US-student tydens data-insameling in Idasvallei beroof

’n Honneurs-geografiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch (US), Madelyn de Jager, en haar stiefpa, Dennis Boyes, is op 14 Augustus in Idasvallei met ’n mes aangeval en beroof. De Jager het die voorval aan SMF News bevestig.

Die insident het omstreeks 14:00 die middag plaasgevind, het De Jager gesê.

Boyes is teen ’n muur vasgedruk en in die arm gesteek, het hy gesê. 

Volgens De Jager het die aanvallers haar beursie, selfoon en notaboek met al haar navorsingsdata gesteel. 

’n Student van die Universiteit van Stellenbosch (US), Madelyn de Jager, is onlangs in Idasvallei aangeval terwyl sy besig was om data in te samel vir ’n projek. FOTO: Liza-May Pieters

Die verloop van die dag

De Jager en Boyes het omstreeks 10:50 in Idasvallei aangekom om foto’s te neem vir haar navorsingsprojek. Sy het egter dadelik haar selfoon gebêre nadat sy die foto’s geneem het. Hulle het vir ure sonder enige probleme rondgeloop, volgens De Jager. 

De Jager doen navorsing oor die impak wat onlangse uitbreiding in Idasvallei het op die buurt, het sy gesê. 

Toe De Jager en Boyes in Lindleystraat aangekom het, het die eerste aanvaller De Jager gegryp en ’n mes uitgehaal, het Boyes verduidelik.

“Een van die manne het ’n mes se punt in my nek gedruk en [gesê]:  ‘Gee my alles wat jy het.’ Ek het eers agtergekom dat daar ’n mes teen my nek was toe ek sien dat [die aanvallers] my stiefpa teen die muur stamp en daar vasdruk,” het De Jager gesê.

Gevolglik het De Jager dadelik begin skree om die aanvallers af te skrik. Daarna het die aanvallers vir Boyes in die arm gesteek voor hulle haar besittings gegryp en weggehardloop het, volgens De Jager. 

Daar is ’n saak van diefstal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stellenbosch aanhanging gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Dit is volgens Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die SAPD in Stellenbosch.

’n Honneurs-geografiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch (US), Madelyn de Jager, is in Lindleystraat in Idasvallei aangeval en beroof, het sy gesê. Kaart: Google Maps.

Gemeenskapsveiligheid

“Dit is skokkend dat jy iets doen vir jou graad en dan word jy beloon met ’n berowing,” het De Jager gesê.

De Jager hoop vir beter veiligheid in die gemeenskap en is dankbaar vir al die Idasvallei-gemeenskapslede wat hulle na die aanval gehelp het, het sy gesê.

, ,