Adam Small-fees: Sy invloed leef voort

Vanjaar se Adam Small-fees het weereens die nalatenskap van die ikoniese Afrikaanse digter, skrywer en aktivis, Adam Small, herdenk. Die fees het vanaf 24 tot 26 Februarie by die Pniёl Museum en Gemeentelike Kerk plaasgevind en is deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) aangebied, het Janine Myburgh, die voorsitter van die PEKT en mede-organiseerder van die fees, gesê.

Talle skrywers en digters het aan gesprekke by die fees deelgeneem. 

Die Afrikaanse digter Adam Small se werk en lewe is gevier tydens die onlangse Adam Small-fees in Pniёl. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Hernude belangstelling

Dit is duidelik dat Small ’n nuwe generasie skrywers geïnspireer het om te skryf, het Myburgh gesê. Dit was met verwysing tot die oplewing van Kaapse Afrikaans.

“[Nou] herleef sy werke weer deur hulle,” het Myburgh tydens een van die gespreksgeleenthede by dié fees gesê. Sy het verwys na jonger skrywers. “Hulle skryf nou hulle stories in Afrikaaps en voel vry om dit te doen.”

Prof. Darryl David, stigter, mede-organiseerder en programleier van die Adam Small-fees, het gesê dat hy jaarliks verras word met die publiek se belangstelling in die fees.

“Uit hierdie fees groei al hierdie belangrike debatte aangaande poësie, in die letterkunde en Afrikaans, en vir my, dink ek, gaan hierdie fees binne ’n paar jaar een van die mees gevestigde feeste in die land wees,” het David gesê.

Vanjaar se Adam Small-fees het vanaf 24 tot 26 Februarie by die Pniёl Museum en Gemeentelike Kerk plaasgevind en is deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) aangebied. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Invloed op die toekoms

’n Gedenklesing ter ere van Adam Small is deur prof. Quentin Williams, direkteur van die Sentrum vir Veeltaligheid en Diversiteitsnavorsing by die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK), aangebied.

“Meer van Adam Small se geskrewe werke moet in skole voorgestel word,” het Williams gesê. “Veral die kinders in die Afrikaanse klasse […] ’n woordelys is nie goed genoeg nie,” het Williams genoem.

In sy toespraak het hy oor vele onderwerpe gepraat, onder meer die moontlikheid van ’n drietalige woordeboek wat Engels, Afrikaans en Afrikaaps sou bevat. Dit sal help om ’n “kulturele toegang” te gee aan Kaapse Afrikaans, volgens Williams.

Adam Small het onder meer ’n groot invloed gehad op moderne hip-hop in Kaapse Afrikaans, het prof. Quentin Williams, direkteur van die Sentrum vir Veeltaligheid en Diversiteitsnavorsing by die Universiteit van die Wes-Kaapland, gesê. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

, , , , , ,