Van kattebaksmous tot Jongboer-finalis

’n Hoenderboer van Idasvallei is die enigste vroue-finalis in vanjaar se Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie. Dít is in ’n verklaring van Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder by Agri Wes-Kaap, aan MatieMedia bevestig. 

Jo-Andra Cloete-Greegory is as een van die vyf finaliste vir dié kompetisie gekeur, en meen dat dit nie nodig is vir “mooi coops met alle masjinerie en die silwer dakke” om ’n sukses van boerdery te maak nie. Die belangrikste, volgens Cloete-Greegory, is ’n “passie” daarvoor.

Die wenner van die kompetisie sal op 19 Mei bekendgemaak word by ’n geleentheid in die Paarl, het Boshoff gesê.

Cloete-Greegory het vyf jaar gelede met haar boerderyonderming, Our Poultry Place, met kuikens begin handel dryf uit haar motor se kattebak in Mfuleni, het sy gesê. Haar babaseun was toe nog net drie dae oud, het sy bygevoeg. 

Teen die sesde week van handel het sy 300 kuikens verkoop, het sy gesê. Tans huur sy ’n plaas op Joostenbergvlakte en verkoop sy maandeliks ongeveer 14 000 hoenders aan hoofsaaklik die “informele mark”, het sy bygevoeg.

Jo-Andra Cloete-Greegory het uit haar kattebak met kuikens begin handel dryf, maar huur tans ’n plaas op Joostenbergvlakte en verkoop maandeliks ongeveer 14 000 hoenders. FOTO: Carla Visagie

Cloete-Greegory, wat ander wil “inspireer om ook hul landboudrome te volg”, het onlangs ook die Boer Maak ’n Plan-program van stapel gestuur, het sy gesê. Met dié projek gaan sy gratis landbou-opleiding aan vyf kandidate bied, asook 50 kuikens aan elk gee. Dít is om hulle toe te rus om landbou-entrepreneurs te kan word, het sy bygevoeg. 

Kandidate moet tussen die ouderdom van 21 tot 40 wees en sal onder meer gekeur word op hul gewilligheid om te werk. Dít is volgens die Our Poultry Place-webtuiste.

hoenderboer

Ná die hoenders verkoop word, word die hoenderhokke skoongemaak en die hoendermis uitgehaal, het Jo-Andra Cloete-Greegory gesê. Die mis word dan ook verkoop vir die bemesting van gewasse. FOTO: Carla Visagie

Wat Cloete-Greegory se onderneming merkwaardig maak, is dat sy dit “sonder enige befondsing” begin het, het Emile van der Merwe, bestuurslid by die Stellenbosse Landbougenootskap, gesê. Cloete-Greegory is volgens Van der Merwe ook aktief betrokke by hierdie genootskap.

Uitdagings as huurboer

Vir Cloete-Greegory is van haar grootste uitdagings hoë huurkoste, en die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan om grond te huur eerder as te besit. 

“Ek hoop om eerder grond by [Stellenbosch Munisipaliteit] te huur, want om grond privaat te huur, is baie duurder as wat jy direk [by die munisipaliteit] huur,” het sy gesê.

hoenderboer

Jo-Andra Cloete-Greegory “wag nie vir handouts nie” en het alles op die Joostenbergvlakte-plaas met haar eie fondse laat oprig, het sy gesê. FOTO: Carla Visagie

, , , ,