Elandré se road trip van die klein dorp tot in die kollig

In sy Oos-Kaapse tuisdorp het hy geleer om bo-oor ’n gefuif te sing. Mense in kroeë in  Despatch het destyds nie veel aandag aan hom gegee nie. Elandré Schwartz het geweet dat sy toekoms in die rigting van die berg en die stadsligte wag – met die klein dorpie in sy truspieëltjie, maar nie heeltemal uit sig nie. Nóú, as ’n fassinasie van tienduisende aanhangers, dans hy steeds ongekunsteld in die kalklig. 

Woorde en foto’s deur Jenna Lemmer

Well it’s Saturday night, you’re all dressed up in blue.” Só begin Bruce Springsteen se liedjie, Tougher Than the Rest. In 2017 het Elandré Schwartz met ’n Facebook-video waarin hy dié liedjie sing die land se aandag verower. 

Wel, dis ’n Maandag-laatmiddag en die sanger en liedjieskrywer is all dressed down in ’n tweedehandse zebrapatroon-bloes – ja, bloes. Hy vee een van sy veelbesproke blonde krulle uit sy gesig uit, en  vertel van die drie vertonings waartydens hy die afgelope naweek daardie einste krulle op die  verhoog rondgeswaai het. Sy rug is gedraai na die klavier waarop hy vir die eerste keer die liedjies aan sy span voorgelê het wat onder meer dubbelplatinum-enkelsnitte en albums van die jaar sou  word. Vandag, is hy terug by die Sony/Select Musiek-ateljees in Tokai om aan sy derde album te  werk. 

“Baie mense maak ’n bohaai oor my stem, of hulle maak ’n bohaai oor my hare,” vertel hy. “Maar  dis die laaste ding waaraan ek dink as ek op die verhoog is… ek dink aan elke woord.” Schwartz  het in 2017 spesifiek Ernst Kleinhans, die algemene bestuurder van Sony/Select Musiek, se aandag gekry. Kleinhans het hom toe onbepland, regstreeks tydens ’n Bok Radio-onderhoud ’n platekontrak aangebied. ’n Platekontrak het hom nie net die geleentheid gegun om musiek op te neem nie – maar om musiek op te neem wat hy sélf skryf. 

Schwartz hoef nie meer bo-oor ’n gefuif te sing nie – die opwinding gaan nou oor hóm.  By Die Bôrdienghuis-Teater in Wellington, is gedigte van Jeanne Goosen, Evelyn Castelyn en Olga Kirsch op ’n uithangbordpaal in die tuin. Die lirieke wat Schwartz meters weg die gehoor mee  betower sal net so goed op dié paal lees as wat dit op die verhoog klink.

Schwartz pen elke liriek in sy eie handskrif neer – elke album het sy eie boek. Hy kan die boeke wat hy vol skryf dalk eendag aan aanhangers opveil as hy moet, sê hy. Hy spot, maar met sý  verkleefde aanhangers kan dit ’n hoogs winsgewende onderneming wees. Hy krap in die rugsak  rond wat langs hom op die vloer staan om sy notaboeke te wys. ’n Paar poskaartgrootte foto’s van hom gly tussen die verslete boeke uit. Hy lag beskeie en verduidelik: Dit het oorgebly na ’n onlangse  meet and greet. Hy maak sy handtekening – die een wat hy al van kleins af oefen – vir aanhangers  daarop. “Ek belowe ek loop nie met foto’s van myself rond nie,” verseker hy. 

Net ’n koppie warm water  

“Toe hy by ons gesit het in die studio was hy nog ’n bietjie skaam,” sê Le-Lue van der Sandt, ’n  mede-omroeper van die #BokBrekfis radio-program. “Hy het nie geweet hoe goed hy regtig is nie,” onthou sy die “outjie” wat sy nou ’n “superster” noem. Sy aanhangers is so toegewyd dat  sommiges dikwels daarin slaag om agter die verhoog in te sluip voor vertonings, vertel Hendrik  Spangenberg, ’n bemarking-spesialis by Sony/Select Musiek.

Hy “ooze stardom,” sê Pietie Beyers,  die skrywer, akteur en self-erkende Schwartz-fanboy in die inleiding na die So Loop Hy Maar podsending-episode waarin hy met Schwartz gesels. Maar die kleindorpdromer sal homsélf geensins as ’n argetipiese rockster beskou óf gedra nie. As ’n gevallestudie van sy tweeledige beskeie en bekoorlike air: Beyers sal vir Schwartz die rol van ’n 22ste-eeu Jesus in ’n rolprent gee, sê hy. En ’n paar sinne later vergelyk hy hom met Freddie Mercury. 

Tydens sy vertoning by Die Bôrdienghuis Teater op Sondag 8 November, vertel  Schwartz vir die gehoor dat hy nog steeds nie kan glo dat hy sy eie lirieke vir hulle kan sing nie.  Dat hulle dit dan saam met hom sing, is vir hom byna ongeloofwaardig. 

“Ek dink mense gebruik [hul roem] somtyds om weg te kom met dinge wat hulle nie noodwendig mee sou wegkom onder normale omstandighede nie.” Hy maak seker dat hy die loopbaan waarvoor hy só hard gewerk het behoorlik vier, maar nie verkwansel nie. ’n Akute respek vir sy lyf as instrument en die jare se toewyding en opoffering wat hy in sy loopbaan in gespit het – sodat sy skielike blootstelling in 2017 in vrugbare grond kon val – hou hom nugter. Agter die verhoog  by optredes, het hy byvoorbeeld geen uitspattige versoeke aan sy gashere nie – “net ’n groot koppie  warm water”. Hy bring sy eie heuning- en gemmertee saam. Schwartz krap weer in sy rugsak rond  en sit die boksie tee op die tafel – dis anti-inflammatories en dus goed vir sy stem, sê hy. 

Solank die musiek beter as die kombuismuur is 

“Ek dink dit gaan dalk rof klink om dit te sê,” waarsku hy. Sy kenmerkende bas-stem word sag. “Ek dink ek het aangehou waar ander mense gestop het… Dit was nie noodwendig omdat ek wou nie – dit was omdat ek moes.” Dis stil vir ’n rukkie. “Ek is baie lief vir Despatch.” Maar hy was nie van plan om ’n anker van sy wortels daar te maak nie. Na hoërskool, het hy die klein dorpie verlaat. Waar hy destyds op die dienssentrum agter die haarsalon waar sy ma gewerk het se klavier gespeel het, het hy toe in Kaapstad sy talente by die Waterfront Theatre School begin slyp. 

Schwartz handhaaf homself met houding in alternatiewe en soms flambojante  uitrustings. Stywe leerbroeke, ’n neusring en oorbelle, en bont kraaghemde het kenmerkend van  sy styl geword. “My dimensies is net uit. Ek kry net nie goed wat my pas nie… die enigste goed wat  vir my gesny is, is bloese,” vertel hy.

Deesdae, swerf hy die land rond met base camps in Kaapstad se Noordelike Voorstede, Johannesburg, en Port Elizabeth. In PE, naby sy tuisdorp, het hy ’n huis gekoop wat hy besig is om een kamer op ’n slag op te knap. Hy het sy pa en ouer broer – albei ambagsmanne – ingeroep om die handewerk te doen, want sy kapasiteit as nutsman is niks besonders nie, sê hy. “Ek hét egter my kombuismuur probeer teël… en dit het nie goed uitgedraai nie,” word daar bely. “Ek het dit net so gelos.” 

Die Bordienghuis Teater-gehoor – soos meeste van sy gehore – se oë is vasgenael op  sy elke beweging. Hulle skree liedjies se titels uit soos hy die agtergrond van elkeen vertel voor hy  begin sing. Daar is hande, glase en die reuk van pizza in die lug. Hulle sing elke woord wat hy van  die boomhuis-buiteverhoog af sing saam met hom.

Wat sy musiek betref, is hy egter meer perfeksionisties. “My ma het my altyd geleer, ‘As jy iets wil  doen, maak seker jy doen dit ordentlik, want jy gaan dalk net dié een kans kry om dit te doen’,” vertel hy. Hy het haar woord daarvoor gevat, want as ’n haarkapster het sy seker iets omtrent die  eenmaligheid van kanse geweet? “Ek gee nie om wat hulle van my dink nie, solank hulle dink dat  die musiek goed is,” sê hy. Maar hy gee toe dat hy homself soms frustreer wanneer hy té hard  probeer. 

Voete op die grond en in die hoek 

Hy loop en neurie na ’n parkeerterrein om die draai vir ’n vinnige fotosessie. Hy het toe twee jaar  gelede daardie klavier by die dienssentrum agter die salon waar sy ma hare gesny het gaan koop,  vertel hy terloops. 

Elandré as vier van sy ikone (kloksgewys van links bo): Freddie Mercury,  Johnny Cash, Joan Sutherland, en Cher. Bykomend tot sy kweking van ’n grootliks tweedehandse klerekas (waarin dié hemp van Bok Radio se tweedehandsewinkel hang), herwin Elandré ook  getrou, en volg hy ’n vegan-dieet. “Jy kan nie die hele wêreld red nie, maar ek voel gesonder en my  gewete is bietjie skoner,” sê hy.

Toe Van der Sandt in 2017 daardie video van Schwartz op Facebook gesien het, het sy vir Wimpie van der Sandt, haar man, die hoof uitvoerende beampte van Bok Radio en haar mede-aanbieder,  gesê: “Ons moet hierdie outjie op die ontbytprogram kry, want dalk gebeur iets,” vertel sy. In die gevolglike onderhoud wat stellig sy lewe verander het, het hy aangevoer: “Baby, I’m tougher than the  rest.” 

Dis ’n Sondag-laatmiddag in Wellington. Schwartz spring op die verhoog by Die Bôrdienghuis Teater en nooi/daag die gehoor uit: “Kom ons steek hierdie ding aan die brand!” Later, bedank  hy hulle vir die “swaar verdiende geld” wat hulle in sy drome belê. Met die vensters oop, Queen op die radio en sy leerstewels steeds swaar op die versneller, word dié drome net groter. Van der Sandt was reg – daar hét toe iets gebeur. En Schwartz het ook niemand vir die gek gehou nie: Hy is tot dusver toe werklik tougher than the rest.

,