Woordfees: Tollie Parton vir president 

Die fopdoskoningin, Tollie Parton, open haar vertoning met ’n spektakel: ’n glinsterende pienk rok met ’n voorskoot, boerewors, ’n pienk penis en twee knap speedo’s. Dit stel sommer dadelik die toon vir haar vertoning, Hoe om oor jouself te kom, by vanjaar se Toyota US Woordfees. 

Sy gesels oor allerlei goed, van wat ons trots Suid-Afrikaans maak,  tot queer mense se houding en plek binne die Afrikaanse kultuur.  

Tollie Parton, lewe gegee deur Wynand Kotze, is geïnspireer deur Patricia Lewis en Dolly Parton, wat natuurlik die blonde brandgevaar-pruik verduidelik. 

Die teks en regie is deur Nico Scheepers geskep, en die klankbaan deur Loki Rothman. 

Tollie Parton vertel rowwe grappies wat haar gehoor in trane laat in ‘Hoe om oor jouself te kom’, wat by vanjaar se Toyota US Woordfees te siene is.  FOTO: Nardus Engelbrecht

‘Trots Afrikaans’

Tydens die vertoning begin speel haar nuutste treffer, ‘Trots Afrikaans’, waartydens sy dans saam met twee jong mans in speedo’s wat versier is met die land se vlag. 

Hulle dans tussen vyf warm beligte kandelare op die verhoog, met die gaar stukke boerewors in hulle hande. 

Daar is geen subtiele elemente aan die vertoning nie, elke oomblik van die stuk is meesterlik ingebou om die gehoor te laat lag oor Afrikaner sake. 

‘Hoe om oor jouself te kom’, deur Tollie Parton, bespreek en kritiseer Afrikaanse ruimtes en hoe queer Afrikaanse mense in daardie ruimtes beweeg. FOTO: Nardus Engelbrecht

Sê dit soos dit is

Hierdie fopdosser is nie hier vir ligte praatjies nie. Sy skram glad nie weg van rowwe gesprekke nie. Dis háár vertoning, en as jy ongemaklik voel, kry jy ’n vinnige kansie om jou goed te vat en die gesprek te verlaat.

Ná praatjies van die Afrikaanse mense se sekslewe, die sex appeal  van die naam Sarel en ’n toespraak oor hoekom Tollie ons volgende president moet wees, het sy meer ernstige indirekte gesprekspunte begin. 

Tollie vra moeilike vrae oor hoe Afrikaners op die LGBTQIA+-gemeenskap reageer en vra of sy dan sal aanvaar word as sy eerder haar pruik en hakke verruil vir ’n Agrimark-pakkie en vellies? Of dit dán die ouer wit garde sal gelukkig maak?

Nee wat, hulle sal maar eenvoudig net oor hulself moet kom, meen Tollie, want daar is plek vir almal in die Afrikaanse kultuur.  

Die vertoning los jou met ’n seer maag van lag en ook dieper vrae oor hoekom die Afrikaanse mense en hul kultuur nie so verwelkomend is teenoor mense wat anders is as die konvensionele manier nie. Die vertoning is ’n moet kyk: die teks, regie, optrede en die knap speedo’s is meer as genoeg om die gehoor te oorreed dat die uur lange vertoning beslis nie ’n mors van tyd is nie.

Hoe om oor jouself te kom se laaste vertoning vind op 14 Oktober by Hoërskool Stellenbosch plaas.