Maties-atletiekspan mik hoog dié seisoen

Die Maties-atletiekspan het altesaam 18 goue medaljes verower by die onlangse Boland Senior Kampioenskappe. Die kampioenskappe is op 3 en 4 Maart by die Coetzenburg-atletiekestadion in Stellenbosch gehou om die span te bepaal wat Boland by die Atletiek Suid-Afrika (ASA) Nasionale Senior Kampioenskappe sal verteenwoordig. Dit is volgens resultate wat op Boland Atletiek se amptelike webtuiste geplaas is. 

Die nasionale kampioenskappe word op 30 Maart tot 1 April aangebied. Dit is volgens Atletiek Suid-Afrika se amptelike webtuiste.

Toeskouers woon die hoogspring-item by tydens die Boland Senior Kampioenskappe vroeër vandeesmaand. FOTO: Keziah Bailey

Volgens Maurice Fisher, hoofafrigter van Maties Atletiek, is die hooffokus nou om die studente-atlete te ondersteun sodat hulle tot die beste van hul vermoëns kan presteer by die onderskeie nasionale kampioenskappe. Fisher is ook tevrede met die atlete se prestasies tydens die Boland-byeenkoms. “Dit is nog vroeg en hulle het sowat nege weke – sedert die Boland Kampioenskappe plaasgevind het – tot ons die hoogtepunt van die plaaslike seisoen bereik,” het hy aan MatieMedia gesê.

Die Boland Senior Kampioenskappe is vroeër vandeesmaand by die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch aangebied. FOTO: Keziah Bailey

Atlete fokus nou op res van seisoen 

Tristan Farao, wat tans sy nagraadse onderwyssertifikaat by Maties voltooi, het tydens die Boland-byeenkoms ’n goue medalje in driesprong losgespring. “Dit was my eerste kompetisie en die opening gaan my geestelik voorberei vir die res van my seisoen,” het hy aan MatieMedia gesê.

Breyton Poole, ’n hoogspringatleet wat tans sy Nagraadse Diploma in Bemarking voltooi, het daarin geslaag om sy seisoenrekord tydens die Boland-byeenkoms van 2.10m tot 2.15m te verbeter. Hy het ook met ’n goue medalje weggestap. “Verlede jaar was ek beseer en kon nie aan die  Boland Kampioenskappe deelneem nie. So, die wen was noodsaaklik vir my en het beslis my selfvertroue ’n hupstoot gegee,” het hy gesê. Poole hoop om ook ’n medalje by die ASA Nasionale Senior Kampioenskappe te verower. 

Die Maties-hoogspringatleet, Breyton Poole, het sy persoonlike rekord verbeter tydens die onlangse Boland Kampioenskappe. Hier is hy in aksie by die byeenkoms. VIDEO: Keziah Bailey

Die Maties-atleet Jason October, wat tans sy BA-graad in Geesteswetenskappe voltooi, het goud in die 110m-hekkies verower, maar het gehoop om ’n beter tyd te behaal. Volgens October het hy ’n tyd van 14.41 sekondes gehardloop, maar sy doelwit is om in die toekoms onder 14 sekondes te hardloop. 

Die ASA Nasionale Senior Kampioenskappe vind, volgens Boland Atletiek se webtuiste, vanaf 30 Maart tot 1 April in die McArthur-stadion by die Noordwes-Universiteit plaas. Die finale senior span wat kwalifiseer om aan die ASA Nasionale Senior Kampioenskappe deel te neem word op 20 Maart bekendgemaak. 

Die Maties Atletiekspan het vroeër vandeesmaand 18 goue medaljes verower by die Boland Senior Kampioenskappe. FOTO: Keziah Bailey

, , ,