nie. 

“Cheslyn was jaloers en alleen. Hy het liefde gesoek en ’n doel [in die lewe]. Wat hartseer is, is dat hy nooit een van die twee gekry het [nie],” sê William. 

Alhoewel William al so vroeg in sy lewe sukses behaal het, is daar ook aan die ander kant van dié blink kant van die industrie, ’n kant wat nie veel sien nie. As opkomende akteur kan dit soms moeilik weees om positief te bly as jy vir lang tye nie werk kry nie. 

“Dit is baie depressing; dit voel jy kan jouself verloor,” sê hy. Hoe hou hy egter die blink kant bo? Om biddend te bly. 

Om te vergeet is soms iets goed 

William vertel dat verskeie mense al aan hom advies gegee het wat lui dat hy “nooit moet vergeet waarvandaan hy kom nie”. 

“Maar ek sê altyd vir myself ek moet vergeet waarvandan ek kom om te elevate,” vertel hy. Volgens William leef baie mense volgens dié gesegde, wat soms hulle terughou. 

Hy noem dat mens dan weer na jou gemeenskap kan terugkeer om ’n verskil te maak.

“Jy kan terugkom en [in die gemeenskap] kom terug ploeg,” sê hy. 

William Adams is te sien in die fliek genaamd The Queenstown Kings wat tans op Netflix te siene is. FOTO: Verskaf/Keziah Bailey

, ,