Die wêreld van Afrikaanse digkuns, poësie en prosa is vir baie mense ’n onbekende ruimte. Maar vir Pieter Krog, ’n 21-jarige digter van Somerset-Wes, is hierdie eenvoudig die wêreld waarin hy grootgeword het. Hy het met SMF News se Nerine Pienaar gesels oor sy digkuns.
Op Vrydagmiddae is Bohemia, ’n restaurant en kroeg op die hoek van Andringa- en Victoriastraat in Stellenbosch, in alle opsigte bedrywig. Voertuie probeer uit die dorp ontsnap, en studente stap haastig verby om die naweek te vang.
In die hoek van die restaurant sit ’n jong man met ’n yskoue Windhoek Lager in die hand. Dié man is Pieter Krog wat onlangs, op 21-jarige ouderdom, sy digkuns in klankvorm gepubliseer het.

Die digter Pieter Krog, sit by Bohemia, een van sy gunsteling-kuierplekke in Stellenbosch. FOTO: Nerine Pienaar
Bohemia is een van Pieter, ’n student in Menslike Hulpbronbestuur aan Universiteit Stellenbosch, se gunstelingplekke om te ontspan. Hy lyk onbewus van die gedruis rondom hom. Hy vat ’n slukkie bier en vertel van sy groot liefde vir digkuns.
’n Lewe geanker in taal
Pieter is in Kroonstad gebore en het op tweejarige ouderdom saam met sy gesin na Johannesburg verhuis waar hy sy hoërskoolloopbaan by Helpmekaar Kollege voltooi het.

Die digter Pieter Krog studeer tans Menslike Hulpbronbestuur aan Stellenbosch Universiteit. FOTO: Nerine Pienaar
Hy het grootgeword in ’n familie met sterk literêre bande. Sy ouma is Dot Serfontein, en sy tante is Antjie Krog.
Pieter is egter op ’n vroeë ouderdom met disleksia gediagnoseer. Dit het met bepaalde struikelblokke gekom, sowel wat betref akademies en emosioneel.
Alhoewel lees vir hom ’n uitdaging was, was die wêreld van taal en digkuns steeds ’n groot liefde, en het dit vir hom op verskeie maniere toeganklik gebly.
Sy pa, Willem Krog, se CD vol Boerneef gedigte het byvoorbeeld as sy eerste inleiding tot poësie gedien.
Toe, op ouderdom 18, het Pieter tydens sy matriekvakansie saam met ’n vriend ’n toer deur die land onderneem. Tydens hierdie avontuur het hy diep emosies ervaar en die behoefte gehad om iets daarmee te doen.
“Toe ek terugkom toe dink ek net: ‘Ek kan nie aanhou leef as ek nie dié nóú skryf nie’,” sê hy met verwysing tot sy behoefte om daardie emosies te kan neerpen.
Digkuns as klank
Pieter praat met ’n aansteeklike energie oor sy skryfproses, en die mense wat vir hom as mentors gedien het.
Bibi Slippers, bekende digter en draaiboekskrywer, het byvoorbeeld gedurende sy tweede jaar op universiteit vir hom leiding gebied met sy manuskripte.
En met sy pa en sy tannie, Antjie Krog, se raad het hy besluit om sy digbundels as albums te publiseer.
“My konsep van poësie en digbundels was eintlik nog altyd gebind aan klank,” sê hy. As gevolg van sy disleksia wou hy graag iets produseer wat toeganklik sal wees vir ’n groter gehoor. Die skryf het egter uitdagings ingehou.
“Natuurlik, toe ek die eerste keer die manuskrip doen… spelfoute op spelfoute op spelfoute. Dis partially hoekom ek ook toe besluit het om dit na ’n album toe te skuif.”
Sy debuutalbum, Sonneblom na blou, is uiteindelik in 2026 vrygestel.

Die voorblad van Pieter Krog se debuutalbum, “Sonneblom na blou”, soos gesien op Spotify. SKERMGREEP: Spotify
Pieter het gedurende die proses verskeie mense ontmoet wat gehelp het om die opname van sy albums te laat realiseer. Kobus Erasmus, ’n Stellenbosse musikant, het al die musiek gekomponeer en die stemme opgeneem.
“My heel eerste indruk van Pieter was die ongelooflike passie wat hy uitstraal met betrekking tot sy kuns,” sê Kobus. “Dis werklik mooi om te sien en inspireer my persoonlik. Hy skryf oor relevante onderwerpe en dit is vir my super cool hoe hy ’n literêre gemeenskap in Stellenbosch bou. Ek’s baie opgewonde om te sien wat hy volgende doen!”
Eben Labuschagne speel kitaar op die album en vele ander individue het as stemakteurs opgetree.
“Wat my – toe ek vir hom [Pieter] eers ontmoet het – baie getref het, […] is die manier hoe sy eie emosies deelneem aan sy lewe en sy werk, maar op ’n baie conscious manier,” sê Eben. “Dis ’n baie rare kombinasie van eienskappe, dink ek.”

Pieter Krog en vriende in Stellenbosch tydens die opname van sy album, “Sonneblom na blou”. FOTO: Verskaf/Pieter Krog
Afrikanerskap, kultuur en die liefde
Die hooftema’s in Pieter se albums sluit in Afrikanerskap en sy eie struikelblokke binne hierdie kultuur.
“Dis nie vir of teen Afrikanerskap nie. Dis maar net my selektiewe belewenis daarbinne,” sê hy.
Ander prominente tema’s sluit in reis en naïwiteit: die tydelikheid daarvan en hoe dit verander soos jy ouer word.

Pieter Krog se debuutalbum, Sonneblom na blou, bevat gedigte wat in klankvorm aangebied word. SKERMGREEP: Spotify
“Jy dink jy gaan vryheid vind [op reis] en dan soms vind jy nie,” sê hy.
Hy praat van die tydelikheid van liefde en die dinge wat dit kompliseer. Hy vat ’n slukkie van sy bier.
“Lewe gebeur, en hoe tydelik dit [liefde] mag voel… wat doen jy dan met die gevoelens wat oorbly?” vra hy.
Pieter het intussen Bohemia se populêre hoenderrepies bestel. Hy kan vir ure hier sit en praat oor die dinge wat sy hart laat vinniger klop.
Soos die dinge en mense wat hom inspireer – een van hulle sy ouma.
“My Ouma was Dot Serfontein. Sy was ook ’n goeie skrywer in haar tyd,” vertel hy.
Sy pa het baie van haar werk vir hom voorgelees toe hy ’n kind was. Op hoërskool het sy ouma se werk vir hom hoop en inspirasie gebring toe hy met sekere areas rakende identiteit gesukkel het.
“Dit het ongelooflik baie inspirasie gebied van, jy weet… Ek is nie die eerste mens in ’n familie wat hiermee sukkel nie.”
Hy sê dat dit hom die waarde van sy ouma se werk laat besef het en daar het hy besluit dat hy ook op so ’n manier iets vir iemand wil beteken.
Die kroeg het intussen volgeloop met studente wat kom stoom afblaas na die week van werk en leer in Stellenbosch. Pieter kom by ’n belangrike vraag: Watter boodskap wil hy deur sý werk aan mense oordra? Hy vat nog ’n slukkie van sy bier.
“Ek het baie gedink aan my jonger self, en [die album] half met die idee geskryf dat as ek […] gehoor het dat mense hiermee sukkel, sou ek net soveel meer gerus gewees het oor ’n klomp goed in my lewe,” sê hy.
Pieter neem die laaste sluk bier in sy bottel.
Hy raak vir ’n oomblik stil.
“Ek dink wat ek wil oordra, is: Wat doen jy met die pyn en hoe leer jy daaruit sonder dat dit jou doodmaak? Jy moet nooit dele van jouself doodmaak nie. Jy moet dit vat, en daaroor struikel, en daarmee werk.”
