Volgens hortoloog dr. Ernst van Jaarsveld is plante en mense baie dieselfde. Ná meer as 50 jaar se werk en navorsing in die velde van suidelike Afrika, meen hy dat mens en plant deur swaarkry gebrei word. En dat wat ons uiteindelik sien die “mooi eindprodukte” is.
’n Handvol gruis uit die Hantam –
My liewe, lekker Hantam-wyk!
’n Handvol gruis en gedroogde blare,
Waboom-blare, ghnarrabos-blare!
Arm was ek gister, en nou is ek ryk.
– Uittreksel van “’n Handvol gruis” deur C. Louis Leipoldt op ’n gedenkplaat in Babylonstoren se Tuin van die San, wat deur dr. Ernst van Jaarsveld gevestig is.

Dr. Ernst van Jaarsveld was vir 39 jaar verbonde aan die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, waar hy ’n siertuinboukundige en navorser was. Hy is sedert 2015 ’n siertuinboukundige by die Babylonstoren-landgoed buite die Paarl, waar hy die vetplant-huis onderhou. FOTO: Hélène Wessels
In die groen weivelde van Babylonstoren lê daar ’n dorsland.
Hier binne verdwyn die simmetriese, weelderige vrugteboorde waarvoor die landgoed, geleë tussen Stellenbosch en die Paarl, bekend is. In die plek van ’n groentetuin en boslelies sit daar ghnarrabos, blou-aalwyn en olifantsvoet. Waar gras sou kon wees, is Malmesbury-skalie soos manna gestrooi.
Hierdie is Die Tuin van die San, een van die menigte siertuine wat deur die gesoute navorser en hortoloog, dr. Ernst van Jaarsveld, op Babylonstoren geskep is.
Alhoewel hy sopas navorsing oor die spekboom se genoom in die vaktydskrif, Nature, gepubliseer het, lyk Ernst allermins soos ’n akademikus. Vandag dra hy sy gewone Babylonstoren tuinwerksdrag: Stewige leerstewels en langmoutrui, breërandhoed op die kop. Daar is moddervlekke op sy kakiebroek.
Terwyl hy langs een van sy nuwe vetplantsiertuine se paadjies stap, wys hy elke tweede plant uit. Hy sê eers hulle algemene naam, dan hulle wetenskaplike naam; en identifiseer hulle sommer tot op subspesie-vlak.

In Februarie 2026 het siertuinboukundige dr. Ernst van Jaarsveld ’n nuwe vetplanttuin op Babylonstoren voltooi. Dié tuin bevat ses segmente wat elkeen verskillende biome binne Suid-Afrika verteenwoordig. FOTO: Hélène Wessels
Hierdie prestasie van geheue is ’n uitsondering selfs in plantkundekringe, waar kollegas Ernst se kennis van die inheemse flora van suiderlike Afrika as “buitengewoon breedvoerig” beskryf.
“Een van die eerste opdragte in die Bybel is mos om die plante hulle name te gee,” sê Ernst voordat hy verder stap.
En Ernst gee steeds vir hulle name, soos die kranswonende Tylecodon ectypus, wat hy in 2021 in die Skaaprivierspoort ontdek en benoem het.
Die ‘kind van die natuur’
Ernst se eerste interaksies met plante was in sy ouma se woonstel in Johannesburg, waar hy haar gehelp het om plante soos vrouhaarsvaring en wandelende jood te kweek.
“Dit was so wonderlik om die goed te sien groei,” dink hy terug. “Ek is gestimuleer deur my ouma.”
Hy onthou ook hoe hy as jong seun homself verwonder het aan die vetplante, aalwyne en akasias wat in die grasveld langs hulle huis in Randburg gegroei het. Hierdie verwondering het egter in verdriet verander toe die veld tydens sy hoërskooldae skoongemaak is om plek te maak vir Australiese en Europese plantegroei.
“Ek kon dit nie verstaan nie,” sê hy. “Ek het dit toe my lewenstaak gemaak: Een dag as ek begin werk gaan ek vir mense leer om ons eie flora te groei.”

Op 73-jarige ouderdom gaan dr. Ernst van Jaarsveld steeds op ekspedisies regoor suidelike Afrika op soek na nuwe en interessante inheemse vetplantspesies. FOTO: Verskaf/Tiaan Combrink
Ná skool het Ernst siertuinbou aan die destydse Pretoria Technikon studeer. Gedurende hierdie tyd is hy deur sy oud-klasmaats as ’n ‘kind van die natuur’ beskryf.
“Hy het elke plant en boom geken en het die plantname in ons koppe ingeboor,” skryf Peter Kruger in ’n Junie 2017-uitgawe van Veld & Flora. Ernst sou ook dikwels kaalvoet by die klas opdaag. “Ernst was, en ís nog waarskynlik, heel gemaklik om kaalvoet in die bos rond te loop.”
Ernst se eerste werk was by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin (NBT) in Mbombela. “Ek het geweet dat ek vir die Nasionale Botaniese Tuin wou werk, want hulle het gefokus net op Suid-Afrikaanse plante,” sê hy.
Ernst se unieke passie en kennis van vetplante het egter die destydse direkteur van die NBT, professor Brian Rycroft, só beïndruk dat hy hom ná slegs twee jaar die posisie van siertuinboukundige by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin aangebied het. Hier sou Ernst vir net minder as 40 jaar, tot en met sy aftrede in 2015, werk.
‘Gebrei deur swaarkry’
Toe Anthony Hitchcock by Kirstenbosch in 1983 begin werk het, was Ernst reeds ’n “legende in tuinboukringe van die Botaniese Tuine”. Só skryf Hitchcock in ’n artikel wat in September 2017 in Veld & Flora verskyn het. “Die Kirstenbosch-tuin was versier met die resultate van honderde van [Ernst se] versamelings.”
Hierdie versamelings kan vandag nog in die Kirstenbosch-tuine gesien word. Die arboretum, wat vandag die bekende boomslang-wandellaan huisves, het begin as ’n verskeidenheid bome en struike wat Ernst in die 1980’s geplant het.
“Die embrio van ’n arboretum was dus deur Ernst gevestig en ons het gewag om te sien wat sou gebeur,” skryf Hitchcock, “maar ons hoef nie bekommerd te gewees het nie.”
Gedurende sy tyd by Kirstenbosch, het Ernst sy plantekennis wyd en syd gedeel: van sy 2010-tuinmaakboek, Waterwise Gardening, tot sy rubriek, Vra vir Ernst, wat tot en met 2024 weekliks in Die Burger verskyn het.

Daar is ongeveer 3 500 imheemse vetplante in die vetplant-huis op die Stellenbosse landgoed Babylonstoren. Elk van hierdie plante is geplant in sy unieke kleipotjie en word versorg deur die botanis en siertuinboukundige, dr. Ernst van Jaarsveld. FOTO: Hélène Wessels
Tydens die honderde ekspedisies wat Ernst gedurende sy loopbaan aangepak het, het dit vir hom opvallend geraak hoe baie ’n mens geestelik by plante kan leer.
“Vetplante word gebrei deur swaarkry. En wat ons sien is daai mooi eindprodukte,” sê Ernst.
Hy beklemtoon weereens die belangrikheid dat Suid-Afrikaners ons inheemse flora moet koester en ondersteun.
“As toeriste Suid-Afrika toe kom, wil hulle graag iets sien wat tipies van Suid-Afrika is.”
‘Arm was ek gister, en nou is ek ryk’
Dit is heel waarskynlik om hierdie rede dat Koos Bekker, eienaar van Babylonstoren en voormalige uitvoerende hoof van Naspers, in 2015 vir Ernst genader het om by Babylonstoren aan te sluit.
“Almal in die plantewêreld weet wie Ernst is,” sê Tiaan Combrink, Babylonstoren-hortoloog en -kollega. “Ek dink nie daar is baie mense wat soveel veldwerk- en plantekennis soos hy het nie.”
Cornell Beukes, een van Ernst (of eerder Oom Ernst, soos baie van sy Babylonstoren-kollegas hom noem) se naaste kollegas, beaam dit: “Dis ’n voorreg om saam met hom te werk. Hy wys die wêreld vir my.”
In 2016 het Ernst begin om plante vir die vetplant-huis te versamel. Vandag is daar altesaam 3 500 vetplantjies, van verskeie streke regoor Suid-Afrika. Elkeen is in unieke kleipotte geplant en staan in die lang, opelugsaal by Babylonstoren.
Kort hierna het hy die Tuin van die San gevestig, wat uiteindelik die inspirasie sou word vir die vetplant-landskap wat Babylonstoren, in samewerking met sy Engelse susterlandgoed, The Newt, in 2025 by die Chelsea-blommeskou in Engeland sou voorlê.
Ernst se instruksie van Bekker was om “iets dramaties” te doen.

In Mei 2025 het dr. Ernst van Jaarsveld en sy twee kollegas, Cornell Beukes en Tiaan Combrink, ’n vetplant-uitstalling by die Chelsea-blommeskou in Londen voorgelê. Hierdie was ’n gesamentlike projek tussen Babylonstoren en sy susterlandgoed, The Newt, wat in Somerset, Engeland geleë is. FOTO: Verskaf/Tiaan Combrink
“Hy wou mense wys dat Suid-Afrika baie meer as net Kaapstad en die Kruger-wildtuin is,” sê Ernst, en beduie na die kokerbome by die paadjie af. “Toe besluit ons om hulle te gebruik as basis.”
Om plante oorsee te neem is nie so eenvoudig as wat mens dink nie. Sommer ’n jaar voor die skou moes beplanning begin.
“Ons moes al die fitosanitêre wette volg. Die plante moes skoongemaak word, geweeg word en verpak word. Klippe moes verskeep word.”
Selfs al het sommige van die vetplante in die Londense koue effens beskadig net nadat hulle in Engeland aangeland het, was die kokerboom-landskap ’n groot sukses. Soveel so dat Ernst en sy span gevra is om ’n soortgelyke uitstalling vir die G20-leiersberaad te skep.

Tydens die G20-leiersberaad is dr. Ernst van Jaarsveld en sy span hortoloë by Babylonstoren gevra om ’n kokerboom-uitstalling te skep. Die boom, hier in die agtergrond tydens ’n aanbieding deur president Cyril Ramaphosa, word gesien as ’n simbool van hoop selfs na ’n tydperk van teëspoed. FOTO: Verskaf/Tiaan Combrink
Volgens Tiaan was die gebruik van ’n kokerboom vir hierdie uitstalling uiters van pas. “Die kokerboom groei in die moeilikste omgewing – droë, warm klimate,” verduidelik hy. “Maar aan die einde van die seisoen, dan blom hy steeds.”
