Adam Small-fees: Tyd om betrokke te raak by Kaaps

‘n Rekordgetal feesgangers het vanjaar die Adam Small-fees in Pniël bygewoon. Dit is volgens Janine Myburgh, ’n organiseerder van die fees. Digters, skrywers en akademici het deelgeneem aan hierdie fees wat die laaste naweek van Februarie in die Pniël Museum en die Gemeentelike Kerk aangebied is. 

Ongeveer 380 bywoners by die fees teenwoordig, volgens Myburgh.  

“Kultuur- en boekfeeste bring mense bymekaar,” het Grant Jefthas, spreker en digter van die boek Afvlerkmens, tydens die fees gesê.  “Mense met ’n gedeelde passie vir kuns en kultuur… dis ’n bousteen vir ’n gesonde Suid-Afrika,” het hy bygevoeg. 

Toeskouers luister aandagtig na een van vele toesprake oor Kaapse Afrikaans, ook bekend as Afrikaaps. FOTO: Mia van der Merwe

Studente en gemeenskap se betrokkenheid

Jefthas het gesê dit is belangrik dat studente en die res van die gemeenskap betrokke raak by die meedeling van Kaapse Afrikaanse literatuur.

Ek wil hê dat studente meer moet lees. Nie net handboeke nie, maar ander literatuur…Volunteer! Gee van jou tyd en raak betrokke by die Woordfees, ATKV, ensovoorts!” het Jefthas gesê.

Die Adam Small-fees het vanjaar ’n rekordgetal besoekers gelok, het Janine Myburgh, een van die organiseerders van dié fees, gesê. FOTO: Mia van der Merwe

Fokus op die positiewe

Kultureel verrykende ervarings wat lei tot die skepping van woordkuns-publikasies soos dié van Ashwin Arendse se digbundel Swatland, word te min in positiewe gesprekke bespreek, het Myburgh gesê. Daar word te veel gefokus op die negatiewe, het Myburgh bygevoeg.

Swatland is ’n digbundel wat in Kaaps geskryf is. Dit is nie ’n digbundel wat “’n droom verkoop nie, want dit is nie altyd wat dit seem van buite af nie”, het Arendse tydens die fees gesê. Hy het bygevoeg dat hy oor sy ervaringe as ’n bruin Matie-student en slagoffer van rassisme geskryf het.

“Dis my experience en my process. Ek skryf nie vir ‘n reaction van ’n reader af nie,” het Arendse gesê. 

Die Stellenbosch-gemeenskap moet oop gesprekke hê met mekaar en nie hul ervarings slegs in ’n negatiewe lig bespreek nie, maar ook oplossings en verligting bring aan mense wat met dieselfde probleme sukkel, het Myburgh gesê.

“Kom terug en vertel jou storie en deel dit met die studente, maar bied aan hoe om ongemaklike ervarings beter te maak,” het Myburgh bygevoeg, in reaksie op Arendse se aanbieding by die fees.

Ashwin Arendse hou sy digbundel Swatland vas. Arendse het tydens die Adam Small-fees gedigte voorgelees uit hierdie bundel, en gesels oor sy digkuns. “​​Voor ek iets kan skryf wat iets vir iemand anders beteken, moet dit eers iets vir my beteken,” het Arendse gesê. FOTO: Mia van der Merwe