Alhoewel die gebruik van een sanitêre doekie jou nie sal blootstel aan gevaarlike vlakke van chemikalieë nie, kan een leeftyd se gebruik daarvan moontlik nadelig wees.

’n Studie deur die Universiteit van die Vrystaat het opslae gemaak toe sy skrywers bevind het dat verskeie sanitêre doekies (“pads”) en minidoekies (“pantyliners”) hormoon-ontwrigtende chemikalieë bevat. FOTO: Verskaf/Unsplash
Hierdie is die bevindinge van ‘n studie wat deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Februarie gepubliseer is en wat kort daarna opslae op sosiale media en hoofstroomnuus gemaak het.
Agtergrond
Die studie het 16 sanitêre doekies en 7 minidoekies vir die teenwoordigheid van hormoon-versteurende chemikalieë — onder meer parabens, bisfenole en ftalate — getoets. Verskeie gewilde handelsmerke, wat Always, Kotex, Lil-Lets en Libresse insluit, is by ’n Suid-Afrikaanse kleinhandelaar gekoop en getoets.
Al 23 sanitêre produkte het minstens twee van die drie klasse chemikalieë bevat. Minidoekies het hoofsaaklik fltalate bevat, terwyl sanitêre doekies meestal bisfenole bevat het. Beide chemikalieë is gekoppel aan gesondheidsprobleme soos endometriose, vrugbaarheids- en velprobleme.
Chemikalieë se teenwoordigheid ‘nie verbasend nie’
Mediese liggame het vinnig ingespring om die resultate te verduidelik.
In ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë (Sasog), die Suid-Afrikaanse Vereniging van Reproduktiewe Geneeskunde en Ginekologiese Endoskopie (Sasreg) en die Kollege van Verloskundiges en Ginekoloë (CMSA), word die publiek aangemoedig om die studie te analiseer met “konteks, perspektief en die korrekte interpretasie van die data”.

In ’n verklaring vanaf die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë (Sasog), die Suid-Afrikaanse Vereniging van Reproduktiewe Geneeskunde en Ginekologiese Endoskopie (Sasreg) en die Kollege van Verloskundiges en Ginekoloë (CMSA) word die publiek gevra om die UV-studie se resultate met konteks te bekyk. FOTO: Verskaf/Sasog, Sasreg, CMSA
“Hierdie endokriene ontwrigters is baie algemeen en is teenwoordig in lae konsentrasies in verskeie voedselsoorte, huishoudelike produkte, persoonlike versorgings- en skoonheidsprodukte, […] klere en elektronika. Dus is die bevinding dat hulle ook in menstruasieprodukte voorkom nie verbasend nie,” lui die verklaring.
Verder skryf hulle dat die daaglikse dosisse van chemikalieë in die sanitêre produkte laag is en dat ophopende gesondheidsrisiko nie al bestudeer is nie. Met die inligting huidig beskikbaar, “beveel [ons] geen verandering van gewone gebruik aan nie”.
‘Kwaad en teleurgesteld’
Omdat die handelsmerke wie se sanitêre produkte bestudeer is, “adverteer dat hulle nie skadelike chemikalieë bevat nie”, was die studie se resultate skokwekkend vir baie.
Rakende hoe sy oor die studie se bevindinge voel, antwoord Simóne Visser, ’n au pair van Stellenbosch: “Kwaad. Maar ook teleurgesteld. Vrouens regoor die wêreld menstrueer en veilige sanitêre produkte is nie te veel om voor te vra nie.”

Drie-en-twintig gewilde handelsmerke van sanitêre doekies en minidoekies is by ’n gewilde Suid-Afrikaanse kleinhandelaar gekoop en getoets vir bisfenole, parabens en ftalate. Hierdie chemikalieë is al gekoppel aan kwessies soos vel- en vrugbaarheidsprobleme. FOTO: Hélène Wessels
Ander is weer dankbaar vir die kennis wat die studie aan hulle gegee het. “The UFS [study] does bring some sort of comfort when it states that the pads don’t contain dangerous levels of chemicals, unless they’re used for a long time,” sê Mihlali Mangana, wat huidig in haar gapingsjaar is.
‘Wat is die alternatiewe opsies?’
Ten spyte van ’n mark wat oorlaai is met menigte handelsmerke, voel baie vroue hulpeloos oor alternatiewe opsies vir sanitêre produkte.
“Ek weet nie of ek noodwendig iets anders sal gebruik nie, want daar is nie regtig maklike of gerieflike alternatiewe nie,” sê Vivien Steyn, ’n eerstejaar BCom-student aan die IMM Graduate School.
Bailee Mitchell, LLB-student aan die Universiteit van Stellenbosch, sê: “It is also scary to use things that aren’t the usual. It’s quite a daunting experience as is, having your period.”
Baie voel dat ander opsies, soos menstruasiekoppies en -onderklere, duurder en minder gerieflik is.
Marius Basson, uitvoerende hoof en direkteur van die MENstruation Foundation, meen ook dat hierdie opsies hoogs ontoeganklik is: “Herbruikbare produkte is nie ’n opsie in die menstruasie-armoede sektor nie, hoofsaaklik as gevolg van toegang tot lopende warm water, ordentlike skoonmaak fasiliteite en veiligheid.”

Die OEKO-TEX Standaard 100 verseker dat enige produk wat onder dit gesertifiseer is, nie skadelike chemikalieë bevat nie en veilig is vir menslike gebruik. FOTO: Verskaf/OEKO-TEX
Professor Deon Visser, departementshoof van chemie aan die UV, beveel aan dat vroue vir produkte soek wat onder die OEKO-TEX Standaard 100 gesertifiseer is, het hy aan Netwerk24 gesê. Hierdie standaard verseker dat die gesertifiseerde produk skadeloos vir menslike gesondheid is.
