Woordfees: ‘Ver in die wêreld Kittie’ – ’n fees vir oud en jonk

Ver in die wêreld Kittie is ’n musiekblyspel wat jou met ’n glimlag op jou gesig en ’n deuntjie in jou hart sal laat.

’n Opgewonde gehoor het Maandag 9 Oktober die Adam Small-teater gevul om David Kramer se Kanna-bekroonde teaterstuk by vanjaar se 2023 Toyota US Woordfees te sien. 

Dié blyspel handel oor Josef Marais (André Terblanché) en Rosa de Miranda (Jenny Stead) se musikale sukses oorsee in die 1950’s.

Hul sukses is egter te danke aan Koos Heuningbek (Dean Balie), aangesien hy Josef Koos se Afrikaanse volksliedjies in Engels vertaal het en só sukses behaal het. 

Die storie word vertel deur die oë van Kittie Jafta (Rushney Ferguson) wat op Josef se pa se plaas in Worcester grootgeword het, en saam met Josef die liedjies by Koos geleer het. 

Rushney Ferguson vertolk die rol van Kittie Jafta in Ver in die wêreld Kittie by die 2023 US Toyota Woordfees. FOTO: Verskaf/Woordfees

’n Musikale wonder

Nie net is die storielyn boeiend nie, maar die musikale elemente is ook wonderlik om te hoor. Die toon vir die blyspel word vooraf geskep deur die musiek van die 1950’s, onder meer “Sugarbush” wat deur Doris Day and Frankie Laine gesing word. 

Nick Turner op kitaar, Kerryn Torrance op viool en Yvan Potts op die klawerbord het by tye ’n mens laat voel asof jy in een van Kramer se albums vasgevang was. Tog was nie al die liedjies tydens die optrede “live” gespeel nie, wat effe teleurstellend was. 

André Terblanché (links) vertolk die rol van Josef Marais en Dean Balie die rol van Koos Heuningbek in die musiekteaterstuk Ver in die wêreld Kittie, wat tans te siene is by die 2023 US Toyota Woordfees. FOTO: Verskaf/Woordfees

Puik toneel

Ferguson se stem is sterk en bekorend, terwyl Balie die rol van Koos uitmuntend vertolk het. Hy het die gehoor met sy energie aangesteek en hul laat skaterlag. 

Pure genot te midde van dieper temas soos “cultural appropriation” – ’n tema wat Kramer nooit skaam is om aan te raak nie. Die effekte word duidelik in die blyspel weerspieël en bespreek sonder om ’n politiese teaterstuk te raak. 

Hierdie musiekteaterstuk is beslis ’n moet-sien vir oud en jonk by vanjaar se Woordfees, en sal jou laat wegstap met ’n versoenende glimlag.  

Ver in die wêreld Kittie kan nog te sien word by die Adam Small-teater op 12 Oktober om 20h30 en 13 Oktober 17h30.

, ,