De Lille ontmoet met Grabouw Khoisan Raad oor grondkwessie

’n Hofbevel teen die Grabouw Khoisan Raad [sic], wat tans aanspraak maak op ’n stuk grond in die Overberg, was een van die besprekingspunte tydens ’n onlangse vergadering tussen dié raad en Patricia de Lille, minister van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DPWI), asook ander belanghebbendes. 

Die DPWI het die bevel in Maart by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien teen die raad se teenwoordigheid op die stuk grond buite Grabouw. Die raad is sedert vroeg November verlede jaar op die grond teenwoordig, het Chrisjan Gertse, ondervoorsitter van die raad, gesê.

Minister

Grabouw: Minister van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, Patricia de Lille, het die Grabouw Khoisan Raad en belanghebbendes toegespreek oor hul grondeise. FOTO: Candice Jantjies

Die vergadering tussen De Lille en ander belanghebbendes het op 9 Mei plaasgevind op die grond onder bespreking, wat bekend staan as Knoflokskraal. Die grond behoort volgens De Lille aan die DPWI, maar is aan die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye (DEFF) toegedien. MatieMedia het onlangs berig oor die Grabouw Khoisan Raad se aanspraak, asook teenwoordigheid, op die grond.

Hoewel die bevel teen die raad nie ’n uitsettingsbevel is nie, mag daar daarvolgens geen verdere strukture op die grond opgerig word nie en mag die DPWI onbewone strukture afbreek, het De Lille gesê.

Op aanbeveling van De Lille, het die raad ’n regspan aangestel om hulle te verdedig teen die bevel, het Denzel Klaase, adviseur vir die raad, gesê. Die raad het op 12 Mei hul verdediging by die hof ingedien om die bevel teen te staan, het hy bygevoeg.

Klaase het verder gesê dat hulle net erkenning van die regering wil hê dat die grond wel histories aan die Khoisan behoort en dus deur Khoisan-afstammelinge teruggeëis kan word. Klaase het benadruk dat die groep se teenwoordigheid op die grond nie ’n besetting is nie.

Grabouw Khoisan Raad

Belanghebbendes van die Grabouw Khoisan Raad het op Knoflokskraal in Grabouw vergader om sekerheid te kry oor hul grondeise op dié stuk grond. FOTO: Candice Jantjies

De Lille het gesê dat sy bereid is om saam met die nasionale, provinsiale en munisipale regeringstrukture te werk om oplossings te vind vir hierdie kwessie, wat sy as ’n nood aan behuising bestempel.

“Ons móét saamwerk [en] almal se grond op die tafel sit, want die nood van ons mense is baie, baie, baie groot,” het sy gesê.

De Lille het verder gesê dat sy ’n vergadering vir vandeesweek gereël het met Barbara Creecy, minister van die DEFF, om uit te vind wat dié departement se planne vir die aanwending van die grond is.

De Lille het belowe om die uitkomste van die vergadering met die DEFF aan die raad bekend te maak in ’n toekomstige vergadering. Die vergadering met die raad sal ná 22 Mei plaasvind, het sy gesê.

VIDEO: Candice Jantjies

, , , , , ,