Janeke van der Walt, ’n jong ontwerper van Stellenbosch, se klere handelsmerk, Janeke Luxueuse, gaan vanjaar by die New York Modeweek op die loopplank pryk. Sy het met SMF News se Celeste Rabie gesels oor hierdie bloedjong handelsmerk, en haar loopbaan in die mededingende mode-bedryf.
Janeke van der Walt was skaars klaar met skool toe sy in 2024 daaraan begin dink het om haar eie klere-handelsmerk te begin.
Dit was nie lank voordat sy met arms vol lap en haar ontwerpe by ’n CMT (die bedryf se naam vir ’n fabriek wat die sny, maak en afwerk, oftewel die cut, make, trim, behartig) opgedaag het nie.

Stellenbosse ontwerper Janeke van der Walt het in 2024 haar Janeke Luxueuse-handelsmerk bekendgestel. Die rol JL-lap het ’n kenmerk van haar handelsmerk geword. FOTO: Celeste Rabie
Janeke (nou 21), het in 2023 met haar eerste jaar by Elizabeth Galloway Academy of Fashion begin, en in 2025 ’n diploma in mode-ontwerp verwerf.
Dit was tydens haar eerste jaar wat sy haar styl, “tydlose elegansie”, soos sy dit beskryf, ontdek het.
Dit is tóé dat Janeke agtergekom het dat dit vir haar moeilik is om klere wat haar styl pas, in die winkels te vind.
Janeke wou klere dra wat “professioneel, maar nie koekerig” lyk nie en steeds “sexy” is.
“Ek kan nie myself uitbeeld [as die persoon wat] ek wil wees nie,” sê sy. “Want die klere wat ek dra, gee nie vir my daardie selfvertroue nie.”
Sy het erken dat daar ’n gaping in die mark is en besef: “Dis nou die tyd.”

Die ontwerper Janeke van der Walt glo sy het haar werksetiek en begeerte om besig te bly, by haar ma geërf. FOTO: Celeste Rabie
Janeke was in haar tweedejaar toe sy haar handelsmerk, Janeke Luxueuse, begin het.
Van die begin af het haar ma, Elsa Kruger, ’n groot rol in haar besigheid gespeel. Janeke sien haar ma ook as die inspirasie vir die klerestyl wat sy in haar handelsmerk gebruik.
“Hierdie kom van kleins af. Hoe ek na my ma gekyk het; die gevoel wat ek gekry het toe ek haar sien in haar werksklere, haar at-home-klere… As ons iewers uitgegaan het, het sy altyd beautiful gelyk.”
Janeke onthou dat sy die respek wat mense vir haar ma gehad het, kon sien. Sy wou daardie selfde respek hê.
“As ons iewers uitgegaan het, het sy altyd beautiful gelyk.”
“Ek het haar ten volle ondersteun,” sê Elsa met verwysing na die ontwikkeling van die klere-handelsmerk. “Dis vir my lekker om te sien hoe sy ontwikkel en hoe sy groei en hoe sy geniet wat sy doen.”

Die jong plaaslike ontwerper, Janeke van der Walt, het aanvanklik gesukkel het met die produksie-proses, maar het intussen baie uit haar foute geleer. FOTO: Celeste Rabie
Met ’n rok in die lusernlande
Janeke is gebore op ’n plaas naby Sunland, ’n dorpie in die distrik rondom Addo Olifantpark in die Oos-Kaap. Sy was oorspronklik in ’n plaaslike skool in die kontrei, maar het later geskuif na ’n privaatskool, Hermitage House, wat deur die boere in die omgewing gestig is.
Sy is as kind reeds deur haar ouers aan die besigheidswêreld blootgestel. Elsa vertel hoe Janeke altyd heel vriendelik sou help met haar ma se werk, net om dan vir vergoeding te vra na die tyd.
“Ek het met rose geboer en sy sou ’n roos pluk en dan bring sy hom vir my. Dan sê sy ek skuld haar R50,” sê Elsa.
“Janeke was van kleins af een wat ’n mooi rokkie kon raaksien en waardeer en wou hom dra, al was dit in die lusernlande,” het Elsa vertel.
Janeke was sewe toe die gesin se plaashuis afgebrand het. Op daardie stadium was haar ouers ook besig om te skei.
“Dit was net ek en my ma,” sê Janeke.
Sy en haar ma het Stellenbosch toe getrek toe Janeke tien was, en sy het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Stellenbosch voortgesit.
“Ek het ’n nuwe lewe hier begin,” vertel sy.
Aan die begin van haar graad 8-jaar by Hoër Meisieskool Bloemhof, is Janeke se pa oorlede. “Daar is ’n hele lewe wat half weggeruk [is],” sê sy.
Sy moes die realiteit van die lewe vinnig leer ken, maar sy glo dat dit juis die rede is waarom sy so standvastig in haar geloof is.
“Ons het gesien hoe die Here ons gelei het uit ’n baie slegte plek na hierdie paradys wat ons hier in Stellenbosch gevind het,” het Janeke gesê.
Dit is in die gene
“Dit was moeilik vir my om te besluit in watter rigting ek wou gaan,” sê sy.
Janeke het op skool Boland-kleure in tennis verwerf, en het dit oorweeg om ’n internasionale tennisspeler te word. Sy het egter gou besef dat dit nie die regte rigting vir haar sou wees nie.
“Ek het uitgevind ek hou nie daarvan om gedruk te word [om te wen] nie,” vertel sy.

Die 21-jarige ontwerper Janeke van der Walt is dol oor wollerige baadjies en het dit ’n groot deel van haar wintersreeks gemaak. FOTO: Celeste Rabie
“Fashion het toe baie vinnig na my toe gekom,” het sy gesê. Mode is in haar gene; haar oupa en haar tannie aan haar ma se kant was albei in die modebedryf. Haar ouma geniet ook naaldwerk en Janeke vertel hoe sy kleintyd by haar ouma gesit het terwyl sy gestik het.
“Dit was een van daai vintage masjiene wat jy met die hand moes rol,” vertel sy.
“Die fast-paced environment [van die modebedryf] is definitief waar ek wil wees,” sê Janeke. “Ek hou daarvan om besig te bly.”
Janeke Luxueuese in New York en Parys
Sedert die bekendstelling van haar Première Collection aan die einde van 2024 – onder die Janeke Luxueuse-handelsmerk, het sy nóg drie reekse bekendgestel; ’n winters-, ontspannings- en couture-reeks.
In haar derde jaar as student, is haar klere-reeks ingesluit in die Flying Solo-katalogus. Flying Solo is ’n openbare betrekkinge-maatskappy gebaseer in New York wat jong ontwerpers ondersteun.
“Die fast-paced environment [van die modebedryf] is definitief waar ek wil wees.”
Dit het die baan vir haar loopbaan verder geweg.
Janeke Luxueuse is aanvanklik met een stikster, Nazly Baron, begin. “Ek voel baie proud,” sê Nazly oor die sukses wat die handelsmerk intussen bereik het. Nazly werk steeds by Janeke Luxueuse, maar nadat sy deur Flying Solo geteken is, is twee ander stiksters is intussen ook voltyds aangestel.

Ontwerper Janeke van der Walt met een van die items uit haar couture-reeks wat eersdaags by die New York Modeweek te siene sal wees. FOTO: Celeste Rabie
Die ooreenkoms het aan Janeke internasionale blootstelling besorg. Aan die einde van 2025 is sy en haar suster, Pauline, Parys toe met voorraad om in die Flying Solo-boutique uit te stal.
Haar ontwerpe is ook al deur stiliste vir tydskrifte soos Scorpio en ELLE Baltic gebruik.
Vanjaar kan Janeke Luxueuese gesien op die loopplank by die New York Modeweek. Volgende jaar volg die Milanse modeweek.
“Dit is nogals ’n groot mylpaal,” sê sy. “Ook een wat ek nie gedink het so vinnig gaan gebeur nie.”
