Bywoning van Idasvallei-optog teen misdaad ‘teleurstellend’

Die aantal inwoners wat die  tweede optog van die Idasvallei-komitee op 1 Oktober bygewoon het was “teleurstellend”, volgens Russell Adonis, een van die organiseerders van die optogte en lid van die Idasvallei-komitee.  

Die inisiatief agter die optogte is om bewustheid rondom misdaad en dwelms in Idasvallei te skep, volgens Stephanie Heneke, voorsitter van die Idasvallei-komitee, en organiseerder van die optog. 

Heneke het aan SMF News gesê dat ongeveer 70 persone die eerste optog op 10 September bygewoon. Op 1 Oktober, het slegs 30 mense die optog bygewoon.

Volgens Russell Adonis, een van die organiseerders van die optogte en lid van die Idasvallei-komitee, is dit teleurstellend dat slegs enkele persone die onlangse gemeenskapsoptog wat op 1 Oktober plaasgevind het, bygewoon het. FOTO: Keziah Bailey

Gemeenskapsondersteuning

“Dit is belangrik vir mense om die optogte by te woon sodat ons die misdaad wat tans ’n pandemie in Idasvallei geword het, kan hokslaan,” het Heneke gesê. 

Volgens Heneke is dit die enigste manier hoe die gemeenskap die misdaad in Idasvallei kan beveg. 

“’n [Mens] kan ’n ding begin, maar as jy dit nie deurvoer nie, dan het jy gefaal in jou taak,” het Adonis gesê. 

Dié optogte is is juis daar om vir misdadigers te wys “ons weet van julle”, het Heneke gesê.

Volgens Stephanie Heneke, voorsitter van die Idasvallei-komitee en organiseerder van die optogte wat in Idasvallei plaagevind het, is gemeenskapsbetrokkenheid by die optogte belangrik sodat skuldiges weet dat lede van die gemeenskap bewus is van die misdaad wat plaasvind. STEMGREEP: Keziah Bailey

Konflik dalk iets goeds

Tydens die optog het daar ’n verbale konfrontasie onder inwoners uitgebreek, volgens Heneke, omdat sommige persone nie die teenstand vanaf die gemeenskap wil hê nie.

“Dit was Doom wat ons gespyt het en die vlieë het almal uitgekom,” het Heneke gesê. Volgens Heneke was die konfrontasie “’n goeie ding”, aangesien dit beteken dat inwoners die persone wat kwaad doen, steur. 

Vordering is wel gemaak

Mildred Gordon, ’n inwoner van Idasvallei, het beide optogte bygewoon aangesien daar oor die laaste paar jaar al meer as ses keer by haar woning ingebreek is, het sy aan SMF News gesê. 

Gordon is van mening dat die optogte suksesvol was aangesien twee persone al vasgetrek is sedert die gemeenskap met optogte begin het. 

“Elke optog was sover ’n sukses,” het Mildred Gordon gesê. Gordon is een van die inwoners van Idasvallei wat op 1 Oktober ’n gemeenskapsoptog teen misdaad bygewoon het. Sy sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens staan die gemeenskap by met elke optog. FOTO: Keziah Bailey

Alhoewel van die gemeenskapslede nie die optogte bywoon nie, help hulle steeds in ander maniere om die kwessie te bekamp deur middel van WhatsApp-boodskappe, het sy gesê. 
Die twee verdagtes wat sedertdien vasgetrek is, verskyn onderskeidelik op 10 en 26 Oktober in die plaaslike landdroshof, volgens Adonis.

, ,