Kopiereg: Beplande ‘billike gebruik’-implementering wek kommer

Die proses wat tot dusver gevolg is met die oog op die implementering van billike gebruik op outeursreg, was tot dusver uiters kommerwekkend. Só het prof. Sadulla Karjiker, die voorsitter van Intellektuele Eiendomsreg aan die Universiteit van Stellenbosch, gesê oor hierdie toevoeging tot die herskrywing van die Wet op Outeursreg (CAB). Karjiker het kommentaar gelewer tydens ’n openbare verhoor oor die CAB wat onlangs in die Stellenbosch Stadsaal gehou is. 

“[’n Mens] gaan beslis slegter af wees indien billike gebruik geïmplementeer word,” het Karjiker aan ’n kunstenaar by die gesprek gesê. 

Gys Visser, hoof van kontrakte en regte aan NB-Uitgewers, het in ’n artikel wat hy vir LitNet geskryf het verduidelik dat die beplande nuwe wetgewing op billike gebruik, oftewel “fair use”, se beginsel verskil van die “fair dealing” wat tans in Suid-Afrika gebruik word. Waar “fair dealings” volgens Visser ‘n vaste lys uitsonderings het wat buite outeursreg val, is daar nie so ’n lys vir “fair use” nie.

Musikante, skrywers, radio-omroepers, regters en navorsers het die onlangse openbare verhoor oor billike gebruik in die Stellenbosch Stadsaal bygewoon. FOTO: Stefani Terblanche

Die impak van billike gebruik

Karjiker het tydens die gesprek na ’n impakstudie rakende die implementering van billike gebruik in Suid-Afrika verwys. Dié studie is in 2017 deur die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) aangevra en deur PwC gedoen.

“Hulle voorspel onder meer ’n 33% afname in boekverkope en ’n 30% toename in werkloosheid binne die boekbedryf, sou hierdie wetsontwerp wel [amptelik] word. So ons is uiteraard baie bekommerd,” het Visser in ’n e-pos aan MatieMedia verduidelik.

Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) stem met die implementering van billike gebruik saam, het Simphiwe Kondleka, die direkteur van belangeverhoudings by dié departement, gesê. Kondleka, wat die voorlegging gelei het, het gesê dat navorsing rakende die implementering van billike gebruik daarop dui dat dit tot voordeel van mense in die skeppende bedryf kan wees.

“Dit werk baie goed en help mense in die bedryf,” het Kondleka beweer.

Nadat beide Karjiker en Visser dié navorsing aangevra het, is daar aangedui dat dit nié tans aan die publiek beskikbaar is nie. Cayla Ann Thomas Murray, die voorsitter van die staande komitee van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement, het gesê dat sy daarvoor sal aanvra. 

Na die afloop van die onlangse openbare verhoor kon diegene wat die gesprek bygewoon het, verdere gesprekke voer met Cayla Ann Thomas Murray, die voorsitter van die staande komitee van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement. FOTO: Stefani Terblanche

Positiewe reaksies

In ’n gesamentlike akademiese opinie wat Dr. Sanya Samtani, ’n senior navorser aan die Universiteit van Witwatersrand, by die gesprek gedeel het, word die toeganklikheid vir mense met gestremdhede in die CAB aangespreek. 

Volgens dié opinie sal die implementering van billike gebruik die proses vergemaklik om materiaal te vertaal om onder andere vir opvoedkundige doeleindes gebruik te word. 

Die Stellenbosch Stadsaal, waar ’n openbare verhoor oor die implementering van billike gebruik plaasgevind het. Verdere openbare verhore rakende die Wet op Outeursreg word in Maart in Darling, Hermanus en Kaapstad gehou. FOTO: Stefani Terblanche

, , , , , ,