Die ander helfte van die oudste boom in die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin het ontwortel en omgeval as gevolg van sterk winde gedurende die nag van 31 Julie.
Dit is volgens Wanga Ncisie, ʼn senior hortoloog by die Botaniese Tuin wat op die toneel was.
Die eerste deel van die boom het in Maart vanjaar omgeval en die heining van die Botanical Café restaurant beskadig, het SMF News vroeër vanjaar berig. Die boom is ongeveer tussen 90 en 100 jaar oud, volgens Ncisie.
Die Rooiblombloekom (Corymbia ficifolia) het tussen 4:00 en 5:00 op die oggend van 31 Julie omgeval, het Dennis Jute, ʼn werknemer by die Botanical Café restaurant, gesê.
Die oudste boom in die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin is op 31 Julie ontwortel toe dit deur sterk winde omgewaai is, het Wanga Ncisie, ʼn senior hortoloog by die botaniese tuine wat op die toneel was, gesê. FOTO: Anja van Zyl
Wind nie die enigste faktor
“In die laat somers van vanjaar het ʼn baie sterk Suidooster-wind gewaai, en die wind het ʼn derde van die boom laat afbreek in Maart,” het Leon Visser, ʼn boomkenner van Trees Unlimited wat op die toneel was, gesê.
“Die boom was daarna sterk teen die Suidooster, maar met die reën en die wind van die ander kant af het die boom nie genoeg krag gehad om dit te weerstaan nie,” het Visser gesê.
Die verlies van die een deel van die boom het die boom se vorm verander, en gemaak dat die boom nou blootgestel was aan die wind, volgens Visser.
Visser meen dat die boom dalk sterker sou wees indien hy anders gesnoei was om die gewig van die boom te veskruif. “Dit sou die boom meer kompak gemaak het,” het Visser gesê.
Behalwe vir die sterk wind, het die plaveisel ook ʼn rol gespeel in die boom se ontworteling, het Ncisie gesê.
“Dis altyd ʼn slegte idee om plaveisel te lê rondom groot bome. Omdat hierdie tipe boom se wortels ver versprei op die oppervlak, en nie diep gaan soos ander bome nie, keer die plaveisel dat die boomwortels kan groei en voedingstowwe kry om stewig te anker,” het Ncisie gesê.
Die boomwortels was dus nie sterk genoeg geanker in die grond nie, wat gemaak het dat die wind die boom makliker kon omwaai, volgens Ncisie.
Die eerste deel van die oudste boom in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin het in Maart afgebreek. Dit het die struktuur van die boom verander, en gemaak dat die boom nie meer die noordweste wind kan weerstaan nie, het Leon Visser, ʼn boomkenner van Trees Unlimited wat op die toneel was, gesê. FOTO: Anja van Zyl
Behalwe vir die sterk wind in die oggendure van 31 Julie, het die plaveisel ook ʼn rol gespeel in die ontworteling van die oudste boom in die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin, het Wanga Ncisie, ʼn senior hortoloog by die Botaniese Tuin, gesê. Die plaveisel keer dat die boomwortels kan versprei op die grondoppervlak, volgens Ncisie. FOTO: Anja van Zyl
‘Katastrofiese verlies’
“Ons verloor ons groot ou bome teen ʼn kommerwekkende tempo as gevolg van hierdie tipe gebeurtenis. Om so ʼn groot boom te verloor, is ʼn katastrofiese verlies,” volgens Visser.
“Ons verloor ʼn groot ou kenmerk wat al langer hier is as wat ons leef. Die waarde wat die boom gebied het in terme van skaduwee en atmosfeer; net die hele ekosisteem daar, is ʼn verlies – ʼn groot verlies vir ons,” het Visser gesê.
ʼn Deel van die boomstam wat omgeval het, gaan op dieselfde plek waar dit geval het bly, en dien as ʼn historiese baken. “Dit bly hier vir die publiek om te sien. Skoolkinders kom ook vir uitstappies na die tuin toe en dan kan hulle leer van die boom,” het Ncisie gesê.
Die deel van die boomstam wat op 31 Julie gedurende sterk wind in die slag gebly het, gaan in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin gehou word as ʼn historiese baken, volgens Wanga Ncisie, ʼn senior hortoloog by die Botaniese Tuin. FOTO: Anja van Zyl
Die ander dele van die boom word opgesaag en gaan gebruik word as ʼn deklaag in die tuine. “Die deklaag gaan dan help met die mikrobes in die grond en die verbetering van plantegroei, dat die plante gesond kan groei,” het Ncisie gesê.
Daar was geen mense naby toe die boom omgeval het nie, het Ncisie gesê. Daar was ook geen ernstige skade op die perseël ten tyde van SMF News se besoek aan die toneel nie.
Die Botaniese Tuin sou gesluit bly vir die publiek totdat die boomdele verwyder is, het Ncisie gesê.
Die oorblyfsels van die oudste boom in Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin sal as deklaag in die tuin gebruik word nadat hierdie boom op die nag van 31 Julie omgewaai en ontwortel is, het Wanga Ncisie, ʼn senior hortoloog by die Botaniese Tuin gesê. FOTO: Anja van Zyl
