Om paadjies en berge uit te klim: 68 gevleuelde jare van Pierre van Pletzen

Na meer as drie jaar sedert sy laaste verskyning op 7de Laan, praat Pierre van Pletzen oor hoe die wind nóú vir Oubaas waai. Hy gesels ook oor die lewe na dié sepie, die struwelinge van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, en sy nuwe rol in die derde reeks van Die Boekklub.


Die heel eerste karakter wat hy vertolk het, was ʼn klip. In dié toneelstuk, moes ʼn meisie deur die bos loop en dan op ʼn klip gaan sit en ʼn liedjie sing.

“Ek het so gehoop sy kies my, want ek was verlief op haar. Nodeloos om te sê, was ek teleurgesteld toe sy op een van die ander klippe gaan sit het.”

Pierre van Pletzen

Van Pletzen is op 1 Mei 1952 in Klerksdorp gebore, maar het in Stilfontein grootgeword. Hy vertel dat hy ʼn baie skaam kind was en dat sy skaamheid met die toneelspel oor tyd verdwyn het. Vaughn meen egter dat hy steeds ʼn skaam mens is. FOTO: Verskaf/Pierre van Pletzen

Alhoewel hy op Laerskool P.A. Theron met breëbors die rol van ʼn klip vertolk het, het Pierre van Pletzen – oor sy ongeveer 48 jaar loopbaan – al ikoniese rolle aangepak wat van hom ʼn gesoute en gesogte persoon in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gemaak het.

Dié 68-jaar-oue Klerksdorp-gebore regisseur-akteur beskryf homself as “eintlik ʼn softy”. Hy vertel dat hy baie lief is vir sy vrou, die aktrise Sandra Vaughn, én sy twee honde, Virginie en Sparticus; hulle het sy “hart gesteel”. Van Pletzen sê dat sy lewe in Kleinmond in die Wes-Kaap rustig en stil is en dat hy daarvan hou om op die wandelpaadjies te gaan stap en berge uit te klim.

Die vermaaklikheidsbedryf se onvermaaklike kant

Van Pletzen het al baie paaie in die industrie geloop.

Vanaf 1972, het hy vir die eerste 10 jaar homself as ʼn verhoogakteur gevestig. Daarna het hy vir 14 jaar teaterbestuur gedoen. Tussendeur het Van Pletzen ook televisiewerk gedoen, soos toe hy Spike Potas in Orkney Snork Nie vertolk het.

Pierre van Pletzen

Van Pletzen het sy BA in Drama aan die Universiteit Pretoria in 1972 verwerf. Sedertien het hy al vele rolle aangepak in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. INFOGRAFIKA: Carl Thomas

Van Pletzen het uitgebreide opinies oor die bedryf – juis omdat hy soveel verskillende ervarings in die bedryf gehad het.

“Die regering laat die kunste toet-en-taal in die steek,” meen Van Pletzen. “Daar is nie genoeg werk vir mense nie en die salarisse is nie veel meer as wat dit 20 jaar gelede was nie.”

Toe Pierre die nuus ontvang het dat hy die rol van Septimus ‘Oubaas’ van Zyl op 7de Laan losgeslaan het, was hy baie dankbaar en uit sy vel van opgewondenheid.

“Ek en my vrou was toe jonk getroud en ons het nie geld gehad nie,” vertel van Pletzen. “Ons het enigiets gedoen – ons het selfs ʼn klomp advertensies vir kaas geskryf!”

Pierre van Pletzen

Pierre van Pletzen en sy vrou, Sandra Vaughn, het altwee rolle in 7de laan vertolk. Dié twee is al sowat 24 jaar saam en het ontmoet toe hulle albei saam toneel gespeel het in ʼn klug genaamnd Hoe Later Hoe Kwater vir die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK). Vir beide was dit “love at first sight”. FOTO: Verskaf/Sandra Vaughn

Volgens Van Pletzen was Oubaas se rol aanvanklik nie permanent nie. Hy het eers ʼn jaar later ʼn volle kontrak geteken.

ʼn Stokkie gesteek voor 17 jare van 7de Laan

Nooit het Van Pletzen egter gedink dat sy 17-jaar lange 7de Laan-loopbaan so “kru en koud” sou eindig nie.

Van Pletzen vertel dat hulle hom ingeroep het onder ander voorwendsels. Toe hy by die vergadering aankom, het die bestuur egter hul deuntjie verander – dit nadat hulle die jaar vantevore ingestem het om nooit weer ʼn vergadering sonder sy agent, of Danie Odendaal, wat 7de laan begin het, as raadgewer te hê nie. Hy beskryf die wyse waarop die bestuur die saak hanteer het as “aborsioneel”.

Na dié vergadering het Van Pletzen “ʼn paar goedjies gepak en die hele pad huistoe gehalleluja”.

Van Pletzen het 17 jaar lank die rol van Septimus (oftewel ‘Oom Oubaas’) van Zyl op 7de Laan vertolk. Jermaine Christians, die stigter van die Facebook-group 7de Laan – My nou, vertel dat hy altyd opgewonde geraak het as Oubaas iemand nuut ontmoet het. “Hy het altyd ’n unieke naam vir elke mens gehad, en dit was exciting om te hoor wat hy nuwe mense gaan noem,” sê Christians. FOTO TER ILLUSTRASIE: Carl Thomas

“Ek onthou die goeie tye met baie liefde en heimwee. Oubaas het diep in my hart gekruip, maar wat mense moet verstaan is dat as jy uit ʼn ateljee loop, is jy nie meer ʼn karakter nie. Daar is ʼn persoon met sy eie lewe agter elke karakter.”

Alhoewel Suid-Afrikaners Oubaas se gevleuelde woorde en kleurvolle uitdrukkings terdeë geniet het, was dit vir Van Pletzen altyd ʼn uitdaging om dié steunpilaar van die gemeente se woorde aan te leer. Hy noem dat dié uitdaging, asook die vooruitsigte van nuwe rolle, het dit bietjie verligtend gemaak om totsiens te moes sê aan Oubaas.

Annelisa Weiland, wie Hilda vir 19 jaar op 7de laan vertolk het, vertel dat Oubaas en Hilda soos “vinkel en koljander” was.

“Pierre het ʼn fyn aanvoeling vir komedie,” voeg Weiland by. “Ons het altyd pret gehad en dit was partykeer moeilik om nie hardop vir hom te lag [terwyl ons geskiet het] nie.”

Jermaine Christians, stigter van die Facebook-groep, 7de Laan – My Nou, wat ongeveer 489 000 lede het, vertel dat Oubaas deel van sy grootword lewe was.

“Ek het Oubaas as ʼn oupa gesien,” sê Christians. “In die aande, as ek nog in die straat gespeel het en die ou 7de Laan deuntjie begin speel, het ek huistoe gehardloop, want dis dan eet- en badtyd én ek weet die laken word weer gespan vanaand.”

Dié is Sparticus, een van Van Pletzen en Vaughn se honde. Sparticus was ʼn tingerige siek hondjie toe Van Pletzen en Vaughn hom aangeneem en op sy bene gebring het. Vaughn vertel dat die band tussen Van Pletzen en Sparticus ongelooflik is. PLASING: Instagram/Sandra Vaughn

Pierre se sewe sake sout na 7de Laan

Van Pletzen vertel dat hy nie weer Oubaas sal speel nie, al vra hulle hom.

“Die nuwe bestuur het soos ʼn leeu in 2014 in die hok gekom en het koppe begin byt, maar nog nie laat rol nie,” vertel Van Pletzen. “Hulle het my begin uitwerk deur elke jaar, vir ʼn tydperk van amper vier jaar, my salaris te sny.

7de Laan het karaktermoord met Oubaas gepleeg. Die oomblik toe my paaie met die program skei, toe laat hulle Oubaas Hilda verneuk en dit is iets wat glad en geheel nie deel van die etos van die karakter was nie.”

Nadat hy 7de Laan verlaat het, het Van Pletzen en sy vrou finansieel gesukkel aangesien hy tot ʼn sekere mate vir 17 jaar uit die bedryf was.

“Jy kan nie ander werk doen as jy by die SAUK geteken is nie,” sê Van Pletzen. “Na 7de Laan, wou mense my nie aanstel nie, want hulle was onder die indruk dat Oubaas al is wat ek kan doen. Ek en my vrou het gesuffer en ons suffer nou nog. Maar liewers so lewe as daai laaste drie jaar by 7de Laan.”

Harrebaard is die naam van die band in ViaTV se Die ooms se band. Die ooms se band was ʼn werklikheidsprogram wat vir twee reekse aangehou het. Dié is hulle musiekvideo vir hul liedjie, Gisteraand. VIDEO: YouTube/VIA

Sandra Vaughn, Pierre se vrou, wat destyds die rol van Debbie Meyer op 7de Laan vertolk het, vertel dat sý Pierre op skrikkeldag in 1996 – net na middernag – gevra het om te trou.

“Ek het besef ek wil die res van my lewe net by hom wees. Hy het ʼn warmte in sy hart wat my oorrompel en hy is steeds die beste besluit wat ek nog óóit gemaak het,” voeg Vaughn by.

As dit kom by oor 7de Laan praat, sê Vaughn dat sy “beter dinge [het] om te doen – soos om ʼn vis op ʼn muur te verf en te wag dat dit begin swem”.

Van Pletzen vertel dat hy nooit sal aftree nie, aangesien daar nie geld in die neseier is nie. “Ek sal moet aanhou werk totdat hulle my in ʼn body bag uitdra, want betaling is karig,” spot Van Pletzen.

Die haan onder Die Boekklub-henne

Sy nuutste rol is in reeks drie van kykNET se Die Boekklub. Van Pletzen vertolk die rol van Hanli – gespeel deur Nicole Holm – se pa.

Pierre van Pletzen

Van Pletzen het twee kinders, Zetske en Pierre-Henrie ‘Peach’ van Pletzen uit sy vorige huwelik met aktrise Elzette Maarschalk. Peach is bekend as die hoofsanger van die band Van Pletzen. Zetske, ook ’n aktrise, was op 7de Laan en Getroud met Rugby en is ook ʼn ontwerper. FOTO: Facebook/Pierre van Pletzen/ Gewysig deur Carl Thomas

“Sy vrou is oorlede en hy is uitgeskop uit die ouetehuis omdat hy te veel by die ander vrouens aangelê het,” vertel Van Pletzen. “Hy is ʼn ou mechanic, en as hy in Merweville aankom, gaan hy net aan om die vrouens te charm.”

Van Pletzen vertel dat hy baie dankbaar is dat mense hom steeds die kans gee om nuwe rolle te kan vertolk.

“Ek dink mense kom nou uiteindelik agter dat daar meer aan Pierre van Pletzen is as net Oubaas!” sê hy.

,