’n Derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat vroeër vandeesmaand oorlede is na ’n ongeluk buite Langebaan, sal deur haar koshuisvriende onthou word vir haar warm persoonlikheid en entoesiasme.

Storm Roux,’n derdejaar-regstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), is op 7 Julie oorlede nadat sy in ’n motorongeluk was. FOTO: Verskaf/ Michele Roux
Dít is volgens Riana Engelbrecht, inwonende hoof van die US se Irene Dameskoshuis waar die oorledene, Storm Roux, die laaste drie jaar tuisgegaan het.
’n Gedenkdiens ter ere van Roux is op 28 Julie deur dié koshuis op gehou.
“Sy het [die] vermoë gehad om mense ingesluit te laat voel en dit het positief tot [die Irene]-gemeenskap bygedra,” het Engelbrecht gesê.

’n Gedenkbank ter ere van oorlede Storm Roux, ’n derdejaarstudent wat vroeg in Julie oorlede is, is by Universiteit Stellenbosch se Irene Dameskoshuis opgerig. FOTO: Krotoa Felix
Volgens Michelé Roux, Storm se ma, het dié ongeluk plaasgevind toe Roux saam met ’n vriend en familielid op pad was na Langebaan, waar hulle die res van hul familielede sou ontmoet vir vakansie.
In ’n polisieverklaring, wat op 27 Junie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op Langebaan uitgereik is, was dit mistig toe ’n Nissan-bakkie en ’n Volkswagen Polo, die motor waarin Roux-hulle was, gebots het.
“Geen botsingskets is geteken [nie,] aangesien dit baie mistig was en voertuie reeds verskuif was op die toneel,” het die verklaring gelui.
Volgens die verklaring, is die bestuurder van die Nissan-bakkie met ernstige kopbeserings na die provinsiale hospitaal op Vredenburg geneem, en Roux na Vredenburg se Life-hospitaal.
Roux is op 7 Julie in die Groote Schuur-hospitaal oorlede, het sersant Xolile Nkonyane, van die Woodstock SAPD gesê.

Inwoners van die Universiteit Stellenbosch se Irene Dameskoshuis het op 28 Julie ’n gedenkdiens gehou om die lewe van Storm Roux, ’n inwoner wat op 7 Julie ná ’n motorongeluk oorlede is, te vier. FOTO: Krotoa Felix
Roux is oorsponklik van die Paarl en word as rolmodel beskryf deur haar vriende.
“Sy het geglo in my en al my suksesse saam met my gevier,” het Danika Martin, een van Roux se vriendinne gesê.

Storm Roux, wat op 7 Julie oorlede is na ’n motorongeluk buite Langebaan, het sedert 2024 regte aan Universiteit Stellenbosch studeer. FOTO: Krotoa Felix
Michelé onthou haar dogter as ’n hardwerkende kind.
“Sy was iemand wat gestrewe het vir sukses, in haar akademie en sport,” het Michelé gesê.
Sy beskryf die tyd van rou as een van die moeilikste dinge waardeur sy as ma al moes gaan.
“Ek sal enige iets doen om haar lag weer te hoor of om haar in my arms te hou,” het Michelé gesê.
